
Mari Grobler is in 1954 op Uitenhage gebore waar sy steeds woon. Sy is bekend as skrywer, digter, beeldende kunstenaar en liriekskrywer. Grobler is veral bekend vir haar kinder- en jeugverhale wat in verskeie tale vertaal is.
Mari studeer Grafiese Kuns aan die Port Elizabeth Technikon. Sy bestee meeste van haar tyd aan beeldende kuns en hou ook talle uitstallings in Kaapstad en die Oos-Kaap. Op ’n deeltydse basis gee sy klas by die Tegniese Kollege op Uitenhage en is ook ’n lid van die amateurtoneelgroep Uitek.
Sy het reeds twaalf boeke, waaronder jeugwerke, kinderboeke, romans en digbundels by verskillende uitgewers gepubliseer.
Sy spits haar egter vernaamlik toe op kinder- en jeug-boeke waarvoor sy ook etlike pryse ontvang. In 1992 kry sy die ATKV-kinderboektoekenning vir Die huis met groen oë. In 2009 wen Siyolo se trui die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke en is dit ook die wenner van die Exclusive Books / Ibby-prys vir die beste geïllustreerde Suid-Afrikaanse kinderboek. Dit haal ook die International Books for Young People (Ibby) se erelys. Haar jeugwerk word opgeneem in verskeie versamelbundels waaronder Die sonroepertjies en Stippe stappe stories.
Grobler debuteer in 1990 met haar digbundel Wat sigbaar is in amber. Eggo’s in bewolkte water verskyn in 2004 by Protea Boekhuis en in 2011 verskyn nog ‘n digbundel, Toe dit nog vroeg was, by Tafelberg Uitgewers.
Heelwat van haar werk het ook in versamelbundels verskyn waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Poskaarte, Honderd jaar later, Honderd Dichters en die Poetry Institute of Africa se Millennium Moment. In 2020 word haar gedigte ook in Vers en vrou opgeneem.
Sy skryf ook verskeie liefdesromans wat meestal in Lapa-Uitgewers se Romanza-reeks uitgegee word.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
