Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 August 202421 January 2025

Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)

 

 

 

 

Resensie: Stil gesprek: Gedigte by die foto’s van Geo Jooste deur Jan Pretorius. Naledi, 2024. ISBN: 978-1-991256-89-8

Resensent: Marlies Taljard

 

Stil gesprek: Gedigte by die foto’s van Geo Jooste bevat, soos die titel aandui, gedigte wat in gesprek tree met natuurfoto’s. Die bundel is pragtig op duursame papier uitgegee deur Naledi.

Die flapteks dui aan dat Geo Jooste, voormalige adjunkhoof van Sentraal Hoërskool in Bloemfontein, ’n bekende natuurfotograaf is wie se foto’s al “in vooraanstaande uitstallings en publikasies wêreldwyd opgeneem [is] en hy word erken as een van die vernaamste natuurfotograwe van sy generasie”. Dit is Jooste se foto’s wat hierdie bundel uitsonderlik maak.

Jan Pretorius was voorheen Biologie-onderwyser en is tans medeprofessor in Opvoedkunde aan die UV. Stil gesprek is sy debuutbundel.

Sowel die foto’s as die gedigte kom tot hulle reg deur hulle in die teks langs mekaar te stel: die foto telkens op die linkerblad en die gedig regs. Die groot persentasie bladwit dra by tot die esteties bevredigende geheeleffek van die werk.

Volgens die agterbladteks is die gedigte in hierdie bundel ekfrastiese gedigte geïnspireer deur die foto’s van Geo Jooste. Heel basies gestel is ekfrasme die literêre beskrywing van kuns en is dit, soos die metafoor of die simbool, ’n vorm van beeldspraak wat die ontmoeting tussen twee verskillende kunsvorme – beeldend en verbaal – representeer. Die bekendste voorbeeld van ekfrasme is beslis Homeros se uitbeelding van Achilles se skild in die Ilias waarin selfs die tegniek van die kunstenaar Hefaistos verreken word.

Ek lewer in hierdie resensie kommentaar op die gedigte as literêre artefak en nie op die foto’s van Jooste nie. Laat dit vir die leser genoeg wees as ek sê dat dit kunswerke is wat ontroer deur hulle eenvoud en helderheid en wat veral reg laat geskied aan die rykdom van Suid-Afrika se wildlewe. Dat dit bekroonde foto’s is, ly geen twyfel nie. Dit is ’n voorreg om op hierdie wyse toegang te bekom tot dié kunswerke.

Die emosionele rykdom en impak van die foto’s waarop Pretorius se ekfrastiese gedigte gebaseer is, maak dit besonder geskik vir die projek wat die digter onderneem, naamlik om dié impak in woorde te probeer omsit, om ’n dieper of addisionele dimensie aan die kunswerke te verleen, meestal deur personifikasie van die subjek van die foto. In ’n hele klompie gedigte word die dier wat op ʼn bepaalde foto vasgevang word direk aangespreek, byvoorbeeld in “Voltooid” (p. 9), “Vertwyfeling” (p. 11) en “Dapperder” (p. 49):

 

Liefste muismaatjie,

ons móét hier uit, ek en jy.

Dis net blote vrees vir die onbekende

wat keer dat ek en jy gaan saadjies soek.

(…)

 

Die gedig “Onsterflik” (p. 59) by ’n foto van ’n leeumannetjie en -wyfie, is ’n tweespraak tussen “Sy” en “Hy”. Dieselfde geld ook “Heers” (p. 41) by ’n foto van ’n trop olifante met die matriarg wat voorloop. In sekere gevalle is die diere wat afgebeeld word, die spreker(s) in die gedigte, byvoorbeeld in “Toenadering” (p. 47) by ’n foto van die paringsritueel van kwaggas:

 

Toenadering

 

Dis maar ’n spelery –

dié byt aan jou nek.

Dis nou glad nie asof ek

moeilikheid soek nie –

 

wel net toenadering

in ’n suiwer vorm

om te wys hoe enorm

ek tog van jou hou.

 

Waarop ek stilweg hoop,

is ’n verhouding.

Hierdie onthouding

sit nie lig in my broek nie.

 

So ook die mooie “Droom” (p. 21) by ’n foto van ’n gemsbok: “Kom beminde, laat ons uitgaan op die duine.”

Soms is gedigte suiwer beskrywing, soos in “Verby” (p. 19) – ’n reënboogtoneel en “Perde” (p. 29), terwyl die digter soms eie herinneringe verweef met ’n afbeelding. Teoreties sluit die bundel aan by die eko-kritiek. Die lot van African Grey papegaaie in die slot-villanelle is ʼn voorbeeld:

 

Twee miljoen van hierdie gryses gevang: die helfte gaan

sterf; en ons loodgrys African Grey se lewe is verby:

sy stap skaars nog heen en weer, want sy is nou gedaan

voor dit stil raak in haar hok en haar houtjie stil gaan staan.

