Shaka
Op soek na ‘n beeld van Shaka,
vind ek telkens net hierdie skets:
die gevreesde vegter
as ruwe Afrikaan
deur ‘n veraf pen verbeel,
so ewe flambojant
teen ‘n afdraand
gemaakstaan.
Sy reuse Nguni-skild
bol soos die boegseil
van ‘n skip
en in die verte troon
reeds kruine wit.
Die bokvelklere
soos ‘n verslane stam
gehawend uitgerafel.
En die gompouveer
so swierig in die swart
kopband gemonteer:
die gespierde woestaard
se verhewe status
so makaber hier verbeel.
Maar soveel trots.
Daardie barshou-blik.
Oë die ene vuur,
dit kon geen kwas
ooit ontglip;
immer waaksaam,
of is dit haat:
die impi-koning
wat eerder anderkant
toe staar?
Westerling, jy die skertsende
sketser van wie weet waar:
verbeel jou Sy Hoogheid
begluur jou karikatuur
en lewer kommentaar:
Op so ‘n prent sal ek
in afsku spoeg!
En daai gooi-assegaai
in my regtervuis gedruk:
wat vir ‘n ding is dit?
Want net lafaards maak
op ‘n afstand dood
en ék, die magtige vegterkoning,
kort verdomp g’n stut!
Maar as my bulhorings
óm julle linies krul,
raak man teen man
tot die laaste asem slaags.
Tot elke knie voor
voor my skild se stamp
sal knak.
Ja, hoor die stormwind
deur alle krale druis:
Iklwa! Iklwa! Iklwa!
blits die lemme
van my steekspiese
tussen duisende ribbes
in en uit.
***
Verradelike broers,
hier lê ek leeggebloei.
Deurboor deur
‘n lem uit my eie kraal.
Maar wees verseker,
ná my sal slegs
die swaeltjies heers.
En die prentjiemakers
en pryssangers
uit die veroweraars se laers,
wat sou dié gepeupel
ooit kon weet
van ‘n koning
se moederlief
en leed.
© Hennie Nortjé, 2025

