Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
Ons begin hierdie laaste nuusbrief van 2024 met ’n hartlike dankie aan ons lede, befondsers (spesifiek die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis), en ons projekvennote wat PEN Afrikaans se werksaamhede hierdie jaar moontlik gemaak het. Ons kyk met dankbaarheid terug op ’n vol en goeie jaar.
Dit was ook ’n jaar wat deur groot verliese in die Afrikaanse lettere en joernalistiek gekenmerk is, soos die heengaan van impakryke en geliefde figure – ons dink aan die sonderlinge stemme van Martie Retief-Meiring, Abraham de Vries, Anastasia de Vries, Mellet Moll, Hans du Plessis, Breyten Breytenbach en pas ook Annelie Botes wat stil geword het – en die aangekondigde sluiting van ikoniese papierkoerante uit die Media24-stal. Sulke afskeide en afskalings bevestig die nodigheid en belangrikheid van inisiatiewe ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde, plaaslik en internasionaal, opnuut. Laat ons aanhou bou en geleenthede skep – oftewel aanhou beweeg en geraas maak – selfs, en veral, wanneer vertroude bakens wegval.
Ons huldiging van Breyten Breytenbach wat hierna volg, is ook hier op ons webwerf beskikbaar, tesame met ’n skakel na ’n gedigvoorlesing wat ons met sy toestemming kon insluit by ons viering van Internasionale Moedertaaldag ’n paar jaar gelede. Gaan luister gerus.
PEN Afrikaans bring hulde aan Breyten Breytenbach (1939 – 2024)
Die bestuur van PEN Afrikaans betreur saam met lesers en skrywers wêreldwyd die heengaan van Breyten Breytenbach. Hy was ’n wêreldklas digter, skrywer, visuele kunstenaar en denker wat in velerlei opsigte ’n monumentale kulturele bydrae gelewer het, soos sedert sy afsterwe op 24 November 2024 uit ’n stortvloed huldigings duideliker en duideliker word.
Hy was ’n uiters produktiewe skrywer, wat konsekwent werk van die hoogste literêre gehalte gepubliseer het, van sy debuut in 1964 tot sy mees onlangse publikasie in 2019.
Sy literêre ondervraging van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek het lesers van oor die hele wêreld in staat gestel om hulself te vergewis van die ervaring om ’n “albino-terroris” te wees; sy genadelose selfondervraging verryk ons verstaan van hoe identiteit gekonstrueer word, asook wat die funksies van kuns is.
Dat sy stem nou stil is, is ’n enorme verlies. Dat sy nalatenskap groot en ryk is, is klinkklaar.
Ook in die totstandkoming en werksaamhede van PEN Afrikaans was sy bydrae onmisbaarbaar. Tydens ’n vergadering in Maart 2011 oor die totstandkoming van ’n organisasie wat sigself vir Afrikaanse skrywers beywer, lewer Breyten ’n betoog daarvoor dat so ’n organisasie vanuit die geledere van Afrikaanssprekende skrywers behoort te kom. Deur middel van só ’n organisasie sal skrywers ’n beter kans hê om hul stem te laat hoor. Gedeelde belange kan gedien word, was sy argument.
Suid-Afrika bevind hom in ’n drukgang na totalitarisme, sê hy voorts by dié geleentheid, met ’n afname in dissidente en alternatiewe denke. Skrywers moet individualiteit lewend hou en protes nie prysgee nie.
’n Skrywersorganisasie wat ’n mandaat het om namens skrywers te praat, is die enigste opsie. Internasionale koppeling behoort ook aandag te geniet. In dié verband meld hy die internasionale resonansie van PEN en beskou hy dit as “’n groot huis met allerlei vlakke”.
Ons eer sy nagedagtenis en dink met dankbaarheid aan sy helder visie van wat so ’n skrywersvereniging kan en behoort te wees, en aan hoe hy bereid was om PEN Afrikaans se pogings en projekte te steun – in woord en in daad, dikwels met die toevoeging van sy naam en sy verruimende perspektief.
