Avontuur-vlugte
As kind was ek smiddags onrustig:
wou nooit indut of bietjie slaap nie
woelig rondgerol, gewag
tot ouers en familie sluimer
dan die waagstuk: st-i-ll-ie-tjies daar uit-ge-sl-ui-p
(word ek gevang, sal ek die noeps moet proe!)
om veel meer opwindend
in sengende Noord-Kaapse-son
daar buite te gaan speel
om kinder-avonture te beleef:
cowboys op jagtog na die crooks
– altyd Gene Autry as ek kon –
of hoë bome klim en te beklouter
en, hoog teen die asuurblou lug,
tussen die dunste twy-toppe te waag
dat iets dalk ondervoets kon breek
(maar die uitsig asemstelpend!)
sonie blikaspaai en rugby te speel
teen talle groter seuns:
tenger ek is in arrogansie
‘n fris Chris Koch, Salty du Rand
maar vlugvoetig soos Tom van Vollenhoven
sodat ek systap, swenk, pypkan, en…….. druk!
en so van vrye vleuels gepraat:
om met die foefie-slide te vlieg
tot in die koel kanaal se laafnis
of gewaagd uit boomtoppe te val-duik-tuimel
sonder vlerke sweef soos Superman
en, so in die verbygaan, ‘n ander tak raak gryp
om grasieus grond-toe te daal
maar nou, met elke gryskop-jaar,
beleef ek ouderdom se stramme eise
dan dié besef:
ek kan meer bomate eskapades
(selfs beter as die Marco Polo-reise)
kleurryk in hubris-fantasie ervaar
as ek duttend sweefhang
op ūbermensch-vlugte sal gaan
utopies vry en ingenome
in la-la-land se doedoe-doeseldrome.
© Meyer van Rensburg, 2025

Genietlik, Meyer!