Desembergedig
trapklip no 12
in die volle vloed van elke jaar
lê die trapklippe gereed in twaalfs
vir die onseker reis na
trapklip no 12…Desember
ek vat hom
en ek doen my balanseer truuks
deur die laaste stukke skoolwerk
tranerige afskeide van graad sewes
en kollegas
die brose bel van Kersfees
kerse vir gestorwenes
en Desemberverjaardag-kersies
‘n oujaarsdiens wat seën
oor die volgende twaalf trapklippe moet spreek
en pare oorblywende familievoete
in die middernagtelike kerkbankgang
wat byna elke tweede jaar minder is
laat sink trapklip no 12 finaal
in die vergetelheid van die verlede
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