Enkele voorbeelde is sy ondersteuning van ons protes teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg wat skrywers van bestaande regte en inkomstestrome sal ontneem; sy betrokkenheid by taal-aktivistiese verset teen sprake van die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by ons land se universiteite, en spesifiek by Stellenbosch Universiteit; sy teenkanting teen die destydse voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting (die “muilbandwet”) en sy ondersteuning van inisiatiewe in solidariteit met die skrywer Salman Rushdie nadat hy in 2022 aangeval is tydens ’n openbare lesing.
Hy het die Afrikaanse landskap eindeloos verryk met sy vernuwende literêre werk, sy kritiese denke, sy bruisende kreatiwiteit, sy ondernemingsgees, sy onverskrokke verset teen inbreukmakings op demokratiese waardes en praktyke, insluitend alle vorme van sensuur.
Die handves wat PEN se bedrywighede wêreldwyd rig, begin met ’n bevestiging dat “(l)etterkunde geen grense eerbiedig nie en in weerwil van politieke of internasionale woelinge gemeengoed tussen mense moet bly”.
Daar is min skrywers wat hierdie oortuiging kenneliker beliggaam en uitgeleef het as Breyten Breytenbach.
Ons sal hom mis en dink met innige meelewing aan sy naasbestaandes.
Afsluiting: Right to Write-projek
Die Right to Write-projek is, soos reeds vermeld, ’n inisiatief waaraan PEN Afrikaans vanjaar saam met vier ander PEN-sentrums (Uganda, Malawi, Zimbabwe en Zambië) op uitnodiging van PEN International deelneem met die oog daarop om openbare dialoog te bevorder oor kwessies wat skrywers raak. Wat is van daardie kwessies? Hoe lyk die landskap en klimaat vir kreatiewe skryfwerk en uitdrukkingsvryheid vir Afrikaanse skrywers vandag?
As deel van hierdie projek het ons artikels oor vasgestelde onderwerpe van vyf Afrikaanse skrywers aangevra. Hierdie vyf artikels het in Afrikaans in Rapport en op Netwerk24 verskyn, en in Engels op Daily Maverick. Ons is dankbaar vir ons mediavennote se goeie samewerking.
Al vyf die Afrikaanse artikels is nou reeds op Netwerk24 gepubliseer:
- Jolyn Phillips: https://projekte.netwerk24.com/rapport/jolyn-phillips-tussen-n-boek-en-n-brood/index.html
- Lynthia Julius: https://projekte.netwerk24.com/rapport/lynthia-julius-om-te-skryf-as-die-broodblik-leeg-is/index.html
- Eben Venter: https://projekte.netwerk24.com/Rapport-Eben-Venter-skryf-Die-renoster-en-die-reen/index.html
- Chase Rhys: https://projekte.netwerk24.com/rapport/chase-rhys-n-masterclass-in-resistancekaaps-wings-ivy-league-things/index.html
- Antjie Krog: https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/antjie-krog-poesie-hou-ons-uit-die-hande-van-barbare-20241006-2
Vier van die vyf Engelse vertalings is op Daily Maverick te lees en die laaste artikel verskyn na verwagting volgende week:
- Lynthia Julius: https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-12-06-hard-to-be-creative-when-the-burden-of-survival-makes-creativity-feel-like-a-luxury/
- Eben Venter: https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-11-21-the-rhinoceros-and-the-rain-the-animal-that-does-not-sweat/
- Chase Rhys: https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-11-15-narrative-resistance-writing-authentic-stories-of-resilience-identity/
- Antjie Krog: https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-10-15-voices-of-resistance-exploring-creative-freedom-across-south-africa/
Tydens ons simposium by SASNEV in Pinelands op 16 November het Bibi Slippers met Lynthia Julius en Jolyn Phillips gesels oor die artikels wat hulle as deel van hierdie reeks gelewer het. Baie dankie aan almal wat daar was. Dit was ’n boeiende en roerende gesprek.
Daar is ’n opname van die simposium op SASNEV se YouTube-kanaal: https://youtu.be/e8L1-V6Zozc
Kyk gerus daar na die paneelgesprek en na die indrukwekkende lesing oor persvryheid in Suid-Afrika wat deur die die joernalis Karyn Maughan gelewer is.
Notule en jaarverslae: algemene jaarvergadering 2024
Dankie ook aan almal wat as deel van die pasvermelde simposium ons algemene jaarvergadering bygewoon het. Dit was goed om vir die eerste keer sedert 2019 in lewende lywe so te vergader om te gesels oor ons bedrywighede en doelwitte.
