Gestroop
Die digter strek sy vingers
na die slotte van sy rekenaar
om dit met twee vingers oop te speel
Laat ons begin:
Dit sal gaan oor herfs –
terwyl ’n grys haar gereeld val
op die spasiebalk voor die digter
soos uit die maanhaar van ’n opgestopte leeu
– is winter miskien reeds hier?
Blare van takke gestroop
as metafoor vir ouer word
net te stroperig
verledes is in elk geval
oomblikke kênfruit en konfyt
met stroop ingelê en
sandsuiker geword –
Skryf, maak gou,
dae krimp saam soos senings
wat bly vasklou aan die been
en onder die dun vel
opwys soos die skering
in ’n geskifte kombers
Te dun om toe te maak
teen die winter
wanneer die termometer sy kwik
skaars uit die bal kan strek
om aan die syfers te raak
© Anton Döckel, 2025
