Author Archive

PEN Afrikaans. Nuusbrief: Oktober 2020

Tuesday, October 20th, 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Aanlyn kursusse: laaste sluitingsdatum op hande  

Die aanlyn kursusse wat ons vanjaar met die ondersteuning van PEN International aanbied, het afgeskop.

Marita van der Vyver het die afgelope Saterdag die eerste sessie van die aanlyn kursus oor die skryf van verhale behartig en word in die volgende sessie deur Chase Rhys bygestaan. Voorlopige terugvoer is uiters positief. Die kursusgangers baat reeds baie by die kursus en voel aangevuur om verder te skryf en te skaaf. Die groot belangstelling in dié kursus het beteken dat ons nie alle aansoeke kon akkommodeer nie en mense moes wegwys. Ons ag dit as ’n goeie aanduiding dat daar aanvraag is vir so ’n meer toeganklike skryfkursus – ’n voordeel van die virtuele aanslag – en ons hoop dat ons die kursus volgende jaar sal kan herhaal.

Hierdie Saterdag is Kerneels Breytenbach en Charles Siboto aan die beurt in die aanlyn resensiekursus oor die beoordeling van jeugliteratuur. Kursusgangers moes die nuwe roman Branderjaer deur Joha van Dyk vir die kursus resenseer as praktiese komponent van dié kursus oor die resensiekunde.

Die sluitingsdatum wink vir die derde en laaste kursus in ons reeks van kursusse. As jy belangstel en nog nie ingeskryf het nie, stuur vandag nog jou inskrywing na penafrikaans@gmail.com vir ’n plek by dié aanlyn kursus oor die skryf van jeugverhale. Daar is ook beurse beskikbaar. Anzil Kulsen en Jan Vermeulen bied die kursus aan en dit beloof om ’n hoogtepunt te wees.

PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering

Volgende week hou ons virtueel algemene jaarvergadering op 21 Oktober om 18:00 via Zoom.
Ons het reeds die agenda en verlede jaar se notule aan almal gestuur, sowel as die Zoom-skakel.

Slegs opbetaalde lede se deelname kan tot die daarstel van ’n kworum bydra. Maak asseblief seker dat julle ledegeld vir 2020 betaal is. Afskrifte van ledegeld-fakture kan aangevra word by penafrikaans@gmail.com.

Ons sien uit om julle volgende week te sien.

In memoriam: Ampie Coetzee en Danny Titus

Sedert ons vorige nuusbrief het twee groot geeste ons verlaat.

Ons het met hartseer verneem dat Ampie Coetzee oorlede is. Hy was ‘n letterkundige, ‘n baanbreker as uitgewer, ‘n stigterslid van die Breytenbachsentrum, waar hy steeds nou betrokke was, ‘n taalstryder en ‘n vriend vir menige.

Lees hier ‘n Taalgenoot-artikel oor Taurus, die uitgewery waarvan hy medestigter was en wat ‘n belangrike rol gespeel het in die stryd teen sensuur, en hier sy meningstuk oor die vernietiging van taal as ‘n vernietiging van denke. Die wêreld is armer vandat hy weg is.

(Ampie Coetzee by PEN Afrikaans se eerste ledevergadering op 12 Oktober 2012. Foto: Naomi Bruwer)

 

Danny Titus, wat sedert Julie vanjaar in ’n koma was, is op 18 September oorlede op die ouderdom van 63. Ons eer sy nagedagtenis en deel hier skakels na huldeblyke met innige waardering vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalgemeenskap én die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap.

(Foto’s: Izak de Vries)

In ’n huldeblyk op LitNet skryf Danie van Wyk:
“Hy was ’n taalaktivis wat nooit geskroom het om die saak van Afrikaans te bevorder nie. Danny was ’n regsgeleerde, ’n menseregtekommissaris, ’n stryder vir die regte van vernalate Afrikaanssprekers om hul plek aan die Afrikaanse tafel as gelykes in te neem en saam as vennote die saak van Afrikaans te bevorder en te ondersteun.”

Sien die huldigingsartikel op Afrikaans.com sowel as die mediaverklaring van die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie, waar dr. Titus as kommissaris gedien het en ’n impakryke bydrae gelewer het.

Kortlyste vir die ATKV-Woordveertjies aangekondig

Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord. Wenners sal vanaf 19 – 23 Oktober op die ATKV se Facebookblad bekend gemaak word.

