Resensie: Stil gesprek: Gedigte by die foto’s van Geo Jooste deur Jan Pretorius. Naledi, 2024. ISBN: 978-1-991256-89-8
Resensent: Marlies Taljard
Stil gesprek: Gedigte by die foto’s van Geo Jooste bevat, soos die titel aandui, gedigte wat in gesprek tree met natuurfoto’s. Die bundel is pragtig op duursame papier uitgegee deur Naledi.
Die flapteks dui aan dat Geo Jooste, voormalige adjunkhoof van Sentraal Hoërskool in Bloemfontein, ’n bekende natuurfotograaf is wie se foto’s al “in vooraanstaande uitstallings en publikasies wêreldwyd opgeneem [is] en hy word erken as een van die vernaamste natuurfotograwe van sy generasie”. Dit is Jooste se foto’s wat hierdie bundel uitsonderlik maak.
Jan Pretorius was voorheen Biologie-onderwyser en is tans medeprofessor in Opvoedkunde aan die UV. Stil gesprek is sy debuutbundel.
Sowel die foto’s as die gedigte kom tot hulle reg deur hulle in die teks langs mekaar te stel: die foto telkens op die linkerblad en die gedig regs. Die groot persentasie bladwit dra by tot die esteties bevredigende geheeleffek van die werk.
Volgens die agterbladteks is die gedigte in hierdie bundel ekfrastiese gedigte geïnspireer deur die foto’s van Geo Jooste. Heel basies gestel is ekfrasme die literêre beskrywing van kuns en is dit, soos die metafoor of die simbool, ’n vorm van beeldspraak wat die ontmoeting tussen twee verskillende kunsvorme – beeldend en verbaal – representeer. Die bekendste voorbeeld van ekfrasme is beslis Homeros se uitbeelding van Achilles se skild in die Ilias waarin selfs die tegniek van die kunstenaar Hefaistos verreken word.
Ek lewer in hierdie resensie kommentaar op die gedigte as literêre artefak en nie op die foto’s van Jooste nie. Laat dit vir die leser genoeg wees as ek sê dat dit kunswerke is wat ontroer deur hulle eenvoud en helderheid en wat veral reg laat geskied aan die rykdom van Suid-Afrika se wildlewe. Dat dit bekroonde foto’s is, ly geen twyfel nie. Dit is ’n voorreg om op hierdie wyse toegang te bekom tot dié kunswerke.
Die emosionele rykdom en impak van die foto’s waarop Pretorius se ekfrastiese gedigte gebaseer is, maak dit besonder geskik vir die projek wat die digter onderneem, naamlik om dié impak in woorde te probeer omsit, om ’n dieper of addisionele dimensie aan die kunswerke te verleen, meestal deur personifikasie van die subjek van die foto. In ’n hele klompie gedigte word die dier wat op ʼn bepaalde foto vasgevang word direk aangespreek, byvoorbeeld in “Voltooid” (p. 9), “Vertwyfeling” (p. 11) en “Dapperder” (p. 49):
Liefste muismaatjie,
ons móét hier uit, ek en jy.
Dis net blote vrees vir die onbekende
wat keer dat ek en jy gaan saadjies soek.
(…)
Die gedig “Onsterflik” (p. 59) by ’n foto van ’n leeumannetjie en -wyfie, is ’n tweespraak tussen “Sy” en “Hy”. Dieselfde geld ook “Heers” (p. 41) by ’n foto van ’n trop olifante met die matriarg wat voorloop. In sekere gevalle is die diere wat afgebeeld word, die spreker(s) in die gedigte, byvoorbeeld in “Toenadering” (p. 47) by ’n foto van die paringsritueel van kwaggas:
Toenadering
Dis maar ’n spelery –
dié byt aan jou nek.
Dis nou glad nie asof ek
moeilikheid soek nie –
wel net toenadering
in ’n suiwer vorm
om te wys hoe enorm
ek tog van jou hou.
Waarop ek stilweg hoop,
is ’n verhouding.
Hierdie onthouding
sit nie lig in my broek nie.
So ook die mooie “Droom” (p. 21) by ’n foto van ’n gemsbok: “Kom beminde, laat ons uitgaan op die duine.”
