Breyten Breytenbach: ’n huldeblyk
Deur Daniel Hugo
“’n Seismograaf wat skokgolwe deur die samelewing en letterkundige gemeenskap kon stuur …” Dit is die openingsin van Netwerk24 se berig oor die afsterwe van Breyten Breytenbach in Parys op 24 November 2024. Ek kan my indink hoedat Breyten – meester van die metafoor en woordspel – hom oor dié stukkie taalslordigheid sou verkneukel het. ’n Seismograaf meet skokgolwe, veroorsaak dit beslis nie.
As tsoenamiese digter en vulkaniese persoonlikheid het Breyten wel deeglik skokgolwe deur mý lewe gestuur.
In 1975 het ek vir die eerste keer behoorlik met Breyten se poësie kennis gemaak toe D.J. Opperman sy debuutbundel van 1964, die ysterkoei moet sweet, met ons derdejaarsklas op Stellenbosch behandel het. Ek is gou-gou oorrompel deur Breyten se onkeerbare woordestroom, tuimeling van beelde en aweregse blik op die wêreld.
Ek was ’n BA-admissiestudent, op pad na die Teologiese Kweekskool om ’n predikant te word. Die voorstelling van Christus aan die kruis in die gedig “ikoon” het daardie jong naïeweling, wat in ’n pastorie grootgeword het, gehelp om relativerend te begin dink – ook oor die Christendom:
bo dit alles pryk ’n spykerige jesus teen ’n kruis
sonder ’n gejanfiskaalde mossie se hoop op ontbinding,
met ’n gryns tussen baardhare
Op ’n hedonistieser vlak het Breyten se gedigte ook tot die jong student gespreek wat pas die vreugde en vervoering van die Boland se wyn ontdek het. In een gedig sê hy “my buik kloek vol wyn”, en in sy volgende bundel – die huis van die dowe (1967) – beskryf hy rooiwyn as “koel etruskiese bloed van die druif”. In sy herskrywing van die “Onse Vader” (in lotus) vra hy nie net vir sy daaglikse brood nie, maar ook vir “die botter, die konfyt, die wyn, die stilte / die stilte van wyn”.
Op 19 Augustus 1975 word Breyten, onderweg na Frankryk, op die Johannesburgse lughawe in hegtenis geneem en aangkla van terroristie bedrywighede. Hy word skuldig bevind en tot nege jaar gevangenisstraf veroordeel. In 1976, my vierde jaar op universiteit, verskyn sy bundel Voetskrif. Dit bevat die gedigte wat hy in die tronk geskryf het voor sy vonnisoplegging.
Dié publikasie veroorsaak ’n groot herrie onder die konserwatiewes en kerkmense. Die destydse moderator van die NG Kerk, dr. Koot Vorster (broer van die premier, John Vorster), het gesê dis ’n tragedie dat, terwyl Suid-Afrika se seuns aan die grens sterf, Breytenbach in die gevangenis sit en skryf. Hy sou natuurlik kon byvoeg dat Breyten se broer, Jan Breytenbach, een van die aanvoerders van daardie jong soldate was.
Vorster gaan voort: “Die ink is skaars droog, dan word dit deur die pers gejaag en terwyl die drukkersink nog nat is, word hierdie onsin deur groot letterkundiges as kuns uit die boonste rakke opgehemel” (Rapport, 14 Maart 1976). Hy sê ook dat die naarste van alles is dat die seuns en meisies aan ons universiteite dié snert vir soetkoek moet opeet. Ek was dus een van daardie seuns.
Voetskrif is vandag nog my gunstelingbundel. Breyten se beskrywing van die hemelruim wat hy deur sy selvenster kon sien, is verruklik: “vonktrippelende donker perde in die nag”; “die sigaretkooltjies brand gate in die roukleed”; “die stervure brand met ’n donker rook”. En dan hierdie verbluffende woord- en klankspel in die liefdesgedig “(vers as boodskapper)”:
jy is die hitte van my palms
jy is die pitte van my dadels die hittete van my daad
jy is die asem van my lippe
Die volgende twee jaar – 1977 en 1978 – het ek militêre diensplig in Pretoria gedoen en dikwels verby die Sentrale Gevangenis in Potgieterstraat gery waar Breyten aangehou is. Dan het die woorde van sy onthutsende gedig oor die singende terdoodveroordeeldes noodgedwonge by my opgekom:
vir julle wat uit die donkerte sing
soos bye seker in ’n land sonder enige blomme
vir julle wat kla na troos waar geen troos is nie
wat roep na ’n Heiland om redding en geen redding
kan julle red nie
wat sing asof julle lewens daarvan afhang
en julle weet dat julle lewens gaan hang
Daardie “afhang” en “gaan hang” wys dat woordspel ook dodelike erns kan wees.
