Versugting
op ‘n snikhete dag wat mens dam toe besluit het is daar aalwyn en
seerooglelie oranje rooi oop blou lug en
vergetelheid
mens skuif alles anders uit jou weet uit
‘n werklikheid van stofverwaaide gras en riet, onder karee en
witstinkhout soek almal en alles lewend
teen die hitte ontvlugting, geanker aan die nou en hier
dryf mens roerloos weg, soos hiasinte oor ‘n gladde dam
daar is ‘n stil uur of twee, die geheue ‘n vuur onvergeetlik, versugting
mens drink dit in, jy gaan dit saamvat as jy teruggaan,
nooit laat los nie
© Nicolaas Geldenhuys, 2024