Lesing aan die UFS
15 Mei 2025
I
Ons vier Afrikaans se 100ste bestaansjaar. “Het Afrikaans ‘n verjaarsdag?” vra Jannie Rossouw en Tom McLachlan in Die Burger van 27 Maart 2025.
So argumenteer hulle:
In Orania word dit op 14 Augustus gevier, om saam te val met die pioniers van die GRA. 8 Mei is die datum by die Afrikaanse Taalmonument. Dit is die datum waarop die Suid-Afrikaanse parlement in 1925 op ‘n gesamentlike sitting van die Senaat en die Volksraad die wetsontwerp op die amptelike tale van Suid-Afrika aanvaar het. In September 1909 het die Britse parlement die South Africa Act / Zuid-Afrika Wet, 1909, aangeneem waarkragtens, soos hierdie twee skrywers dit so klinkend stel, die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Met Engels en “Hollands” as die amptelike tale. Die Wet 8 van 1925 het Afrikaans by “Hollands” ingesluit en so het Afrikaans die status as amptelike taal gekry. Die destydse goewerneur-generaal, die graaf van Athlone, het die wetsontwerp onderteken op 27 Mei 1925.
8 Mei? 22 Mei? Of 31 Mei waarop dit terugwerkend van krag geword het?
“Dit is veel belangriker dat Afrikaanssprekendes elke dag hul taal koester en die gebruik van hulle taal te vier,” sluit die ereprofessor en die taalpraktisyn hul betoog af. Lank voor dit, erken hulle, is daar die orale tradisie en navorsers het spore van Afrikaans gevind in geskrifte van voor 1652. Dit weens die verversingspos vir skepe op reis van Europa na die Ooste. En hoe tale transformeer, is geweldig boeiend. In Nagasaki op my eerste besoek aan Japan in 2002 kon hierdie navorser Nederlandse woorde hoor in Japannees.
Op die plek waar Puccini Madama Butterfly gekomponeer het in 1904.
Ook Willem Botha, die woordeboekman, eggo hierdie siening dat Afrikaans ouer as 100 jaar is.
Hy wys op die gebruik van Kaaps-Hollands, Kaaps of Krom-Hollands vyftig jaar ná Van Riebeeck se koms. Die Paarl is nie die plek; dit is eerder langs die Kaapse kus deur die kommunikasie tussen die Nederlandse seevaarders en die Khoi-Khoin.
Dus meer as 300 jaar, skryf hy in Die Burger.
Bog! Afrikaans is beslis nie 100 jaar oud nie 26 Maart 2025
Ek praat (en skryf) uiteraard uit die posisie van wit bevoorregting. Tog toe die dekaan vra wat doen julle om Afrikaans te dekoloniseer, was my antwoord: “Ons doen dit al van 1652 af.”
Verskeie studies is bestudeer vir hierdie lesing:
1 Wannie Carstens & Edith Raidt. 2017. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Pretoria. Protea Boekhuis.
In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 fokus op die Afrika-geskiedenis.
Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek die krag van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.
Afrikaans is volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal. Die impak van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans word in Deel I onder die loep geneem.
Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste beweer. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).
Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans (en die polemieke hieroor) word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427). Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing.
In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar.
Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook opvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Standaard-Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).
Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook behandel en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie spreker indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekoloniseringsdebatte hier te lande.)
Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.
Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit ons skoolleerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat. Boonop het ons die jongste uitvoerprodukte van transgressiewe tekste uit Amsterdam eerstehands ervaar gedoseer deur Etienne Britz. Ons het ook lesings van taalkundiges soos Johan Combrink en Meyer de Villiers bygewoon. Met Henning Snyman wat ‘n versoening tussen taalkunde en letterkunde bepleit het.
Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) was dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en die siening van Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Nederlands is vir jong studente vandag moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.
Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie in Deel I (377).
Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is belangrike kwessies. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).
Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van die groot navorser J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en kom by plant- en diername voor, soos: Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup. Plantname: Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens. Diername: Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie. Ander: Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.
Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly.
2 Achmat Davids. 2018. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Verwerk deur Hein Willemse. Vertaal deur Danie C. Botha. Kaapstad: SBA.
