Bonjour Tristesse
Kyk vandag terug na my jeug,
na die eerste skoolruimte saam
met my ousus – ek vyf, sy tien –
in ‘n klooster in Aliwal-Noord
toe sy rumatiekkoors had
en my ma my saamstuur,
want die ander sus was olik
en hier begin ek op ‘n lei
te skribbel, leer my naam skryf,
speel met klei. En die toebroodjies
met gouestroop proe ek steeds.
‘n Non lag uitbundig toe ek ‘n vraag
vra soos wat beteken it appears that?
Sy was uit Frankryk hierdie jong vrou,
en vandag steeds wonder ek na jare
oor begrippe soos effrayé en à peine.
Daardie kat wat sy bek oopmaak om
te byt; daardie kat wat sit op die mat.
Sy wat my nougeset my eerste taalreëls
leer: van lei tot hard op tot sag af
tot in ‘n gedig oor saudade, heimwee,
nostalgie, hiraeth. Veral tristesse.
© Joan Hambidge, 2025
