Resensie: Liefde en verset deur André le Roux. Human & Rousseau, 2024. R 320.00. 96 bladsye, Sagteband. ISBN: 9780798184861
Resensent: Joan Hambidge
Te hel met sensuur!
I
Só word hierdie bundel bemark:
André le Roux se tweede digbundel verskyn 47 jaar ná sy debuut, Struisbaai-blues, wat kort ná publikasie in 1977 verbied is. Nou skryf hy met selfs skerper eerlikheid oor die liefde, verlange en verwondering, met ‘n aweregse blik op die ouderdom. Met bytende humor en selfspot verken hy die Suid-Afrikaanse werklikheid, hoewel sy verse spreek van universele menslikheid en deernis. Nie sonder verset nie.
Ons het lank gewag vir die tweede bundel van die kortverhaalskrywer, rubriekskrywer en ondersoeker wat ook nie-fiksie boeke geskryf het. O.a ook ‘n handleiding oor houtwerk. En hy is bekroon as joernalis. As voormalige Huisgenoot-joernalis het hy New Journalism vreesloos ontgin. Werklike besoeke aan ‘n lykshuis of ‘n opehartoperasie op ‘n kind het pakkende stories geword.
En die novelle Te hel met ouma (1980) en Sleep vir jou ‘n stoel nader (1987) bly bakens. Dit word herbesoek in Kom ons sit sommer by die tafel (2008).
Daar is maar een André le Roux. Dwars, aweregs en ek onthou ‘n foto van hom as kind waar hy weerloos staan met net een skoen aan. Werkersklaskind, maar ook nomaad: Hy word groot op Laingsburg, Matjiesfontein, Franschhoek, Koppies in die Vrystaat en Parow, waarna hy aan die Hoërskool President in Goodwood matrikuleer, aldus sy lewensloop op Wikipedia.
En hierdie aspek is opvallend in sy digkuns. Hy is immer buite alles. ‘n Outsider met ‘n skerp oog vir ongeregtigheid.
‘n Resensie oor sy prosa:
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=le+roux+sleep+vir+jou+%27n+stoel+nader
Besoek 18 September 2024
Sy debuut Struisbaai-Blues is in 1977 verbied. Dit was die dae van waansinnige sensuur en mense wat op hoorsê boeke verbied het omdat dit hulle “ontstel” het. Sensuur laat letsels. Ons weet dit uit die reaksie van Etienne Leroux oor wat hy beleef het as die uitsny van jou tong.
Liefde en verset beslaan 133 bladsye. Dit kan gelees word as ‘n memoir van ‘n ouer man met selfgesprekke en kastydings. ‘n Bestekopname van die self, maar ook van die Afrikaanse digkuns. Ouer digters soos Boerneef, Van Wyk Louw – en ook Olga Kirsch is hier met ‘n antwoord op haar klassieke vers:
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
(Olga Kirsch)
By hierdie digter:
so het dit skielik laat geword
(olga kirsch)
moenie vir my vra hoe die wind waai
hoe liefde soos die wind gaan lê
en opstaan nie
hoe verweer verbokkel nie
hoe kleur verbleik en blare vermolm nie
hoe wolke verdig en verdamp nie
die afdraand van die dag het koel geword
ingehaal deur die donker buite vensters
dis die uur van ‘n hond se geblaf
nie veraf nie
naby
(80)
Die liefde word in die tweede afdeling ingebed rondom Boerneef en Breytenbach (“Die liefde van naby gesien”): die rooiborsduif en die berggansveer …
Die politieke dimensie word via Krog behandel en betrek in die derde afdeling. Dit kry hier ‘n ars poëtiese aanslag: “Digter wordende al skrywender” …
Die titel aktiveer die ewige spanning tussen die private en die openbare met Louise Glück as ‘n rigtingwyser. Jy kan as kind iets vir die eerste keer helder sien; hierna is dit net herinneringe.
Le Roux is die meester van suggestie én die spaars woord. Toespelings en inspelings. Die ingeligte leser sien die intertekste netjies verhul en ingebed wat uitwaaier sodat die leser met elke besoek ‘n ander dimensie raaksien. Soos in Opperman se Kuns-mis (1964).
Selfspot is daar ook:
ouman kyk af
hierdie skrotum
is ‘n grysaard
‘n lamsak en sy maat
die pateet met rugprobleme
vol oumansbaard
ou koggelram
ou koggelram
wat gemaak
met suffel pram?
(31)
En Boerneef en “Klipwerk” gooi hier ‘n draai.
En nog humor in ‘n haikoe:
5
aandblom het gaan slaap
in die oggend se oop hand
‘n morning glory
(53)
alles eetbaar in my tuin (51) is perdalks ook ‘n seksuele vers.
Die twee lykdigte vir die ouers is pynlik. Die een oor die vader wys die opstand van die vaderfiguur uit; die een oor die moeder is teer en hartverskeurend. ‘n Briefgedig vir Zirk van den Berg word ‘n ervaring van hoe vriendskappe jou lewensloop bepaal (115).
En regdeur die bundel sien ons ‘n stylaanslag: enersyds opstandig, andersyds weerloos.
Le Roux is bekend vir sy grensverskuiwings. En in hierdie digbundel keer bekende gedigte op syn kop.