(p. 63)

 

Wat duidelik uit die verf kom, is die ingesteldheid van die digter dat alle lewe waardig is en dat die lotgevalle van diere saak maak.

Oor die algemeen hou die digter by vaste gedigvorme en speel klank, rym en ʼn gereguleerde ritme ’n belangrike strukturerende rol. Klassieke vorme soos die kwatryn en die villanelle kom voor, ofskoon baie gedigte in ʼn vrye versvorm geskryf is. Ongelukkig is die gedigte van wisselende gehalte – soms briljant, soms gemiddeld. Hoewel dit nie so hoef te wees nie, is die ekfrastiese gedigte in hierdie bundel absoluut gebonde aan die oorspronklike kunswerke en kan dit beswaarlik daarsonder geïnterpreteer word, omdat dit spesifiek in gesprek tree met die afbeelding daarnaas. Ek dink byvoorbeeld aan die ironiese openingsgedig wat die leser op emosionele vlak behoort te ontroer, indien die ongelooflike foto ook beskikbaar is: ’n jakkals wat ’n muis vang, die muis nog tollend in die lug, ’n swart agtergrond – die buitelyne vonkelend afgeëts:

 

Voltooid

 

Jy wat glansend,

grasieus en gewigloos

met bewende snorbaarde

ruggelings tussen hemel

en aarde sweef.

 

Jy wat angstig,

hulpeloos uitgestrek

vir tyd en ewigheid

voor sy gulsige bek

tol:

 

besef jy tóg, muis,

troos dit wanneer hy jou vreet,

hy deur jou

deel aan die volheid kry?

Dat jy móét sterf

sodat hý kan leef?

 

Sal jy dan, as sy tande deur

jou spiere skeur en

jy jou beendere hoor kraak,

gewillig as offer sterf

sodat die siklus oplaas

voltooid kan raak?

 

In hierdie gedig word ook die aard van die kunswerk aangeroer: die sterwensoomblik wat in tyd onbenullig is, maar deur die kunswerk verewig word. Soos by talryke ander gedigte is die fokus op die onverbiddelike gang van die natuur en hoe dit indruis teen die menslik emosionele interpretasie daarvan. Kommentaar op die verskil tussen die visuele kunswerk, die woordkunswerk en dit wat ons as die “werklikheid” beleef is nie slegs in hierdie gedig ʼn implisiete teenwoordigheid nie, maar onderlê die bundel in sy geheel.

Stil gesprek is in sy wese ʼn duet waarin die twee partye elk sy eiesoortige bydrae tot die geheel lewer. Dit is ʼn bundel sonder pretensie, ʼn besinning oor alle vorme van lewe op aarde, ʼn vraaggesprek waarin gefors word na die wese (syn) van dinge – waarin die menslike bestaan én die natuur in sy betowerende, skrikwekkende en indrukwekkende aanwesigheid beleef en geïnterpreteer word.

Dit is duidelik dat hierdie bundel gerig is op ʼn wye lesersgehoor en as sodanig slaag dit in sy doel. Ek kan Stil gesprek met vrymoedigheid aanbeveel – dit is ʼn belegging en benodig geen spesialiskennis van kuns of poësie nie, ʼn bundel om te geniet en om gereeld deur te blaai en te herlees.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Resensie: Vlindervreter ( Melanie Grobler en Christiaan Diedericks)
Aangenaam! Marlies Taljard gesels vandag met Nini Bennett-Moll →

6e gedagtes oor “Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)”

  1. Mellet Moll says:
    1 September 2024 at 15:44

    Bravo! ‘n Sonderlinge digbundel.

    Reply
    1. Jannie Pretorius says:
      2 September 2024 at 11:05

      Baie dankie, Mellet. Jou voortdurende ondersteuning onderskraag en motiveer my.

      Reply
  2. Hendrik Botha says:
    27 August 2024 at 21:18

    Baie geluk met ‘n mooi bundel, komplimente aan digter en fotograaf. En ‘n goeie resensie.
    Welgedaan.

    Reply
    1. Jannie Pretorius says:
      29 August 2024 at 14:10

      Baie dankie Hendrik, ek waardeer jou ondersteuning en aanmoediging.

      Reply
  3. Alwyn Roux says:
    27 August 2024 at 18:15

    Geluk aan die digter en fotograaf!

    Reply
    1. Jannie Pretorius says:
      29 August 2024 at 14:12

      Baie dankie Alwyn, ek waardeer dit!

      Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d