Vingerafdruk
‘n Forel se skub uniek
nes ‘n mens se vingerafdruk.
‘n ID, handtekening of skildery
word helaas ook vervals.
‘n Forel se skub uniek
nes ‘n mens se vingerafdruk.
‘n Gedig soos ‘n lied eenmalig;
vertolkings mag wel verskil.
‘n Forel se skub uniek
nes ‘n mens se vingerafdruk.
‘n Herberg-in-die-sneeu of
auberge-in-somer, ‘n onderdak.
‘n Forel se skub uniek
nes ‘n mens se vingerafdruk.
Begeertes of verlatings
word oraloor identies beleef.
Tussen lewe en dood, begin
of einde, ontglip betekenis:
‘n blink forel wat stroomop
stu in ‘n winterse broeityd.
© Joan Hambidge, 2025
Treffend, Joan!