Samsara
Vanoggend pleitend
by die Boeddha, in meditasie,
om jou terug te bring.
“ ‘n Mosterdsaad van ‘n huis
sonder dood of ellende …”
Dié opdrag, wis ek, nou
onmoontlik. Op my lessenaar
‘n uitgedroogde suurlemoen
langs ‘n gedig van Lorca
vertaal deur Uys Krige.
Die dood bly iets onvertaalbaar;
dit beweeg buite woorde of beelde.
In ‘n puntdig vir jou geskryf in Ljubljana:
Elke nag weg hoor ek die Dom se slae,
my rooi Mondaine glimmer verlange.
As jou hand jou laat struikel,
kap dit af. As gedigte nie meer
troos nie, hou op lees. Vanoggend
opgeteken in Johannes vers soveel
en soveel en soveel (in blou onderstreep):
die dood het sy hakskeen
teen my opgelig. Die Tibetaanse Boek
van Lewe en Dood en Die Bybel
deurgesoek maar kom telkemale
terug by Federico García Lorca:
heuning is soeter as bloed
poësie spruit immer uit
bitterheid, ‘n hemelse heuning
vloeiend uit die onsigbare
vervaardig in die siel.
© Joan Hambidge
