Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
23 April 202528 April 2025

Resensie: “Kategismus” (Daniel Hugo)

 

Resensie: Kategismus deur Daniel Hugo. 2025. Turksvy Publikasies

Resensent: Johann Myburg

Om aan te leer, om kennis te verwerf – dit sou die algemeen aanvaarde oogmerk met leer, of onderrig kon wees. Om goed in jou kop te kry, om dit nou maar so te stel.

Daarvoor is boeke en leerboeke nodig. Desnoods in vraag-en-antwoord-vorm as hulpmiddel om leer (begrip) te vergemaklik en terselfdertyd leer (dogma) tuis te bring. Soos die geval met ʼn kategismus (leerboek), met die bekendste in dié genre die Heidelbergse Kategismus as een van die gereformeerde kerke se belydenisskrifte.

Nog ʼn oogmerk met leer, hoewel nie een wat so algemeen benadruk word nie, is om in plaas van aan te leer af te leer. Om goed uit jou kop te kry.

Waarskynlik lê ʼn mens jou toe op dié bedryf as jy reeds ʼn paar goed aangeleer het. Straks later in jou lewe. En dalk terugskouend.

As Daniel Hugo dus op 70 sy 18de digbundel Kategismus noem, en met die gedig “Versugting” op die agterblad afgedruk, is dit afleer eerder as aanleer wat ʼn mens in dié nuwe bundel vermoed. En waarvan ʼn mens elemente teëkom.

 

ek is op die ouderdom dat traumas en sondes

my inhaal, dat Freud en Calvyn my lewe knou:

was ek maar ʼn onbevange heiden sonder

kennis van pastorie of psigologie, sonder siel en gees

blote vlees, vol verwondering oor die hier en die nou

 

Dié gedig staan aan die einde van die vierde van vyf afdelings in dié lywige bundel, drie maal die omvang van Korte mette, Hugo se debuut van 1982.

Die afdelings in Kategismus is “Versleer”, “Diereleer”, “Godeleer”, “Katelklanke” en “Koorsdeun”, vyf afdelings waarin Hugo gestalte gee aan temas wat gereeld in sy oeuvre voorkom: dié van omgang met poësie en digterskap; die natuur; godsdiens; die liefde; en laastens ouderdom, of die afloop, die afbreek van selle (117). Toevallig is dit nie. Daarvoor is Hugo te berekend en presies. Meer as herhalende onderwerpe trek hy doelbewus in hierdie jongste bundel dié temas byeen en versterk hy dit met verse wat resoneer met titels van vorige bundels. Vergelyk byvoorbeeld “Buitekamerblues” en Buitekamerklanke (1983), “Private domein” en Openbare domein (2018) asook “Monnikewerk” en die gelyknamige bundel van 1995. Daarby kan ʼn mens die verse in die jongste bundel kwalik lees sonder om die titel van die 1989-bundel in die binneoor te hoor: Verse van die ongeloof.

Op dié manier verstewig Hugo sy stem, maar gaan hy ook terugskouend in gesprek met sy oeuvre.

In Kategismus is dit die versugting, iewers tussen “onbevange” en “verwondering”, wat die verse ten opsigte van aanslag maar ook inhoudelik rig. Ontgogel, eerder as sinies of openlik bitter, is dié verse van “ʼn ongelowige Christen”, soos Hugo in 1998 al in ʼn onderhoud na homself verwys het. “Ek is opgevoed as Christen, my hele verwysingsraamwerk is Christelik-Westers; ek kan nie daarby verby nie. Maar tot die dag van my dood bly ek ʼn ongelowige Christen.”

Met die kop kan ʼn mens dalk bewustelik wal gooi, die krop bly nietemin onwillekeurig swel, soos verwoord in “Klankdig”. En dalk is Kategismus die klinkklaarste aanduiding van die spanning opgesluit in “ongelowige Christen” – soos verwoord in “Teen wil en glo” (96) en “Klankdig” (135), gedigte waarin lof as’t ware teen wil en dank voortgebring word.

Klankdig

ek luier onder die loofgroen eik

duiwe skep ʼn koepel van klank:

die stad se geluide word gefnuik

en mý krop swel, wil loof en dank

Binne die Christelik-Westerse tradisie met die aanleer (doelbewus of onbepland) van alles waarvoor Calvyn en Freud sou kon staan het Hugo hom as student toegelê op die Nederlandse en Afrikaanse letterkunde, en is hy ʼn digter “wat steeds bekoorlik in Diets kan koer”, soos dit blyk uit die opdraggedig “Vir Marlene”.

