Ligspoor
Juan Coetzer
Ligspoor as bundeltitel word ontleen aan die militêre wêreld: ’n fosforbehandelde projektielpunt wat by afvuur momenteel ’n sigbare koeëlbaan laat. Talle gedigte is dus kort en kontaksoekend, visueel en evokerend; van aard eerder impressionisties as surrealisties. Militêr georiënteerd, word ’n meer gebonde as vrye versvorm gebruik.
Ligspoor bevat jeug- en militêre herinneringe en die omwerkings daarvan tot wyer metafore. Sommige gedigte is noodwendig die draers van ’n gespierde idioom waarmee sensitiewe lesers o.a. weens geloofsredes, dalk ongemak kan hê.
Die uitbeeld van manlike subkultuur- e.a. brutaliteite is, volgens die outeur wat kort voor sy weermagtyd tot geloof gekom het, nie ’n refleksie van persoonlike oortuigings nie, maar van die profaniteitsmilieu wat ’n onderliggende en jong Christenskap sublimerend deurworstel. Geïndividualiseerde hersirkulering van die geskiedenis, selfspot en gepoogde alledaagsheid- en vreemdelingsbeswering, word ook gedryf deur ’n transenderingsdrang.
Die eksistensialistiese soeke van die bundel speel op mikro-sosiale, interpersoonlike en individuele vlakke af en vind sy vervulling in o.a. ’n teksgesentreerde ars-poetica, herstellende geloofsoriëntering en uiteindelike dekonstruksie van machoïstiese stereotipes.
Oor die outeur
Juan Coetzer is in 1961 in Durban gebore en het op Stanger en Greytown in die Natalse platteland grootgeword. Na ’n tydperk in die weermag en polisie, het hy teologie (onvoltooid) en maatskaplike werk op Tukkies studeer, waarna hy werksaam was by verskeie welsynsorganisasies en sendingstasies. Hy woon in Pretoria, is enkellopend en deeltyds betrokke by geloof- en gemeenskapsinisiatiewe.