Hans du Plessis was ʼn Mensch.
Hans was een van die eerste mense wat ek dekades gelede, toe ons Potchefstroom toe verhuis het, leer ken het. As vreemdeling en inkommer was sy kantoor vir my ʼn toevlugsoord. Vir Hans was ʼn mens ʼn mens, ongeag sy status of rang. Hy het altyd tyd gehad vir gesels en skerts en as jy hulp nodig gehad het, kon jy kom praat. Later het my kinders as studente in sy studentehuis gewoon. Hy was streng: jy gedra vir jou, en as partytjies te laat en luidrugtig aanhou, sou hy (in studentetaal) “oor die muur kom”. Die studente het hom gerespekteer en as hy gewaarsku het, word dit stil. Vir baie van hulle was hy ʼn tweede (of enigste) pa en vertroueling. Vandag nog onthou hy die kinders wat daar loseer het. Na 25 jaar vra hy my nou die dag hoe dit met Francois gaan. Hy weet nog wat Francois geswot het, hy onthou nog wie sy “girlfriend” was, vra hoe hy die lewe in Australië geniet en vertel van sy tydgenote. Nodeloos om te sê, prof. Hans, soos hy in Potchefstroom bekend gestaan het, was ʼn man wat by studente, kollegas en kennisse respek afgedwing het omdat hy regverdig en eerlik was, maar terselfdertyd sag en vol begrip.
As kollega in die Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit het ek Hans du Plessis leer ken as een van die hardste werkers wat ek ooit ontmoet het. Anders as wat tans die mode is, het Hans nooit sy uitsette of prestasies aan die groot klok gehang nie. Hy het homself nooit bemark nie. Hy het nooit gespog nie – net met sy studente! As jy maar weer hoor, het hy iets gepubliseer, ʼn toekenning ontvang, iewers ʼn spesiale lesing gaan aanbied – maar altyd by ander gehoor of in die koerant gesien. Diepgewortelde, opregte beskeidenheid is vir my die mees uitstaande kenmerk van hierdie groot gees. En sy kinderlike geloof. Oor geloof het ons selde gepraat, want Hans wás sy geloof – oor godsdiens wel, en daaroor het hy besliste idees gehad. Sy familie was vir hom die kosbaarste aspek van sy lewe en tuis by sy gesin was vir hom die lekkerste plek. Wanneer hy ʼn funksie moes bywoon, was Magdaleen aan sy sy. Oor sy kinders en kleinkinders het hy dikwels en graag gepraat. Op 4 Oktober skryf hy nog en vertel dat hy en Magdaleen die volgende dag 56 jaar getroud is. Hulle wil op 10 November see toe gaan om dit te vier. Dit het nooit gebeur nie. Hans du Plessis sterf op 25 Oktober 2024 in Huis Eikelaan, Potchefstroom.
Hans du Plessis is een van die mense by wie ek die meeste oor my vakgebied geleer het – praktiese kennis het mens by hom opgedoen. Sy lesings, wat ek soms bygewoon het, was fassinerend. Hy kon homself só helder uitdruk: Digterlike vryheid is niks anders as digterlike luiheid nie! Teorie het hy wel onderrig, maar aan die hand van die praktyk. Moenie by hom kom met die woord “liefde” of iets soos “ek het jou lief” in ʼn gedig of kortverhaal nie – dis taboe. Nee, liefde wys jy – iets soos:
Ek wil innie kwartels van jou se twee oge kyk
Ennie tortels van jou se stem in my ore in hoor.
(Uit: “Boegoe vannie liefde”)
Ek was uitsonderlik bevoorreg om vir die sg. Voortrekker-romans Hans se kritiese leser te wees. Dit het nie slegs behels dat ek die teks lees en foute uitwys nie. Nee, ons het dae en soms weke lank die roman uitmekaargetrek, geëvalueer, elke toneel bespreek, kohesie en koherensie nagegaan. Hans het vertel wat sy doel met elke karakter was, watter menslike trekke hy wou uitbeeld. Menslike swakhede waarmee almal vandag nog kan assosieer. Ek was telkens verbyster oor die navorsing wat in ʼn enkele boek ingegaan het en waarvan Hans in besonderhede en fassinerend vertel het – argiefjaarboeke, hofsake, handgeskrewe dagboeke, ondersoeke ter plaatse. Dan vertel hy my presies waar watter trek op watter tydstip gestaan het, die roete wat hulle gevolg het sodat ek dit self kon gaan naspeur en bekyk. Uit sy beskrywings van die ruimte kon ek gewoonlik maklik die plek kry. Groot was my verbasing toe Hans vertel van sy kinderjare in Silverton en dit blyk dat my huis agter die Pretoria Botaniese Tuin op die presiese plek geleë is waar die roman “tussen die klippe” afspeel! Hans vertel hoe hy as kaalvoetseun in kakieklere in die veld geloop het waar nou die Botaniese Tuin is en hele nuwe woonbuurtes intussen ontstaan het. Hoe hulle van Silverton gestap het na Koedoespoort stasie en trein gery het na die Afrikaanse Hoër Seunskool …
“Die pad na Skuilhoek” was die eerste boek waaraan ons so saamgewerk het. Hans vra my of ek die boekbekendstelling sal doen, en natuurlik stem ek in. Ons word uitgenooi om dit by die Potchefstroomse museum te hou, aangesien die roman handel oor die Van Rensburg trek wat naby Potchefstroom uitgemoor is. Ons besluit terstond om die aanbieding op ʼn voortrekkerwa te doen, soek klere in die museum uit wat ons sal pas en gesels as twee Voortrekkerkarakters met die gaste – in die son. Hans met ʼn voorlaaier oor die skoot!
