Gogo
Na Loyiso Mkize se Faces Anatomy
Haar plooie strek soos styfgetrekte
draad vanaf haar neusvleuels
na haar mondhoeke al af na haar ken
en in haar oë woon ’n vasberade kyk.
Hier waar sy elke dag buite
op ’n stoel sit en groente kerf,
span haar oë ’n heining
om die bedrywighede op die werf
maak sy seker:
die wasgoed is op die draad.
die hoenders is gevoer.
die werf is gevee.
Maar snags wanneer almal
in Pep stores-komberse soos mummies
toegerol voor die koolstoof slaap,
lê sy oopoog toegewikkel in ’n tjalie van haar ma.
Dan loop haar gedagtes soos ‘n boerbok
in die veld rond en knibbel aan
die groenigheidjies van haar jeug
en hoor sy in haar binneoor hoe haar ma
en haar voorvaders uit die kleigrond
diep onder in die vallei na haar roep.
©Marthé McLoud, 2025