Hartlik geluk aan die finaliste (alfabeties gelys volgens van) in die volgende kategorieë:

ATKV-Prosaprys

  • Die kinders van Spookwerwe – Lize Albertyn-du Toit (Human & Rousseau)
  • In ’n land sonder voëls – Harry Kalmer (Penguin Random House)
  • Die verevrou – Jan van Tonder (Human & Rousseau)

 

Prys vir Liefdesroman

  • Die kind uit die wingerd – Helene de Kock (Human & Rousseau)
  • Dromers – Irize Loots (Naledi)
  • Lira – Chanette Paul (LAPA Uitgewers)

 

 Prys vir Poësie

  • Grondwater – Marlise Joubert (Protea Boekhuis)
  • Jan, Piet, Koos en Jakob – Loftus Marais (Human & Rousseau)
  • Brisant – Hein Viljoen (Naledi)

 

Prys vir Romanses

  • Halsoorkop verlief – Dina Botha (Romanza)
  • Fransi en die filmster – Anita du Preez (Satyn)
  • Tweede kans op geluk – Sophia Kapp (Romanza)

 

Prys vir Spanningslektuur

  • Klikbek – Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
  • Anderman se vrou – Chris Karsten (Human & Rousseau)
  • Sewe-en-veertig – Irma Venter (Human & Rousseau)

 

Prys vir Dramateks

  • Verwyt – Nicola Hanekom
  • Wilde-als – Wessel Pretorius
  • Opdrifsel – Philip Rademeyer

 

Prys vir Niefiksie

  • In my vel: ’n Reis – Azille Coetzee (Tafelberg)
  • Christo Wiese: Risiko en rykdom – TJ Strydom (Tafelberg)
  • Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)

 

kykNET-Rapport-pryse: Wenners aangekondig

’n Sprokie van 176 bladsye oor ’n middeljarige lykbesorger wat ’n rede kry om in wense te glo is die groot wenner van vanjaar se kykNET-Rapport-boekpryse. Die novelle Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg is met twee van die vier boekpryse bekroon wat op Saterdagaand 19 September 2020 aanlyn toegeken is.

Terselfdertyd is aangekondig dat ’n beurs bewillig word om groter diversiteit in die bestaande Afrikaanse skrywerskorps te stimuleer.

Blye nuus. Hartlik geluk aan al die wenners.

Lees die volledige persverklaring hier.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2020

Ons sluit oudergewoonte op ’n positiewe noot af: met die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alle sukses aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Nuwe bundel. Henriëtte van Wyk: ’n Bruin blaar tuimel

Tuesday, October 6th, 2020

Henriëtte van Wyk

’n Bruin blaar tuimel

Voorblad

Henriëtte van Wyk verbeeld uiters raak (en nie sonder humor nie) die naderende wegtuimel vanaf dit wat ons lewe noem. Enersyds word daar oop-kop vrede gemaak met die erosieproses. Andersyds verwonder die liriese spreker haar daaraan dat sy dit wat voorheen misterieus en onsienbaar was, juis nóú – vanweë die stadiger pas – kan uitken en geniet.

– Dr. Chrisna Beuke-Muir, Senior Lektor (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit van Namibië en medestigter van Windhoek Woordfees (2013)

Oor die outeur

Henriëtte van Wyk is gebore en getoë in Namibië. Mense, musiek, Afrikaans en haikoes is haar passie. In haar 33-jarige loopbaan as onderwyser het sy verskeie vakke onderrig (Gr. 1 tot Gr. 12). Daarvoor, asook vir haar poësie, ontvang sy sedert 2007 verskeie ATKV-toekennings.

Henriëtte is die stigter van ’n nasionale skoolskryfkompetisie. Sy tree ook op as digkunsbeoordelaar.

In 2016 publiseer sy ’n digbundel, Padhaikoes uit Namibië. Van haar gedigte is in 2018 en 2019 in Stemme uit Namibië 1&2 opgeneem. In die 2019 Windhoek Woordfees-skryfkompetisie deel sy die tweede plek in digkuns.

’n Bruin blaar tuimel is haar volwaardige debuut.

 

[Minimal Press 2020. Prys: R220.00. Formaat: 198,4 x 128,5 mm, sagteband, 94 bladsye. ISBN: 978-1-990989-24-7]

Nuwe bundel. Charlotte van den Broeck: Kameleon (vertaling deur Daniel Hugo)

Tuesday, October 6th, 2020

Charlotte van den Broeck

Kameleon

VERTALER: Daniel Hugo

 

Voorblad

Die Belgiese digter Charlotte van den Broeck het eers haar merk as voordragkunstenaar in Europa gemaak. Met die verskyning van haar eerste poësiebundel Kameleon in 2015 is sy geloof as vernuwende en oorspronklike nuwe stem. Kameleon is ’n reeks op die eerste oogopslag naïewe maar ironiese, speelse en subversiewe gedigte wat ’n meisie se identiteitssoektog na vrouwees kaart. Dit is ’n ontdekking van die lyflike en van taal, en delf deur herinneringe, landskappe en vorms. Van den Broeck se poësie strek van speelsheid tot introspeksie, en onheilspellende verbeelding kenmerk elkeen van dié treffende gedigte.