Soms is gedigte suiwer beskrywing, soos in “Verby” (p. 19) – ’n reënboogtoneel en “Perde” (p. 29), terwyl die digter soms eie herinneringe verweef met ’n afbeelding. Teoreties sluit die bundel aan by die eko-kritiek. Die lot van African Grey papegaaie in die slot-villanelle is ʼn voorbeeld:
Twee miljoen van hierdie gryses gevang: die helfte gaan
sterf; en ons loodgrys African Grey se lewe is verby:
sy stap skaars nog heen en weer, want sy is nou gedaan
voor dit stil raak in haar hok en haar houtjie stil gaan staan.
(p. 63)
Wat duidelik uit die verf kom, is die ingesteldheid van die digter dat alle lewe waardig is en dat die lotgevalle van diere saak maak.
Oor die algemeen hou die digter by vaste gedigvorme en speel klank, rym en ʼn gereguleerde ritme ’n belangrike strukturerende rol. Klassieke vorme soos die kwatryn en die villanelle kom voor, ofskoon baie gedigte in ʼn vrye versvorm geskryf is. Ongelukkig is die gedigte van wisselende gehalte – soms briljant, soms gemiddeld. Hoewel dit nie so hoef te wees nie, is die ekfrastiese gedigte in hierdie bundel absoluut gebonde aan die oorspronklike kunswerke en kan dit beswaarlik daarsonder geïnterpreteer word, omdat dit spesifiek in gesprek tree met die afbeelding daarnaas. Ek dink byvoorbeeld aan die ironiese openingsgedig wat die leser op emosionele vlak behoort te ontroer, indien die ongelooflike foto ook beskikbaar is: ’n jakkals wat ’n muis vang, die muis nog tollend in die lug, ’n swart agtergrond – die buitelyne vonkelend afgeëts:
Voltooid
Jy wat glansend,
grasieus en gewigloos
met bewende snorbaarde
ruggelings tussen hemel
en aarde sweef.
Jy wat angstig,
hulpeloos uitgestrek
vir tyd en ewigheid
voor sy gulsige bek
tol:
besef jy tóg, muis,
troos dit wanneer hy jou vreet,
hy deur jou
deel aan die volheid kry?
Dat jy móét sterf
sodat hý kan leef?
Sal jy dan, as sy tande deur
jou spiere skeur en
jy jou beendere hoor kraak,
gewillig as offer sterf
sodat die siklus oplaas
voltooid kan raak?
In hierdie gedig word ook die aard van die kunswerk aangeroer: die sterwensoomblik wat in tyd onbenullig is, maar deur die kunswerk verewig word. Soos by talryke ander gedigte is die fokus op die onverbiddelike gang van die natuur en hoe dit indruis teen die menslik emosionele interpretasie daarvan. Kommentaar op die verskil tussen die visuele kunswerk, die woordkunswerk en dit wat ons as die “werklikheid” beleef is nie slegs in hierdie gedig ʼn implisiete teenwoordigheid nie, maar onderlê die bundel in sy geheel.
Stil gesprek is in sy wese ʼn duet waarin die twee partye elk sy eiesoortige bydrae tot die geheel lewer. Dit is ʼn bundel sonder pretensie, ʼn besinning oor alle vorme van lewe op aarde, ʼn vraaggesprek waarin gefors word na die wese (syn) van dinge – waarin die menslike bestaan én die natuur in sy betowerende, skrikwekkende en indrukwekkende aanwesigheid beleef en geïnterpreteer word.
Dit is duidelik dat hierdie bundel gerig is op ʼn wye lesersgehoor en as sodanig slaag dit in sy doel. Ek kan Stil gesprek met vrymoedigheid aanbeveel – dit is ʼn belegging en benodig geen spesialiskennis van kuns of poësie nie, ʼn bundel om te geniet en om gereeld deur te blaai en te herlees.
Bravo! ‘n Sonderlinge digbundel.
Baie dankie, Mellet. Jou voortdurende ondersteuning onderskraag en motiveer my.
Baie geluk met ‘n mooi bundel, komplimente aan digter en fotograaf. En ‘n goeie resensie.
Welgedaan.
Baie dankie Hendrik, ek waardeer jou ondersteuning en aanmoediging.
Geluk aan die digter en fotograaf!
Baie dankie Alwyn, ek waardeer dit!