Toenemend word die Afrika-invloed op Afrikaans ondersoek. Dit word uitgewys dat Asiatiese uitgewekenes en selfs die slawe in die Kaap hul eie tale kon praat en nie net die taal van die kolonis nie.
Die baanbrekerswerk van Adrianus van Selms wat in 1951 ontdek het Afrikaans is oorspronklik in Arabiese skrif geskryf (sogenaamde “Arabies-Afrikaans”). Hierdie stelling behoef egter verdere navorsing, soos Hein Willemse aantoon (9).
Hierdie boek kyk egter na die bydrae van Moslem-Afrikaans. Humor in die idiome is opvallend (“’n Boer maak ‘n plan, maar ‘n Slams hét ‘n plan”). Aspris, brêggat, kastai (terg), kwai-lappie (mooi so), ougat, poenang-kies (oulik), laa-die-daa (vernaam). “Iemand is ‘n poep op ‘n lappie” en “Jy kan nie sy slamblie eet nie” (Jy kan hom nie vertrou nie) is enkele juwele! … (40).
3 Christo van Rensburg. 2018. Van Afrikaans gepraat. Pretoria: Lapa.
Christo van Rensburg vra was die Kaap regtig Hollands? En hoe verander die sosiale veranderinge tans ons siening oor waar Afrikaans werklik begin het? Die invloed van apartheid op Afrikaans (en die persepsies tans) het die siening oor Afrikaans uiteraard beïnvloed. Die geskiedenis bewys egter dat Afrikaans nie net ‘n “wit” taal of ‘n taal van die onderdrukker is nie. Waarskynlik is die grootste probleem dat die meeste mense wat deelneem aan die debat bittermin gelees het oor Afrikaans en die ontstaansgeskiedenis.
Vir ‘n langer bespreking:
https://joanhambidge.blogspot.com/2019/10/resensie-wam-carstens-eh-raidt-die.html Besoek 23 Maart 2025
Afrikaans is een van 3 tale wat binne die bestek van ongeveer 100 jaar amptelike status verwerf het. Soos Hebreeus en Maleisies (bahasa Melayu Malaysia). ‘n Land met 111 lewende inheemse tale.
Afrikaans is ‘n kreoolse taal. Gesalpeter in hierdie land, soos Breyten Breytenbach Afrikaans beskryf het. Dit is ook al ‘n bastertaal, ‘n gemorstaal (Hans du Plessis se klinkende term), ‘n verneuktaal genoem.
Daar is meer woordeboeke en digbundels in Afrikaans as in enige ander taal in Afrika. Vele kompendiums en literatuurgeskiedenisse. Daar is webwerwe soos Versindaba waar digters publiseer en artikels verskyn. Vertalings uit soveel tale dat ‘n mens nie kan byhou nie. Toe my tas in Parys agterbly met ‘n reis na Colombië, was ek beangs dat Louis Eksteen se Sinoniemwoordeboek vir altyd weg sou wees.
En tog moet ons by herhaling verneem dat die taal aan die uitsterf is. ‘n Mantra wat my sedert my eerste studies al agtervolg, sover terug as in 1975. ‘n Taal, soos hierdie een, verdwyn nie sommer nie. ‘n Taal soos Afrikaans het te veel hekwagters, bewaarders en kanoniseerders. En dekoloniseerders. Daar is immers J.C. Steyn se Tuiste in eie taal en sy uitstekende biografie oor N.P. van Wyk Louw in twee dele.
Afrikaans as standaardtaal met die vele sytakke soos Kaaps, Griekwa-Afrikaans, Namakwalands, tsotstitaal, ensomeer, transformeer voortdurend. En dan die verskillende uitsprake van Afrikaans. Omdat hierdie spreker nie ‘n taalkundige is nie, maar ‘n woordsmid gaan ons eerder fokus op Afrikaans se klipwerk.
II
Op ‘n reis deur Suid-Amerika koop ek ‘n tarotstel van Machu Picchu. En hierdie stad is verewig op my bloemlesing se voorblad met reisverse: Visums by verstek.