Klik gerus op hierdie skakels vir die:
Inskrywings vir oulaas uitgenooi: Kyk hoe ver het ons gekom
PEN Afrikaans en ons kompetisievennote herinner graag skrywers aan die geleentheid om teen 8 Januarie 2025, die laaste dag vir inskrywings, deel te neem aan die Kyk hoe ver het ons gekom-skryfkompetisies wat ons saam met LitNet (kortverhale) en Versindaba (gedigte) aanbied ter herdenking van 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal.
Daar is, te danke aan ’n ruim borgskap deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur, prysgeld op die spel.
Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
Die skryf van kortverhale en gedigte is geslypte lense waardeur gekyk kan word na die wêreld, insluitend na hoe Afrikaans en sy sprekers gekom het tot waar ons is.
Kortverhaal- en gedigskeppers word hiermee vir oulaas uitgenooi om die “Kyk hoe ver het ons gekom”-gedagte met eiesoortige invulling en in eie Afrikaanse woordeskat vas te vang. Dus: Dié breë tematiek kan vanuit enige invalshoek en met benutting van watter tongval(le) van Afrikaans ook al toepaslik is, benader word.
Inskrywings kan per e-pos gestuur word aan die volgende adres: penkortverhaalkompetisie@gmail.com.
Hierdie e-posadres geld vir beide kompetisies; en gediginskrywings sal dus ook na hierdie adres gestuur word. Maak asseblief in die onderwerp van jou e-pos duidelik vir watter kompetisie jou inskrywing is.
Gekeurde inskrywings word deurlopend aanlyn gepubliseer – onderskeidelik op LitNet en Versindaba.
Nadat inskrywings gesluit het en die aanvanklike keuring voltooi is, sal ’n beoordelaarspaneel per kompetisiekategorie die gekeurde, gepubliseerde bydraes onder die kritiese loep neem om op drie kortverhaal- en drie gedig-weninskrywings te besluit. Wenners sal in April 2025 aangekondig word.
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer
In die nuwe aflewering in ons artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” skryf die bekroonde en geliefde skrywer, Zelda Bezuidenhout, op ons uitnodiging oor die aanpak van ’n jeugroman.
Sy skryf onder meer: “Die wêreld van jeugfiksie is ’n eienaardige en uitdagende omgewing. En soos in die geval van ’n lewensmaat kies of kinders grootmaak, kom dit nie met ’n handleiding nie. ’n Skrywer leer maar so algaande.”
Lees haar artikel gerus hier.
Op die noot van jeugliteratuur, deel ons graag inligting wat ons van PEN International ontvang het, ter kennisname. Nduko O’Matigere van die PEN-hoofkantoor skryf: “I am bringing this amazing resource, The Journal of African Youth Literature for your use with your younger members. Explore it, subscribe, and let the youth you work with, those you have recruited into your membership know about it as a platform they could engage with and access to amplify their literary works and voices.”
Die kuns van vertaling
Vertaling maak wêrelde aan lesers oop – van kinderboeke, fiksie, digkuns tot niefiksie. Die waarde van ’n vertaling lê in die vertaler se vermoë om ’n teks aan die doelteksleser oor te dra sodat dit moeiteloos en met die grootste plesier gelees kan word. Dit is daarom belangriker as ooit om die waarde van vertaling te erken en te vier, en wat is beter as om met die kunstenaars van vertaling te gesels. PEN Afrikaans doen in 2024 ’n reeks onderhoude met vertalers van verskillende genres om meer van hulle liefde vir dié kuns te hoor.
In hierdie aflewering beantwoord die bekroonde skrywer en vertaler Michiel Heyns ons vrae. Klik hier om sy antwoorde te lees.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2024 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2024
Baie geluk aan ons lede wat in Desember nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Ten slotte is dit baie lekker om aan die einde van die jaar te kan welkom sê aan die volgende nuwe lede:
- Delana Fourie
- Elsabé Groenewald
- Felicia Snyman
- Jana Fourie
Ons sien uit om 2025 saam tegemoet te gaan. Mag dit ’n vreugdevolle feestyd vir almal wees.
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans