Afrikaanse en Nederlandse taalkundiges en Afrikaanse en Nederlandse letterkundiges
10-12 September 2025
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Kongrestema: Kanon en Kantlyn in die Afrikaanse taal- en letterkunde.

Voorstelle vir bydraes tot die 21ste hoofkongres van die nuutgestigte Afrikaanse Letterkundevereniging word met entoesiasme ingewag. Op die algemene ledevergadering van 3 Februarie 2025 is besluit om die vereniging se naam en konstitusie te verander om ook taalkunde in te sluit.
Met die vorige kongres in 2023 in Gqeberha het taalkundiges aansienlike waarde tot die kongres toegevoeg. ’n Lede-opname onder die aanwesiges en ALV-lede (na afloop van die 2023-kongres) het met ’n groot meerderheid getoon dat die proeflopie van 2023 geformaliseer moet word en daarom word Afrikaanse taalkundiges, in die wydste sin van die woord, hiermee genooi om deel te neem aan die kongres wat van 10-12 September 2025 deur die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein aangebied word.
Op die ledevergadering by hierdie kongres sal wysigings aan die grondwet gefinaliseer word en ’n nuwe gekombineerde bestuur (taal- en letterkunde) en redaksie van Stilet gekies word.
Die kongres vind in Bloemfontein plaas wat geografies sentraal in Suid-Afrika is en simbolies gesien word as die hart van Suid-Afrika – dit bied die ideale ruimte vir die gesprek oor kanonisering en literêre insluiting. Onder die tema “Kanon en Kantlyn” beoog die kongres om die tradisionele teenstelling tussen sentrum en periferie te herbedink. Tegnologiese vooruitgang, globale emigrasiepatrone en die kritiese bevraagtekening van literêre standaarde het daartoe gelei dat die grense tussen sentrum en periferie al hoe vloeibaarder raak. Trouens, ’n enkele letterkunde of teks kan gelyktydig in die sentrum én op die periferie funksioneer – afhangende van die perspektief wat gebruik word om dit te interpreteer. Hierdie dinamiese verhouding skep geleenthede om gevestigde aannames te heroorweeg en nuwe maniere te vind om literêre waarde, invloed en relevansie te verstaan.
Die Universiteit van die Vrystaat wat geografies tussen die kulturele invloede van die Kaap en die Noorde val, dien as ideale (fisieke) ruimte om te besin oor die dinamika van en wisselwerking tussen sentrum en periferie in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en taalkunde.
Die organiseerders is baie opgewonde oor dié historiese geleentheid in Bloemfontein en die kongresprogram beloof om ’n paar aangename verrassings in te sluit. Meer besonderhede gaan in ’n later stadium gekommunikeer word.
Die kongres begin met die Christo van Rensburg-gedenklesing wat hierdie jaar deur prof. Elvis Saal gelewer sal word. Daar sal ook drie paneelbesprekings wees met kundiges en kenners vanoor die hele land. Musiekuitvoerings, ’n filmvertoning en allerlei gesellighede word beplan. Vir die paneelbespreking oor gedeelde doseerlading doen ons graag ’n kort bestekopname ten einde ’n konkrete gespreksuitkoms te bewerkstellig. Vind die skakel hieronder:
Drie paneelgesprekke word georganiseer waartoe die paneellede reeds ingestem het:
- Vrydag 12 September (voor die ledevergadering)
Gedeelde doseerkundigheid – Angelique van Niekerk, sameroeper
https://forms.gle/hJLWB136THC3in4w6 (vooraf-opname teen 11 Julie 2025)
- Donderdag 11 September
Dosering van Kreatiewe Skryfkuns – Henning Pieterse, sameroeper
- Woensdag 10 September
Standaard en variëteit – Francois Smith, sameroeper
Referate in Afrikaans en Nederlands word verwelkom.
Dit is ’n omvangryke tema wat ruimte bied vir wydlopende en uiteenlopende onderwerpe (wat nie beperk is tot die onderstaande nie):
- Kanonisering
- Sentrum vs. periferie, beide letterlik en figuurlik verstaan
- Hoë en lae/populêre kultuur
- Nuwe perspektiewe op vergete skrywers
- Suid-Afrikaanse literatuur op die kantlyn van die Nederlandse kanon; Nederlandse literatuur op die kantlyn van die Afrikaanse kanon
- Insluiting en uitsluiting
- Standaard vs. variëteit, ook wat literêre tekste betref
- Kaaps en Oranjerivierafrikaans
- (Her)standaardisering
- Taalonderrig en -aanleer
- Hoe oud is Afrikaans?
- Taal en mag – wie word gehoor en wie word uitgesluit?
- Taalverskuiwing
- Marginalisering van (Afrika)tale in die openbare ruimte
- Die invloed van stedelike migrasie op periferale tale
- Sosiale media as platform vir periferale tale
Voorlegging van referaatvoorstelle
Voorstelle vir referate van ongeveer 300 woorde word ingewag tot en met 30 April 2025.
Referaatvoorstelle moet die volgende inligting bevat:
- Titel van die referaat
- Naam van die bydraer(s)
- E-pos-adres van die bydraer(s)
- Affiliasie
Stuur alle ander korrespondensie aan ALV2025@ufs.ac.za
Versprei asseblief die kongresuitnodiging ook aan taalkundiges in jou netwerk!
Kongrestariewe:
R 2 500 (Kongres)
R 2 850 (Kongres en aandfunksies)
R 1 250 (Kongres: Nagraadse studente)
R 1 600 (Kongres en aandfunksies: Nagraadse studente)
Kongres-bankbesonderhede:
Die Afrikaanse Letterkundevereniging
ABSA
Tjekrekening 10174260
Takkode 632005
Stuur asseblief ’n bewys van betaling aan ALV2025@ufs.ac.za
Die kongreswebblad (https://plan2join.com/alv2025/) sal teen 20 Maart 2025 aktief wees. Besonderhede oor registrasie, verblyfopsies, program, ens. sal daar beskikbaar wees. Doen gerus navraag by: ALV2025@ufs.ac.za
Opdateer op 17 Maart 2025