Kom ons begin by die groot kanoniseerder D.J. Opperman se bekende gedig “Te klip om te boom”:
Klip kan net klip,
sy teel is onderverdeel
tot stomme klippertjies
duinend rondmeel
Boom kan net boom
word langer en ook swanger
tot singende boompies
voël om die voorsanger
Maar voorwaar:
voor boom kan boom
moet klip eers klip,
en klip teel swaar
glo miljoene jaar.
Klip teenoor boom. Die klippe is stom, maar die bome sing. ‘n Beeld wat die singende voëls voorstel. En die klippe teel moeisaam en stadig.
Op al my peregrinasies deur die jare, tel ek klippe in vreemde landskappe op. Fassinerend hoe anders klippe in Nagasaki lyk as die klippe in Turkye of Machu Picchu. Dié in Nagasaki is swart, donker – asof dit ‘n somber geskiedenis weergee, teenoor die ronde klippe in Turkye. Die klippe in Machu Picchu wat op ‘n rak in my kombuis staan, het skerp punte. Dit vertel iets van hoé moeisaam dit was om hierdie stad te bou.
Klippe. Dink net hoeveel gedigte bestaan daar nie oor klippe nie. D.J. Opperman se “Te Klip om te Boom” of die gedigte van Wilma Stockenström, Ina Rousseau, Johann de Lange en Antjie Krog het eweneens oor klippe gedig, soos die digter Ilse van Staden. Om enkele name uit te sonder.
Wanneer ‘n mens nalees oor die ars poetica, die gedig oor die kuns van gedigte skryf, kan jy spesifiek ‘n klip gebruik om dit te verduidelik. Die Tien Gebooie is op kliptafels geskryf en iets wat onveranderlik is, word beskou dat dit in klip geskryf is. Idiome oor klippe is volop.
N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk” moet eweneens betrek word. ‘n Representasie van die digter se Sutherlandse jeug geskryf in Amsterdam. Daar is verskillende stemme aanwesig in hierdie reeks wat in J.C. Kannemeyer se woorde ‘n hele wêreld van liefde, haat, vreugde en verdriet opsluit. En hiermee sluit hy aan by die Maleise pantoens en Spaanse coplas (1978:425). En die Spaanse coplas het Uys Krige vertaal in Spaanse dans.
Inderdaad Poësie uit die verre lande saamgestel deur M.M. Walters.
Hier is een:
Elke korrel stof
kan ek in’n copla verander.
Skaars klaar met een
of hier sing reeds ‘n ander.
(1991:102)
So dig Van Wyk Louw:
die katstert en die angelier
verlede jaar was die kind nog hier
die swart rapuis en die besembos
hoe ‘t jy my dan nou gelos
Katdoring of katstert (Asparagus setaceus) is ‘n varingagtige rankplant in die genus Asparagus. Hoewel die plant soos ‘n varing lyk, is dit nie regtig een nie. Soos die naam aandui, is dit eintlik ‘n aspersiesoort.
Euryops floribundus is ‘n struik wat tot die Asteraceae familie hoort. Die spesie is endemies in die Oos-Kaap waar dit wydverspreid voorkom. Die plant het ‘n magdom plaaslike name: harpuisbos, kamdebooharpuis, rapuis, soetharpuis en vetrapuis.
https://af.wikipedia.org/wiki/Katdoring Besoek 23 Maart 2024
En hierdie klippers is vertaal na Duits deur Robert Schall. En hierdie universiteit huisves dan ook belangrike vertalers: Johann Rossouw, Naòmi Morgan, H.J. Pieterse se aangrypende Rilke-vertalings en die reeds genoemde Robert Schall, om enkele name uit te sonder. Verder is daar Gunther Pakendorf se Brecht-vertalings en uit Vlaams Daniel Hugo en Fanie Olivier. Wium van Zyl uit Nederlands.
En die werk van M.M. Walters as samesteller van vertalings moet vermeld word.
Die vertaling kan gesien word as varingagtige rankplant.
Die oënskynlike eenvoud van die “Klipwerk”-reeks is alom bekend.
schau die firlefänzchen
er tritt nach allen seiten
oben auf die diemendecke
unten in das diemenbecken
*
kyk die fieteljienies
alkant toe trap hy
bo in die mied se blom
onder in die mied se kom
https://versindaba.co.za/2020/03/05/n-p-van-wyk-louw-50-robert-schall-vertaling-in-duits-2/ Besoek 23 Maart 2025
https://open.uct.ac.za/server/api/core/bitstreams/39f17323-2d3c-4ece-80c9-441ffdf229be/content
frippery
/ˈfrɪp(ə)ri/
noun
noun: frippery; plural noun: fripperies
showy or unnecessary ornament in architecture, dress, or language.
