skeepmanskis
‘n spyker of twee om skarnier en antieke slot
aanmekaar te hou, as’t ware hier en nou in die lewe te hou
geroes barok, verwitte been geplank
gespoel uit die see ou grys splinter onthou
van lank lank gelede
‘n erdebeker, geduikklop deur honderde jare, eienaardig
skeepmans tatoeërblou, ou gebrande swawel,
houtwig, kopbeen, ketting, skilpad,
in hierdie krat, swaar gepak van
wat daar eens in was
ou rum blackstrap plank-in
diep gevlek, roes afslaap op ‘n ou strand
bamboestak en sout in die mond
met sy kop op ‘n seewier stapel ontwaak,
skulp en skurwe klip
van die hoogsee en rou wind, die verste blousel
hout- en leerkreun, palms skuins
teen die wit sand geleun
alles daarin eensaam vir altyd heen,
afgeskilferde been
© Nicolaas Geldenhuys, 2024