Nog ‘n nuwe boek in die reeks oor Herzogpryswenners het pas verskyn. Wilma Stockenström: Met my wysvinger se top (Ronel Foster Redakteur).
Dit is ‘n publikasie van die SA Akademie, uitgegee deur die SA Akademie en Protea Boekhuis.
AGTERGROND
Wilma Stockenström is ’n skrywer, vertaler en aktrise en word erken as een van die belangrikste en veelsydigste skrywers in Afrikaans. Stockenström is een van ’n handvol skrywers aan wie ’n Hertzogprys in twee verskillende genres toegeken is, en een van net drie vroue: vir haar digbundel Van vergetelheid en van glans in 1977 en in 1991 vir haar roman Abjater wat so lag. In 2007 ontvang sy die Afrikaans Onbeperk Kanna vir haar Lewensbydrae tot Afrikaans en in 2015 word sy vereer met ’n Fiësta-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die teater en woordkuns. As aktrise word sy natuurlik onthou vir haar rolle in die populêre Manakwalanners en Die storie van Klara Viljee. Sy woon tans in Kaapstad.
Hierdie huldigingsbundel is die 17de in die reeks van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wat skrywers huldig wat met die Hertzogprys bekroon is. Nuwe beskouings met interessante perspektiewe en in leesbare, helder styl, word aangebied deur medewerkers Frederick Botha, Bibi Burger, Marius Crous, Temple Hauptfleisch, Thys Human, Amanda Marais, Alettie van den Heever en Hein Viljoen. Hulle skryf oor Stockenstrom se prosa, oor haar digkuns, en ook oor haar bydrae tot die Afrikaanse toneel – as aktrise en dramaturg. ’n Fotobylaag gee ’n visuele beeld van Wilma Stockenstrom se lewe en werk, en ’n uitgebreide bibliografie maak die boek onmisbaar vir geïnteresseerde lesers wat meer wil uitvind en ondersoek instel, en ook vir studente en navorsers.
OOR DIE SAMESTELLER
Prof. Ronel Foster doseer tot 2014 Afrikaanse poësie en prosa, resensiekunde en vergelykende poësiestudie (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit Stellenbosch. Haar proefskrif is getitel “Postmodernisme en poësie, met spesifieke verwysing na die historiografiese metagedig ‘Die heengaanrefrein’ van Wilma Stockenström” (Universiteit Stellenbosch, 2000).
TITEL: Wilma Stockenström: met my wysvingertop
SAMESTELLER: Ronel Foster
GENRE: Biografie/huldigingsbundel
PRYS: R350.00 (BTW ingesluit)
VERSKYNINGSDATUM: Desember 2024
ISBN: 978-1-4853-1602-2
FORMAAT: 152 x 222 mm
SAGTEBAND met flappe
AANTAL BLADSYE: 336 + 8 bladsye kleurfotoseksie