“a strictly business building with not a hint of frippery”
Op die internet: frivolous.
Hier is ander klipwerke:
“die swart klip waar jou vuur was
is byna dood gereën”
“die middag voel na warm as
die voetpad en die klipsweet
die sit aan jou voetsool vas”
“die klipbanke is koud”
Die digter Louw praat vanuit sy egosentriese ruimte met verskillende vereenselwigings. Geografies, metafisies of temporeel begrens, verduidelik Henning Snyman dit vir ons in Mirakel en muse op bladsy 206. Daardie semantikus wat die taalkunde en letterkunde versoen (het).
Aan wie behoort hierdie klipverse? Aan Van Wyk Louw of die vele stemme wat ons hoor? Is dit kulturele appropriasie of bewaring? Dalk eerder bewaring soos klippe in ‘n mosaïek.
En die verskillende stemme in Afrikaans is opmerklik. Nes die verskillende diskoerse en tradisies. Van Antjie Krog tot Ronelda Kamfer. Van Nathan Trantraal tot Jolyn Philips. Met Ashwin Arendse se aangrypende Swatland.
Arendse bring klank tot lewe deur die vernuwende vergestalting van die bry-r-klank in Swartlandse Afrikaans wat hy met ‘n ġ-simbool aandui — die geromantiseerde ghaynsimbool uit Arabies-Afrikaans.
Dit staan op die bemarkingsbrief. https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780795710070
Liberty Life
Voo ek in my kooi klim
sal ek my laaste moed bymekaaskgap,
innie noode gan hal en
alles saamvou innie syde
die way Muslims iet, en bid
om in my slaap dood te gan.
Sag en sone pyn, van natural causes.
Soedat ie polis ytbetaal en my tanie
narie funegal mette smile bank toe kan stap.
Vi al my anties en uncles,
allie winkels ennie bank
kan tgugbetaal.
Lekke kan liewe,
innie black.
Met bgoes en sustes
op wie se skoue sy kan hyl
wanne sy oppe dag haa laitie mis.
(Ashwin Arendse)
Daar is soveel registers in ons digkuns. Johann de Lange se gesprekke met Louw en die dood van hierdie digter het die algebra van nood weer na vore gebring. So word my nood verwoord:
Stanno tutti bene?
Soos Salvatore Quasimodo
leer, staan ons elkeen alleen
op die hart van die aarde.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Deur ‘n straal van die son
deurboor en skielik ja skielik
word dit aand, nee nag.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Tyd is glo die skool waarin
ons leer, tyd is die vuur
waarin ons brand, meen
Delmore Schwartz alleen,
‘n versaakte in ‘n lykhuis deur
nagwandelinge erg verweer.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Lorca wys op die hemelse heuning
vloeiend uit die onsigbare
heuningkoek soos verbittering
genaamd poësie, in die siel
vervaardig; want dig is
speel met vuur, skryf Cussons.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Die meeste sterre is lankal dood,
meen De Lange soekend
na die stil punt van die aarde.
Alles is wel, dit weet ons wel.
Met Eugenio Montale skyn
‘n rosekrans van roes en pers
met die son ‘n trompetgeskal.
En ek? Tussen oggend- en aandster
wetend mý spitsberaad blote
naskynsels van jy-het-net-verdwyn.
So alles is wel in hierdie private hel.
So alles is wel in hierdie private hel.
Daar is verder Johann Lodewyk Marais se ekologiese verse, Gilbert Gibson se sogenaamde “territoriumskepping en taalstottering” of sogenaamde language poetry. Dan is daar sangers soos Coenie de Villiers waar die lirieke dikwels gedigte word.
