laat dié wat oë het, voel
(n.a.v. Marriage Market – Tienie Pritchard)
die naakte liggaam, het hy geglo,
spreek meer as ’n duisend woorde –
my lyf beaam onwillekeurig
soos ek staar na die beliggaming
van dit wat verborge lê
op die semantiese slagveld
van gesneuwelde klanke
dit bly ongesê
want wanhoop in die oortreffende trap
is stom
soos ‘n afwerende hand,
gekruisde enkels
en ’n verslae voorkop
teen kneukels en knieë;
sekerlik het die skepper
die klei gebrei in stilte
en gedink –
terwyl hulle wag op hul godot,
iewers op ‘n mark,
ewig kaal in kaïro –
laat dié wat oë het, voel
© Maritha Broschk, 2025

