Die dandy
Met wandelstok tik hy morsekode neffens die boulevard.
Sy skoene blink vlekkeloos, sy krawat is allermins ringard.
Sy pluiskuil troon oor die heelal soos Oom Paul s’n.
Van agter sy monokel soek hy grootogig ‘n nuwe begin
vir die eerste paragraaf van sy roman ‘n verwerping
van slegte smaak en futiele openbare besinning.
Hy vlug van die warm son, die stof en gepeupel op straat
na die Paryse arkade, hou met sy hempmaker beraad.
In die spieël gewaar hy die beste kunswerk wat hy het:
sy wel geklede, geparfumeerde, sjiek silhoeët.
Die troebel glasdak laat lig na binne filter en flonker
byna so goed soos ‘n fluweelgordyn se donker.
Die aarde verouder, omhels die ruïnes en pretensie
van ons beskawing in die uur van sy dekadensie.
Die tegniek skep dinosouriërs van metaal
voorspel die einde soos ‘n klinkende simbaal.
Al wat tel is ‘n paar laaste hedonistiese oomblikke
die lewe wat wegsyfer soos vroueliefde in snikke.
By die boekbinder vertoon sy pols ‘n kloppende aar
as hy betaal vir ‘n kunstig gebonde eksemplaar.
Die strelende sensualiteit van leer, gom en papier
maak dit draagliker soos ‘n mansjetknoop van saffier.
Later vanaand by dowwe kerslig sal hy die fraaie
voorwerp oopslaan en smul aan die blaaie.
© D.F. Roodt, 2024
Kosbaar soos fluweel en fyntjies deur die Tydreiseger se droom met verbeeldingsvlugte aanmekaar gevlans.