Ons ken Hans du Plessis se Griekwa-Psalms. En die volgende digters is bekroon met die Hertzogprys aldus die webruimte:
- 1916 – Totius (Trekkerswee)
- 1926 – A.G. Visser (Gedigte)
- 1928 – A.G. Visser (Rose van herinnering); C.M. van den Heever (Die nuwe boord)
- 1934 – Totius (Passieblomme); C. Louis Leipoldt (Skoonheidstroos); W.E.G. Louw (Die ryke dwaas)
- 1937 – I.D. du Plessis (Vreemde liefde en Ballades); N.P. van Wyk Louw (Alleenspraak)
- 1940 – N.P. van Wyk Louw (Die halwe kring)
- 1943 – Elisabeth Eybers (Die stil avontuur en Belydenis in die skemering)
- 1947 – D.J. Opperman (Heilige beeste)
- 1951 – Toon van den Heever (Gedigte 1919, omgewerk tot Eugène en ander gedigte 1931)
- 1962 – Ernst van Heerden (Die klop)
- 1965 – N.P. van Wyk Louw (Tristia)
- 1968 – Boerneef (postuum) (volledige oeuvre)
- 1971 – Elisabeth Eybers (Onderdak)
- 1974 – Uys Krige (Uys Krige: ‘n keur uit sy gedigte)
- 1977 – Wilma Stockenström (Van vergetelheid en van glans)
- 1980 – D.J. Opperman (Komas uit ‘n bamboesstok)
- 1983 – Sheila Cussons (volledige oeuvre)
- 1984 – Breyten Breytenbach (Yk)
- 1987 – T.T. Cloete (Idiolek en Allotroop – sy ander werke, Jukstaposisie en Angelliera is eervol vermeld)
- 1990 – Antjie Krog (Lady Anne)
- 1993 – T.T. Cloete (Met die aarde praat)
- 1996 – Ina Rousseau ( ‘n Onbekende jaartal)
- 1999 – Breyten Breytenbach (Oorblyfsels: ‘n Roudig en Papierblom)
- 2002 – Henning Pieterse (Die burg van hertog Bloubaard)
- 2005 – Petra Müller (Die aandag van jou oë)
- 2008 – Breyten Breytenbach (Die windvanger)
- 2011 – Johann de Lange (Die algebra van nood)
- 2014 – Marlene van Niekerk (Kaar)
- 2017 – Antjie Krog (Mede-wete)
- 2020 – Johan Myburg (Uittogboek)
- 2023 – Antjie Krog (Plunder)
https://af.wikipedia.org/wiki/Hertzogprys Besoek 23 Maart 2025
Almal vier Afrikaans 100 in teenstrydige en belangrike diskoerse. Afrikaans weet ons is beslis ouer as ‘n honderd jaar.
Die titel van die digbundel waaraan nou gewerk word, heet Swart rapuis. Die titel is geskaai by Van Wyk Louw.
Ten slotte ‘n gedig van Johann de Lange wat finaal vertrek het, maar verewig is in ons digkuns:
My woorde is klippe
My woorde is klippe: party glad
wat rol van die tong, ander plat
of met skerp kante. Implemente.
My woorde berg diamante,
diertjies & plante, my woorde
bewaar die stadige aanwas
van kontinente. Kloof een
& ‘n ammoniet varing
oop, ‘n gesternte, ‘n taal.
My woorde bestaan al
van voor die geboorte
van die melkweg,
in die sterstof van die oerknal.
Dit is dan tersaaklik om Julia Kristeva se Desire in language (1980) weer te betrek. Intertekstualiteit is vir haar is ‘n mosaïek van aanhalings. Enige teks is ‘n absorpsie en transformasie van ‘n ander teks.
Hierom is poëtiese taal altyd dubbel-sinnig.
Joan Hambidge
Bibliografie:
Carstens, W.A.M. & Raidt, E.H.. 2017. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Pretoria. Protea Boekhuis.
Davids, Achmat. 2018. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Verwerk deur Hein Willemse. Vertaal deur Danie C. Botha. Kaapstad: SBA.
Eksteen, Louis. 1981. Afrikaanse sinoniemwoordeboek met antonieme. Pretoria: J.L. van Schaik.
Hambidge, Joan. 2011. Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.
Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band I. Kaapstad: Academica.
Kristeva, Julia. 1980. Desire in language: A Semiotic approach to literature and art. New York: Columbia University Press. Vertaal deur Thomas Gora, Alice Jardine en Leon S. Roudiez.
