Kanaalstad
Wat steek vas in die onthou van ons
besoek aan Venesië, ook bekend as
die “drywende” of “sinkende” stad?
Dalk die San Marco-stadsplein –
een van die mooistes in die wêreld –
met die vlieg en fladder van duisende
duiwe – ‘n lokaas vir toeristiese foto’s.
Miskien die kloktoring, die argitektoniese
erfenis, die Basiliek se goue fasade
versier met mosaïek, in 1062 gebou
of die deftige kelners en vioolmusiek.
Straks is dit die onprivate onderklere
en wasgoed in die nou waterkanale
buite woonstelvensters uitgehang
met die son op die weerkaatsende water.
Maar met alles in oënskou, bly dit steeds
die vaart na die glasfabriek in Murano.
Die gondel kitsch met plastiekblomme versier
en ons gondelier soos ’n kloekende hen
om haar kuikens met die gaan, maar
broeiende met die terugtog
sy singende tong onder sy vlerk ingevou,
want dié skielik getransformeerde kapokhaantjie
duld nie dat sy verhoogde fooi
met die terugvaart
bevraagteken word nie.
©Marthé McLoud, 2025