Oor die outeur

Charlotte van den Broek is gebore in Turnhout, België, in 1991. Nadat sy Engels en Duits studeer het, doen sy haar meesters in woordkuns en teater by die Koninklike Konservatorium in Antwerpen. Sy het twee bundels publiseer: Kameleon (2015), wat die Herman de Coninck debuutprys vir poësie ontvang het, en Nachtroer (2017), genomineer vir die VSB Poësieprys 2018 en die Ida Gerhard-prys. Haar poësie is in Engels, Duits, Spaans, Frans, Serbies en Arabies vertaal. Sy het in 2016 die Frankfurt Boekebeurs geopen, saam met Arnon Grunberg. In 2017 was sy van daardie jaar se Versopolis-digters, en het opgetree in verskeie Europese feeste, insluitend die Ledbury in die VK. Sy is bekend vir haar unieke voordragkuns.

Charlotte van den Broeck het Woordfees in 2018 besoek as besoekende Nederlandse skrywer. Sy is ’n jong digter wat tot ’n jong generasie lesers sal spreek. Haar voorlesings kan op YouTube en elders op die internet besigtig word.

Oor die vertaler

Daniel Hugo (1955) het Afrikaanse en Nederlandse letterkunde studeer aan die universiteite Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Leuven. In 1989 word ’n DLitt aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Hy was ’n literêre programmaker by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en is deesdae ’n voltydse vertaler en digter. Sy jongste digbundel, Openbare domein, het in 2018 verskyn. Hy het reeds meer as vyftig boeke uit Nederlands en Engels vertaal. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee keer bekroon vir sy vertalings uit Nederlands, naamlik vir Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn.

 

[Protea Boekhuis 2020. PRYS: R195.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, 64 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1021-1]

Pen Afrikaans. Nuusbrief: September 2020

Saturday, September 12th, 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

Kortlyste aangekondig: kykNET-Rapport-boekpryse en Boekresensent van die jaar

Die kortlyste vir die KykNET-Rapport-boekpryse en Boekresensent van die jaar is onlangs aangekondig en dit is vir ons ’n plesier om al die benoemdes hartlik geluk te wens.

Die kykNET-Rapport-boekpryse het vanjaar die meeste inskrywings ooit gelok. Die pryse word toegeken vir uitnemende Afrikaanse fiksie en niefiksie wat gedurende die vorige kalenderjaar verskyn het. Hier is die kortlyste:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

  • In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer (Penguin Random House)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
  • Die verevrou deur Jan van Tonder (Human & Rousseau)

 

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

  • Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake (Jonathan Ball)
  • Boodskapper van die gode deur Murray la Vita (Lapa)
  • Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)

 

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM

  • Klikbek deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Smit Motors deur Réney Warrington (Lapa)
  • Grensgeval deur Marita van der Vyver (Penguin Random House)

 

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERK (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)

  • Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (Tafelberg)
  • Strafjaart deur Theo Kemp (Penguin Random House)
  • Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-duToit (Human & Rousseau)

 

Die wenners word op Saterdag 19 September om 18:00 aanlyn aangekondig.

Met die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse word erkenning gegee aan uitnemende Afrikaanse resensies wat in 2019 verskyn het. Drie pryse word toegeken: vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik sowel as langer, tipies akademiese resensies. Hier is die kortlyste:

Fiksie:

  • Willie Burger: “Kies ’n boek” (oor Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach, Vrouekeur, 1 Februarie 2019)
  • Nadine Petrick: “Zola” (oor Zola deur Johan Jack Smith, LitNet, 24 Oktober 2019)
  • Marita van der Vyver: “Benderoman is briljant” (oor Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal en Jason Reynolds, Rapport Weekliks, 20 Januarie 2019)

 

Niefiksie:

 

Langer resensies:

 

Gisela Ullyatt (1977 – 2020): ’n Huldiging deur Bernard Odendaal

Dat dit steeds weer “onherroeplik winter” word – daaraan herinner Johan Myburg ons in die gedigfrase van hom wat Gisela Ullyatt benut as motto tot haar eie digbundel van Februarie vanjaar.

