I.M. Breyten
Nou’s jy weg, Meester
die dood kom toe nie soos ʼn gewapende man nie
wildgroei van selle, oor ʼn ongelyke trottoir
jou ingehaal, die lyf wat oorgee,
afsluit, ‘n laaste snak na lug
Jy’s seker nou in bardo
tussen niks en nêrens, inwoner
van ʼn ander middelwêreld, selle
en molekules aan’t ontbind
die lyf aan die vergaan, die skedel
grynsend grimlaggend onvergaan
sterre daar swart gate wat jou woorde
wil insuig, groot gravitasiekolk van vergeet,
jou woorde dans en brand, gis en etter
ekskresie van die ek op papier
in ons geheues, in ons harte ingekras,
lê op ons tonge aan’t stamel
van leegte, leegte, niks
gemis, gewarrel en siedende gekolk
van afwesigheid
waar is die niks?
ʼn swart streep oor die son,
die maan ʼn laaste duimnaeltjie
teen swart swart sterre, stof
en wolk versamel dik oor die horison,
maal, swagtel ons toe in donkerte
Jy is weg, Meester
leeg, leegte, leër, groen lanings niks
© Hein Viljoen, 2024