Winter
Boomtakke hang blaarloos swaar
sabels oor sy kop
waar hy hande in die sakke
na die water wat verby is
in die bruisende Seine staar
voor rye woonstelblokke
wat spookogig opval
waar die Pont Royal
met vyf klipgekapte boë
vanaf die Rue du Bac,
pleks van die veerboot,
van die linkeroewer
se kerktorings en koepels oorsteek
op na die regter met die Sacré-Coeur
en sy hart verstil
al kyk hy na die donker kol
koue water voor hom,
want hy weet eendag
met goud omraam geskilder
sal ’n nuwe lente wag.
na Winter I van Louis Jansen van Vuuren
© Dietloff van der Berg, 2025