As “koer” sou kon staan vir die liriese uiting, sou “bekoorlik” aanduiding kon wees van die tegniese vaardigheid en vernuf waarmee gekoer word. Die skryf van ʼn gedig het hy immers al beskryf as “ʼn vernufsoefening”.

Lees ʼn mens dus ʼn woord soos “klankdig” is jy meteen bedag daarop dat Hugo meer as een betekenis in gedagte het. Eweso met “loof” wat blare sowel as prys kan wees. Woordgevoeligheid, die opperste waarmerk van ʼn digter, is iets wat by Daniel Hugo tweede natuur is. En dikwels is dit sy vormvaste en goedgestruktureerde verse en veral sy voorkeur vir rym en halfrym wat verrassende woordgebruik tot gevolg het.

Etlike verse roep by name ander digters op, eweso bekend vir hul bekoorlike koer. Digters soos Hennie Aucamp, Boerneef, Herman de Coninck, Thomas Hardy, Stephen Spender. Maar Hugo roep by implikasie ook digters op in ʼn skramse verwysing of in ʼn gedig wat iets van ʼn ander digter se werk eggo. Soos WH Auden in “die ou kerkvaders was toe reg” in “Katkisasie”, Omar Khajjam in “Kwarantyn” en ʼn sweem van NP van Wyk Louw in “Verligting” (“Ons klein en silwrige planeet”).

Afleer binne die konteks van Kategismus hou in die onopgesmukte omgang met die hier en die nou. Nie met “meta-matesis” nie, maar met voor die hand liggende telwoorde soos “een, twee, drie”, soos in “Benul” (108) aangevoer word. Dié bied voldoende verwondering.

“Benul” is nietemin ʼn voorspel tot gedigte wat volg oor die dood – “nou is ek hier, netnou nie”. Die verse in die laaste afdeling wissel van die verskrikking wat die dood sou kon inhou (“Skrifgeleerd”) tot die gelatenheid van “die tuinman kan my maar inspit” in die Asphodeliengrund (“Die tuinman”).

Soos wat ʼn mens van Hugo verwag is dit galgehumor wat ter sprake kom as hy oor die dood skryf. Hoe skryf ʼn lewende immers oor die dood? Soos hy aandui in “Nooit” (126):

drie woorde is daar wat ek nooit

gesê sal kry nie: ek is dood

my asem daarvoor intrek

en die klank oor my lippe stoot

 

Maar Hugo vind ʼn manier om oor die dood geskryf te kry: “alte bewus van sy verganklikheid / praat hy reeds in die oorlede tyd” (“Grimmige grammatika”) – ʼn tydsaanduiding wat sou kon dui op aanvaarding dat die apteker weldra die voorskrif van “dr. Dood die groot / geneser” gaan ontsyfer en die pasiënt in plaas van die alombekende lewensessens “sterwensessens” gaan moet sluk (“Apteker”).

In “Einddig” – weer met die dubbelbetekenisassosiasie – is dit egter nie die einde of die doodloopstraat of die dood wat uitstaan nie, maar die woordjie “glo”: “ek slaan rem aan: dis hier / waar die pad glo eindig”. Vermoedelik, sou ʼn mens dit wou verstaan, maar die lading wat dié woord binne Hugo se oeuvre dra aktiveer meteen die spanning van ongelowige gelowige.

En so bly die versugting om af te leer, om onbevange heiden, blote vlees te wees, ʼn versugting in hierdie Kategismus, ʼn spanning wat die digter nodig het om teen wil en dank te bly skryf. Soos in “Teen wil en glo” (96):

ek is klaarblyklik doof

vir God se stem in my ore

ek praat ook nie met Hom nie

maar my tinnitus bly Hom loof:

in my kop sing engelkore

wat wragtig nooit verstom nie

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Kategismus
Joan Hambidge. Die waterman en Die helfte is jou nie vertel nie   →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Joan Hambidge. The upturn palm
  • Albi Prinsloo. Verlossing
  • Retha van Deventer. ekwilibrium
  • Hennie Maartens. Water

Nuutste bydraes

  • Elmarie Nienaber Van Kampen. trapklip no 12
  • Nuwe bundel van Miel Vanstreels
  • Marthé McLoud. 31 Desember 1997
  • AVBOB Persverklaring
  • Digtersprofiel: Daniel Hugo

Nuutste kommentaar

  1. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  2. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  3. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  4. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

  5. Marthé McLoud on Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange in Sunnyside en Pretoria.3 December 2025

    Ek geniet die artikelreeks oor Johann verskriklik baie. Baie interessant. Dankie daarvoor.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d