I
So dig Johann de Lange in sy laaste bundel Miniatuur:
Bardo Thodol
Bardo Thodol vir my lewe & dood,
die grondves vir my dag & die antwoord
op my gebed, my raaisels, & my nood –
vir elke woord van my die wederwoord.
So praat ek nou terug:
Judasoog
Op ‘n keer, dertig jaar of meer,
loer jy deur my kombuisvenster,
toe daar geen ysterhekke keer.
Nou is ek ‘n aangewese voyeur,
een wat inkyk, nee terugkyk
op ons verbintenis, min of meer.
Ek wou nog sê, maar in noodweer,
‘n klein vers wat jy sou bewaar
om later in ‘n akroniem te vertaal.
Daar waar jy nou liggaamloos draal,
bring ek jou stadig en sonder verweer
térug op ‘n bladsy so absoluut finaal.
So dig hy:
Dood is ’n bywoord
Die dood is ’n werkwoord,
’n vermywoord;
die dood is ’n kerkwoord,
’n ontwywoord.
So antwoord ek:
Interne weerstand
Ek verset my teen tyd toe my Mondaine,
gister botstil loop staan. Die wysters wys
simbolies twee minute voor twaalf.
Teen die muur ‘n klein gekko swygstil
en op die vloer ‘n dooie sjongololo.
My vriend publiseer miniatuur-verse,
‘n heilige skarabees op die voorblad.
In Antieke Egipte staan dit vir hergeboorte,
hernuwing én opstanding. Die klein gekko,
sjongololo en kewer verbind aan die god Ra.
Nou amulette teen hierdie tyd sonder toraks
in hierdie gedig ‘n donker, dog tydlose graftombe.
II
In 2010 verskyn ‘n keur uit sy gedigte met die titel Judasoog.
Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: “Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”.
Beeld-kyk
Net die oog: ooglidloos
en ingedagte in marmer,
‘n gaatjie geboor
om ‘n soort pupil
– paradoksaal, want: pupil
is juis nie gaatjie nie,
maar: ‘n soort anemoon
met sluitspier kompleet –
te simuleer. En juis
die gaatjie: die gaatjie
gee jou daardie kyk,
daardie serene uitdrukking,
en is die verskil
tussen jou en my:
jy: soos klip,
ek: soos anemoon.
(uit: Akwarelle van die dors, 1982).
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/johann-de-lange-judasoog-2010.html Besoek 9 April 2025
Die judasoog (of loergat) van cruising kry nou ander en nuwe implikasies.
Die jy word nou die leser. Alle lesers wat op sy verse (en dood) gereageer en op verskillende wyses die verlies aan sy digterskap artikuleer, soos Henning Pieterse in sy besondere huldeblyk en Daniel Hugo in ‘n mooi verjaarsdagvers.
In Miniatuur is daar gesprekke met ander digters en skrywers. Hennie Aucamp veral en natuurlik N.P. van Wyk Louw.
Grammatika
Ek’s verbuig & vervoeg deur Tristia,
ek stamel, verknot & verknoop deur sy sintaksis,
die stigmata van akuut & gravis,
my visie beleër deur sy ars amatoria.
En die ironiese “stigmata van akuut & gravis”.
Louw wat meesterlik met taal kon speel en betekenisse myn.
Die verlies aan Johann de Lange is enorm. Vir my was sy gesprekke insigryk en sy digkuns ‘n argief.
Goddank was sy uitvaart pynloos.
My skietgebed kom slaaptyd
My skietgebed kom slaaptyd pleit
dat ek soos Hennie weg kan glip
na ’n plek verby die sterre,
nogmaals tussen klippe nét klip.
*
Ek wou nog sê …
Joan Hambidge
Kaapstad 9 April 2025
Bronne:
De Lange, Johann. 2010. Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 2024. Miniatuur. Naledi: Gansbaai.
Dankie Joan, simpatie met die afsterwe van jou jarelange vriend JDL.