Pynliker nog steek dié waarheid as dit om ʼn alte voortydige afskeid gaan. Gisela was maar in haar vroeë veertigs toe kanker haar onlangs van ons weggeneem het. [D]ie waarheid oor duiwe (Protea) was haar debuut. Almal wat onder die bekoring daarvan gekom het, het uitgesien na hoe haar digterstem nog herhaaldelik gaan opklink in ons Afrikaanse leefwêreld. Ook as dosent, resensent, vertaler en blogskrywer was daar nog soveel vir haar om te doen.

Ek het haar leer ken as ʼn nooi Weingartz, in die middel-1990’s, toe sy ʼn voorgraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat was. Sy het deelgeneem aan ʼn informele poësiewerkswinkel wat onder my (onervare) leiding gestaan het. Hoe verskrik-opgewonde ek was om haar ingeskrewe gedigte ter tafel te lê vir groepbespreking, onthou ek nog goed. Die stempel van veelbelowendheid was onmiskenbaar. Haar fyn lees van ander deelnemers se gedigte het ʼn loopbaan as literator voorspel. Wyle George Weideman, wat in daardie tyd ʼn paar maande lank inwonende skrywer by Kovsies was, het geesdriftig met my saamgestem nadat hy die leisels as werkswinkelaanbieder ʼn rukkie by my oorgeneem het.

Haar groot oë en glimlag, haar voorliefde vir fleurige kledy, het ewe opgeval as haar talent. My kollega langsaan by die Engelsdepartement, Tony Ullyatt, was die gelukkige wenner van haar attensies. Heerlik was die gesprekke wat ek met hulle kon hê, smiddae en naweke in my vrou se koffiewinkel in een van die buurte nie te ver van die universiteit af nie. Tony, spitsvondige geselser en keurige versemaker, was kennelik uitgeknip om sielsgenoot vir haar te wees.

Die verskyning van die waarheid oor duiwe was soos ’n verwesenliking van wat nog altyd sou kom. Die bekendstellingsgesprek daaroor in Stellenbosch op skrikkeldag vanjaar, was in alle opsigte ʼn blye weersiens.

Toe word dit winter. En grendeltyd. Gelukkig het sy vir Tony gehad. In “ná ontbyt” skryf sy: “nadat ek my brood gebreek het / dra jy ʼn offer aan / farmaseuties presies / meet jy elke wit pil af / soos die hoëpriester van narkotika”. Vakman-waardig. Enduit.

In ʼn resensie het Daniel Hugo die waarheid oor duiwe beskryf as ʼn bundel wat die hart steel. Inderdaad. Die gemis sit hier in die borskas. Nes die “leë vierkant / op die vergeelde gras” nadat die “ogiesdraadkasteel” vol “lemoenduiwe royalty” verwyder is, waarvan haar bundeltitelgedig getuig.

Bernard Odendaal

 

Aansoeke ingewag: LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool


Ter uitbreiding van LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig, bied hierdie twee instansies van 12 Oktober tot 1 November 2020 ’n mentorskapprogram vir belowende jong Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die program is gemik op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou.

Die skrywer en dramaturg Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, sal as mentor optree tydens dié skrywersverblyf op Somerset-Oos.

Daar is nog net ’n paar dae oor om aansoek te doen. Aansoeke sluit op Maandag 14 September om 12:00.

Volledige inligting oor die program is hier beskikbaar.

 

Die wêreld van die skrywer: Tertius Kapp oor literêre verwerkings

In die nuwe artikel in PEN Afrikaans se artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”, besin Tertius Kapp, bekroonde draaiboekskrywer, vervaardiger en dramaturg, oor verwerkings van bestaande tekste vir die silwerdoek. Wat maak ’n verwerking geslaagd? Wat is die slaggate?

Lees sy artikel hier.

 

PEN Afrikaans stel aanlyn kursusse bekend

PEN International se finansiële ondersteuning maak dit vir ons moontlik om vanjaar ons aanlyn bedrywighede uit te brei en ons het besluit om ’n aantal kursusse aan te bied om hopelik vars en diverse stemme te bereik wat die Afrikaanse letterkunde en boekjoernalistiek kan verryk.

Versprei asseblief die woord oor die kursusse en laat weet spoedig as jy ’n plek wil neem. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsig en glo dat die volgende kursusse goeie aftrek sal kry:

  • Skryfkursus: die skryf van jeugverhale
  • Skryfkursus: die skryf van verhale (kortverhale, romans en novelles)
  • Resensiekursus: jeugliteratuur

Sien meer besonderhede onder en kontak ons by penafrikaans@gmail.com met enige vrae.


 

Datum en voorlopige agenda: PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering

Soos die meeste ander geleenthede vind ons algemene jaarvergadering vanjaar virtueel plaas. Hopelik kan ons volgende jaar mekaar weer in die oë kyk, maar vanjaar sal ons op 21 Oktober om 18:00 via Zoom vergader.

