My Oupa Frank
Op ‘n foto rokend aan ‘n pyp
my Oupa aan vaderskant
my Ouma op dieselfde foto
met vlegsels ek skat haar
sowat dertig jaar my Oupa
veel ouer saamgesnoer nou
aangestuur deur my suster
vir die ordening van ons argief.
In die bewaarplek van my geheue
‘n donkerkamer wonder ek
wie was hierdie fotograaf
van dit wat soveel verklap:
my Oupa vredig my Ouma nie
op die agtergrond van die foto
met die gedig as vraaggesprek
samekoms van al my voorwetes.
© Joan Hambidge, 2025