
evolusie
dalk oor ’n duisend jaar of wat sal iemand haar uitkalwe
met skoffel en kwas en wonder wie hierdie mens was
met die stewige gebeente, fyn hande en winkeltande
en dalk sal antropoloë kan bepaal dat haar oë blou
was en dat sy bars kon kyk en verwant aan Koisans
en Noormanne was, ook dat sy soms gebrek gely
en bloedarmoedig was en swaar aan drie kinders
gebaar het. miskien sal hulle aan haar beendere
kan sien sy het haar brood met moeite verdien
en dat haar dieet bestaan het uit wildsvleis
stamvrugte en gars en sal hulle iets kan snap
van haar taal wat ’n landskap van vlaktes
en brak riviere kan verhaal met woorde
wat woue en giere in vlug kan vasvang
in klanke wat god kan gebied om wolke
byeen te jaag en buie te laat sak. ’n taal
waarin sy kon skerts en uit haar maag
kon lag en dalk sal hulle in ’n omvormde
weergawe van haar tongval sê: kyk
wat het sy alles vermag
Gerda Taljaard

Wat ‘n roerende gedig, dankie Gerda en welgedaan!