Dit is juis Breyten se intens kreatiewe omgang met die taal waarin hy talle neologismes skep, met intertekste goël en idiome verdraai wat hom bykans onvertaalbaar maak. Die eerste vertalings van Breytenbach-gedigte in Duits is in 1977 in Berlyn gepubliseer. Die vertaler was Rosi Bussink. In haar weergawe van sy gedig “die hand vol vere” het sy die kluts heeltemal kwytgeraak met die digter se byhaal van “ou Dog” aan die slot:
anders as ou Dog
waar ék ’n veertjie plant
kom ’n kêk-kôk hoender op!
Bussink vertaal “ou Dog” met “der alte Hund” (die ou hond). Breyten sou waarskynlik nie beswaar gehad het nie, aangesien hy in sy later werk dikwels self met ’n hond identifiseer. Louise Viljoen het ’n hele artikel daaraan gewy in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsbundel: breyten breytenbach – woordenaar woordnar (2019), saamgestel deur Francis Galloway. Een van die talle byname wat hy homself dwarsdeur sy oeuvre gee, is inderdaad ”Buiteblaf”. In sy gedig “en die wêreld het met my gepraat” (in die na-dood) noem hy Afrikaans neerhalend “dog”, in teenstelling tot die wêreldtale Frans, Spaans, Engels en Duits. Uiteindelik wys hy homself tereg. Hý is die hond:
is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie
ondankbare hond!
Ná Breyten se vrylating in Desember 1982 het ek hom die volgende jaar vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet by ’n boekeskou in Antwerpen. Eklips, die eerste bundel wat verskyn het in die reeks tronkbundels, “die ongedanste dans”, is daar bekend gestel. Die Vlaamse digter Herman de Coninck het die gesprek met hom gelei en dit was duidelik uit Breyten se onsekerheid en ligte gestotter dat die trauma van die tronk nog vlak gelê het. Die sewe jaar lange verduistering van sy bestaan het nog nie opgeklaar nie.
Eklips bevat ’n reeks liefdessonnette opgedra aan sy vrou Hoang Lien, oftewel Yolande, oftewel Goue Lotus, oftewel Lady One. Dié ses-en-twintig gedigte is geskryf tussen 1 Januarie en 31 Desember 1979. Die slotreëls klink só:
brand, brand saam met my lief – te hel met verderf!
om te lewe is om te lewe, is om lewe-lewe te sterwe.
Hierdie onlosmaaklike verbondenheid van lewe en dood word dan ook geëggo deur die titel van een van die tronkbundels: Lewendood.
Breyten word beskou as die grootste liefdesdigter in Afrikaans, maar langsamerhand het ’n intieme verhouding met die dood sy poësie begin oorheers. In die bundel die beginsel van stof (2011) staan in die afdeling “laat-verse” die volgende kwatryn:
hy wat aanbly skryfel teen die dood
kry ’n oumanslyf gevrug in die woord –
maar die voëltjies van verganklikheid
sit kwetter reeds in die gedigteboord
Terwyl ek deur Breyten se digbundels blaai voor ek hierdie huldeblyk begin skryf het, kom ek af op ’n getikte vraelys in die hand vol vere van 1995 – ’n bloemlesing uit sy poësie, saamgestel deur sy groot vriend en “broer”, Ampie Coetzee. Dit is die vrae wat ek hom gevra het in ’n radio-onderhoud vir die SAUK. Die laaste een lui: “Kan gedigte die wêreld verander”?
Ek kan nie onthou wat sy antwoord daarop was nie. Ek weet wel dat Breyten Breytenbach se skryfwerk – sy poësie én prosa – my uitkyk op die lewe en begrip van wat letterkunde kan wees, diepgaande beïnvloed het. Hy het my gewys watter lewenskrag en flonkering Afrikaans besit. Hy het my ook geleer dat buitengewone woordvaardigheid nie bloot ’n estetiese funksie het nie, maar dat dit versoenbaar is met ’n sosiale bewussyn en gewete. Ten slotte gaan dit in alles wat hy geskryf het oor deernis met die medemens en ons gedeelde sterflikheid. Só dig hy in die na-dood (2016):
en weet dat jy ’n mens is
tussen dolende mense
elk met die vuur van sterwe