II Die digter as nomaad
Die digter het Opperman se letterkundige laboratorium bygewoon. ‘n Mens sien ook ‘n gesprek met Opperman se korter verse. Die digter praat met sowel binnelands (Wilma Stockenström, Petra Müller, Louis Esterhuizen, en vele ander) as buitelands. Bukowski en Carver. Leonard Cohen. En Pablo Neruda. En herdigtings van e.e. cummings se “mister death” (14, 15) en Allen Ginsberg “te veel te min” (122, 123). Louw word ingekort in ‘n skitterende “klein ode” (72). Hans Lodeizen.
Die ou weduwee Viljee word via Opperman en Hennie Aucamp weer besoek op bladsy 108. ‘n Mens sou nou al ‘n studie kon maak oor al die maniere wat hierdie tante steeds bly praat met Opperman se parodiese teks.
Dit is dan ook die Oosterse digkuns wat hierdie leser bekoor: Li Po en Tu Fu, Matsuo Bashõ en die tradisie van die haikoe. Die digter gee vir ons ‘n lys van studies wat gehelp het met die skryfproses.
https://allpoetry.com/Li-Po Besoek 18 September 2024
2
li po is ook genooi
sit die maan in kwarantyn
bring ‘n bietjie rys en baie wyn
roep ou li po nader
en jy het samesyn
(93)
Dit geplaas teenoor ‘n hardegat-vers vir Charles Bukowski in “straattoneel” (92) waar die twee strofes die proses van skryf ver-beeld. ‘n Lieflike spieëlteks.
ars poetica
suiker op die tong
sout in die wond
dis wat die digter
laat huil soos ‘n hond
(89)
Weerlose emosies, maar wéérbaar verwoord in gedigte wat getuig van vormbeheer.
Less is more word hier die mantra. Machismo en melancholie. Verset teen weerloosheid. Poësie as ‘n politieke aksie (121). Die eerste afdeling heet “Tanatos” en loop tot die laaste afdeling “So val ons van Afrika af”. En binne-in odes en klaagsange.
Die digter as alchemis, maar ook as skerpskutter. Vlam en ys. Karoosange. Van bergganse en swart kraaie. Afrikaanse verse teenoor Chinese gedigte. “ek woon nie meer hier nie” (82) dans met Auden en Van Wyk Louw in ‘n wals met Tu Fu.
https://www.britannica.com/biography/Du-Fu Besoek 18 September 2024
Moerigheid (“sien my staan”, 26) teenoor die belewenis van oudword en stiltes in al sy gedaantes:“dit het skemer geword in my sig” skryf die digter.
Die aandster het ‘n veer laat val …
En ons sal hierdie digter se naam onthou soos Li Po s’n:
skink jou trane in die geelrivier
en jy sien dit nooit weer nie
maar stroomaf het die water
jou naam onthou
(95)
Die lang wag word ryklik beloon in hierdie tweede bundel. Hierdie leser kon nie een swak of week vers aanstip nie. Trouens, ‘n mens sou meer wou aanhaal uit hierdie pakkende, slim en aangrypende bundel.
Die buiteblad is belangrik: ‘n kraai (simbool ook van die dood) is deurgesny. Die digkuns as verset teen die dood.
Navorsing het getoon dat kraaie slimmer is as verskeie ander voëls wat reeds bestudeer is. Hulle kan byvoorbeeld leer om tot by vier te tel en kan ook sekere seine en die beskikbaarheid van kos met mekaar in verband bring.
https://af.wikipedia.org/wiki/Kraai Besoek 19 September 2024
en dan weer Wallace Stevens:
Thirteen Ways of Looking at a Blackbird
I
Among twenty snowy mountains,
The only moving thing
Was the eye of the blackbird.
II
I was of three minds,
Like a tree
In which there are three blackbirds.
III
The blackbird whirled in the autumn winds.
It was a small part of the pantomime.
IV
A man and a woman
Are one.
A man and a woman and a blackbird
Are one.
V
I do not know which to prefer,
The beauty of inflections
Or the beauty of innuendoes,
The blackbird whistling
Or just after.
VI
Icicles filled the long window
With barbaric glass.
The shadow of the blackbird
Crossed it, to and fro.
The mood
Traced in the shadow
An indecipherable cause.
VII
O thin men of Haddam,
Why do you imagine golden birds?
Do you not see how the blackbird
Walks around the feet
Of the women about you?
VIII
I know noble accents
And lucid, inescapable rhythms;
But I know, too,
That the blackbird is involved
In what I know.
IX
When the blackbird flew out of sight,
It marked the edge
Of one of many circles.
X
At the sight of blackbirds
Flying in a green light,
Even the bawds of euphony
Would cry out sharply.
XI
He rode over Connecticut
In a glass coach.
Once, a fear pierced him,
In that he mistook
The shadow of his equipage
For blackbirds.
XII
The river is moving.
The blackbird must be flying.
XIII
It was evening all afternoon.
It was snowing
And it was going to snow.
The blackbird sat
In the cedar-limbs.
André le Roux is back in town. Oh, the beauty of innuendos.
Joan Hambidge
Kaapstad
September 2024
Bronne:
Stevens, Wallace. 1990. The Collected Poems of Walllace Stevens. New York: Vintage-Random-House.