Louw, N.P. 1956. Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Manguel, Alberto. 1996. A History of Reading. Londen: HarperCollins.
Manguel, Alberto & Gaudalupi, Gianni. 1980. The Dictionary of Imaginary Places. New York: Harcourt, Brace, Jovanovich.
Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg.
– 1998. Van Wyk Louw: ‘n Lewensverhaal – J. C. Steyn (Deel 1 en Deel 2). Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, Christo. 2018. Van Afrikaans gepraat. Pretoria: Lapa.
Walters, M.M. (red.) 1991. Poësie uit die verre lande: Spaanse dans. Spaanse gedigte vertaal deur Uys Krige. Johannesburg: Perskor.
Endnotas:
1. Te klip om te boom?
Opperman
As klippe kon teel
glo meer as miljoene jare,
sou die klippe in my woning
gesprokkel in Machu Picchu en Nagasaki,
elders uit Jerusalem en Varanasi,
‘n klein heilige altaar kon word.
Klipstapels verklap ‘n brandoffer,
soos die steen van die opening weggerol
met die engel se gedaante soos weerlig,
sy kleding wit, ja witter as sneeu.
Daar was ‘n aardbewing toe
daardie engel uit die hemel neergedaal het.
Nou wag ons steeds op ‘n wonderwerk
van vrede, wyl ek my woorde stilweg offer.
https://versindaba.co.za/2024/10/02/joan-hambidge-te-klip-om-te-boom/
2. Steinwerk. Eine zweite Auswahl
die nelke und der fingerhut
sie war mir letztes jahr noch gut
der ginster und der wegerich
warum lässt du mich jetzt im stich
*
rot ist die kirsche, der pfirsisch war gelb
gestern abend regiert‘ ich die welt
das holz ist alle, das bett ist kalt
Montag ist das herz wieder alt
Klipwerk.’n Tweede keur
die katstert en die angelier
verlede jaar was die kind nog hier
die swart rapuis en die besembos
hoe ‘t jy my dan nou gelos
*
die geel-perské en die langelyspeer
ai hoe ‘t ek gistraand regeer
die hout is op en die katel is koud
Maandag is die hart weer oud
*
Jafta, Josef en September,
wie was by die vat
Oktobermaand is nagmaal
wie was by die vat
watter man moet die trouwyn koop
watter man moet die kind laat doop
wie was by die vat
slaat die prop in, slaat die prop in
wie was by die vat
Kat
se blad
*
moenie krap waar die vlooi byt
krap is vrywe, vrywe slyt
*
Verdriet is my voornaam
en Trou is my van
maar hierdie kind
gaan Welgesind
en Traak-my-tog-nie hiet
*
my voete loop na Monteku
maar ek gaan Woester toe
lê lê in die wingerd, kind
want ek kom Woester toe
*
skraler as ‘n riet
o, o skraler as ‘n riet
die bloubos het die goue pit
en ek het die verdriet
*
die sindeling die kom so
reier-reier-langbeen aan.
Is dit dalk weer Oupa Jonas?
Sie-en-ga dit is sy naam.
Oorkant agter die skut-kraal
was dit glo weer sulke tyd
nee a, jakkals, ou-kalant,
los vanjaar se lamsvleis uit
*
ek dra die blou steen in my hand
hy vat my hart na anderland
*
die jil-patat is warm, maar
ek wéns dit was koud
die padda wil nie kwaak nie
die padda kry te koud
toemaak onder die velkombers
die jinne sal kom kyk
só lyk die blou bul
láát die kinders kyk
*
kyk die fieteljienies
alkant toe trap hy
bo in die mied se blom
onder in die mied se kom
*
o jou lekker-loop
sies, jou losbeen-ram.
Oupa Skilpad kom maar
weer op gister aan
*
meisie meisie meisiekind
die botterboom is glad en glip
die turksnaald blom al weer só
sy blou slaan in die klip in
*
die soel kind en
die rooi granaat
rinkhalskraai
sy stap kordaat!
die aarde is
so uit die smaak
dis hartseer en
die wit-oog-maak
*
jangroentjie brand die middag
hy maak die kafhok groen
wêreld wêreld wêreld wyd
die kind sy wou dit doen