Breyten hulde
wanneer ek baie oud
en mompeltong sonder sin of sinne is
as ek tot daar kan lewe…
Laatvers – Breyten Breytenbach
Wat is ’n bleddie ysterkoei
– in daardie oorlede tye
was daar nog iets soos ’n ysterlong
vir mense wat nie kan asem kry nie
dalk sal ysterkoeie ook van benoudheid moet sweet
rondtrap om melk uit ’n ysterspeen te probeer pers
smaak my soos bloed tap uit ’n klip
was dit ooit moontlik om jou te ontmoet
êrens op ’n stoep onder ’n kniekombers
aan’t rebelleer teen sinneloos word
sou ek vir jou vra ’n antwoord
voor ’n mompeltong toeslaan
op vyf-en-tagtig
pak jy jou groen trui in
stoor die laaste pampoen
ontsnap enige onmoontlike ontmoeting
ek hardloop agter jou aan
© Anton Döckel 2024