As kreatiewe skrywer het Hans homself onderskei as romansier, digter en dramaturg. Sy romans is op die oog af eenvoudig geskryf en maklik verstaanbaar, maar wat komposisie betref, so na aan perfek as moontlik. Hy skryf oor onderwerpe waarmee alle mense kan assosieer en wat lesers aangryp. Hy doen wat hy sy studente leer en wat vir hulle as voorbeeld kan dien – maar ook meer. Oor die vier Voortrekkerromans het hy byvoorbeeld gereeld gesê dat die verhaal liefde in het, maar nie ʼn liefdesroman is nie; dat dit godsdienstige kwessies aanspreek, maar nie ʼn godsdienstige boek is nie; dat dit oor geskiedkundige gebeure handel, maar nie ʼn geskiedkundige roman is nie. Wat sy digterlike oeuvre betref, het Du Plessis bekendheid verwerf vir sy Griekwa-gedigte. “Innie skylte van die Jirre” het van die hoogste verkope van enige Afrikaanse digbundel ooit gehad: meer as 60 000 verkope! Ook enkele van sy dramas is verskeie kere suksesvol opgevoer.
Benewens die pos wat prof. Hans du Plessis later beklee het as Direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die NWU, was hy egter ook taalkundige met variasietaalkunde as sy spesialisterrein. Dit is juis uit navorsing wat hy saam met kollegas onderneem het oor die Afrikaans van die Noordwes Kaap dat sy sogenaamde Griekwa-digbundels ontstaan het. Gesprekke met hom en wyle prof. Christo van Rensburg oor die ontstaan en variasie van Afrikaans en haar verskillende verskyningsvorme het dikwels van geselsies in ons kantore uitgeloop op etes in die Jonge Akker tot laatmiddag. Ek kon maar net aan hulle lippe hang. Wat Hans du Plessis vir Afrikaans beteken het, is onberekenbaar. Benewens baie meer as honderd akademiese artikels, twee handboeke en verskeie hoëprofiel toekennings het Hans op talryke ander gebiede Afrikaans bevorder en homself vir die behoud van Afrikaans as hoëfunksietaal beywer. Hierdie huldiging kan nie reg laat geskied aan alle fasette van professor Hans du Plessis die skrywer en akademikus nie. Daar het die afgelope dae talryke huldiginge verskyn wat die besonderhede bevat van sy ryke lewe en wat ek as addendum insluit.
Die leemte wat Hans du Plessis in die lewe van sy kollegas en vriende, van die Potchefstroomse gemeenskap, die Afrikaanse skrywersgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap laat, is vergelykbaar met die krater in sy geliefde Vredefort-koepel waaroor hy so dikwels geskryf het en waar hy ook dikwels gaan skryf het. Hy was ‘n wyse leermeester na wie diegene wat hom geken het, opgesien het, ‘n man van integriteit en uitsonderlike kennis van vele vakgebiede. Namens Versindaba dra ek ons diepe medelye oor aan Magdaleen, Rudolph, Louis, Hansie en Tjaard, hulle eggenotes en kinders. Mag die God aan wie Hans sy lewe gewy het, julle troos.
Ma nou kom vetrou ek vir U,
en ek sal altoos bly sing en dans,
want U was vir my goed gewas.
Ek willie Jirre vedag hoog ag
oorlat dit Hy is wat agter elke bos
met Hy se goeteit da vi my wag.
(Uit: “Innie skylte vannie Jirre”)
– Marlies Taljard
28 Oktober 2024
Addendum
Huldiginge: Hans du Plessis by die volgende skakels:
https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/afrikaans-verloor-n-visioenere-reus-20241026
https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/skrywer-en-digter-hans-du-plessis-sterf-20241026
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/geliefde-prof-hans-du-plessis-oorlede/
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/video-hans-du-plessis-het-stories-geleef/
https://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/hans-du-plessis-1945-2024-n-kort-huldigingswoord/
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/huldeblyke-stroom-in-na-prof-hans-se-afsterwe/
So mooi sy menswees beskryf. Baie dankie!
Dankie hiervoor. ‘n Uitstekende huldeblyk. Hy was inderdaad ‘n Mensch. Sy sin vir humor was veral wonderlik.
Goeie herinneringe en roerend vertolk.