notas oor dimensies van ‘n ongeluk
verswelg deur ‘n swart kombers
demensie die niks-onthou, de-mensliking, ontmensliking,
taallose betekenislose bestaan, ontering, fragmentering, uitwissing,
weer heelal word, die alles en niks dimensie,
singuliere onverstaanbare punt tussen lewe en dood presies
ou oom, wit bebaard, yl behaard, in ‘n boksie vasgevang
tussen vier mure gevlekte teekoppie, dooie plant, reghoekige oumensdoek
gin uit ‘n bloubeaarde hand vingerpunt
jare-se-tabak moeg in ‘n bewende glas, alles sinloos
toneelnotas:
die dronk ou man (75) (op toneel dood gesertifiseer) wie se ronde kop in die rondte tol,
het hier gedraai ellipties, waarskynlik die verslete ou hoed hier verloor
wyer gedraai as wat hy moes deur die plusvormige kruising
oor die streep waar hy nie stop nie (Foto’s 1 tot 4, self geneem),
parkeer sy langwerpige ou motor toe daar teen die ronde boom, half skuins in die lug op,
in ‘n niewiskundige vorm (Foto’s 5 tot 11),
† Choose Life links agter op voertuig geplak – Foto 12
sal mettertyd polisierekord aanvra
bloedplaatjies drup teen die stuurwiel af rond en rooi
in ‘n vrylik kartelende stroom
na die aardbol deur die wit hare
‘n blaar dartel agterna
steek ‘n lans in die sierrooster chroom
© Nicolaas Geldenhuys, 2024