Helen Keller
Nooit sou jy hoor hoe iemand jou
naam sê nie, Helen. Vir jou was
die getjirp van mossies, die diepblou
van die see waar die mas
van ‘n seilskip kreun teen die wind,
die ligdans van die son en maan,
die laggie van ‘n kind
en die wit pluimvere van ‘n swaan:
vir jou was niks hiervan beskore.
Water het oor jou lyf gespoel
terwyl Anne w-a-t-e-r in jou hand spel:
meteens het jy verstaan wat sy bedoel,
‘n weerligstraal van insig het fel
in jou binneste geslaan! Nou
kon jy wegtrek uit die land
van stomme duisternis, jou
geestesoog ‘n glinsterende diamant,
jou innerlike gehoor fyn.
Na menige lande sou jy vaar,
vergete in die volgstroom jou pyn.
Jy veg vir werkersregte, jy skaar
jou by die swakkes, jy inspireer.
Helen?
Die tere vraag sou sy hoor, en oopmaak:
pragmusiek het in haar vibreer,
ook sý sou die Water smaak.
© Stephan du Toit, 2025