Ons sluit hier die voorlopige agenda vir die jaarvergadering in en nooi graag lede om agendapunte teen 30 September na penafrikaans@gmail.com te stuur.

 

Voorgestelde agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2020

  1. Verwelkoming
  2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
  3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
  4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 14 September 2019 in Wellington, en sake voortspruitend daaruit. Die notule is hier beskikbaar.
  5. Voorsittersverslag
  6. Tesourier se verslag
  7. Bestuurder se verslag
  8. Algemeen

Die finale agenda sal by ons Oktober-nuusbrief ingesluit word. Ons verwelkom julle insette voor dan.

 

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

 

Nuwe Afrikaanse boeke in September 2020

Ons sluit oudergewoonte op ’n positiewe noot af: met die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alles sukses aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Heelwat boekgesprekke vind hierdie maand as deel van die Vrystaat Literatuurfees se aanlyn program plaas. Onthou om in te skakel by Vryspraak-digitaal.  Die volledige program is hier beskikbaar.

Nog ’n noemenswaardige aanlyn inisiatief is Stemgrepe op Versindaba, waar gepubliseerde digters se voorlesings van hul eie gedigte gelaai word. Digters wat opnames van hul voorlesings wil maak en bydra, kan hier meer inligting kry.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Nuwe bundel. Hennie Meyer: Winkel van wanklanke

Friday, September 11th, 2020

Hennie Meyer

Winkel van wanklanke

Omslag

Winkel van wanklanke is ’n versameling konkrete poësie – gedigte wat die grense van die gedig as teks en as visuele kunsobjek ophef. Dit is ’n versameling (“’n winkel”) van gedigte, maar is terselfdertyd een kunswerk met onderstaande komponente of bewegings wat tot die geheel bydra. Dit word gedeeltelik in kleur uitgegee, het ’n gedig wat in braille gedruk is, ’n gedig wat op papier gebosseer is, ’n gedig met papier wat in konsertinavorm met die hand deur die digter self gevou is, asook verskeie skakels na die skrywer se webwerf waar videogedigte besigtig kan word. Sodoende word die bundel as objek op papier beklemtoon, maar word die bundel ook na die ruimte buite die papier geneem.

Nie slegs die teks is dus in Winkel van wanklanke belangrik nie, maar ook die ruimte waarbinne dit geplaas word, hóé die woorde op papier gespasieer is, hoe die gedig vertoon, die effek en sensasie van die letters op papier. Deurlopend word die gedigte vergesel met humoristiese en sardoniese kommentaar, woordspel en fyn humor. Vele gedigte is kodes wat deur die interaktiewe leser ontsyfer moet word, en lei tot verskeie interpretasiemoontlikhede.

Winkel van wanklanke is Meyer se debuutbundel en hy skram nie weg daarvan om sowel groot figure in die Afrikaanse digkuns as internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees bevraagteken. Dit is nie bloot ’n bundel nie, maar kan as ’n kunsobjek gesien word. Dit word besonder mooi uitgegee en is elkeen afsonderlik met die hand versorg.

Oor die outeur

Hennie Meyer het homself die laaste dekade as digter van konkrete poësie in die Afrikaanse literêre sisteem gevestig. Sy gedigte het reeds op Versindaba, LitNet, Pomp, Ons Klyntji en Nuwe Stemme 4 (2010) verskyn.

In 2007 neem hy deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge kompetisie met die konkrete gedig ‘Onder die Belt’. Hy het sy eerste uitstalling van sy konkrete poësie by die Tina Skukan gallery in 2008. Hy neem deel aan ’n projek in die maak van kunsternaarsboeke van die Noordwes Universiteit, Oor die einders van die bladsy, in 2009 en in 2012 neem hy deel aan die Melville Poetry Festival met sy uitstalling ‘Winkel van Wanklanke’.

Winkel van wanklanke is sy debuutbundel.

[Protea Boekhuis 2020. Prys: R250.00. Formaat: Sagteband, 137 x 213 mm, 80 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1031-0]

Nuwe bundel. Ryan Pedro: Pienk ceramic-hondjies

Thursday, September 10th, 2020

 

Ryan Pedro

Pienk ceramic-hondjies

Omslag

In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.

Oor die outeur

Ryan Pedro is in 1993 gebore en bring sy grootwordjare deur in Kakamas en op die Weskus. Hy woon tans in Gordonsbaai saam met sy partner, Suzanne, en hulle hond, Onyx. Sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn. Pienk ceramic-hondjies is sy debuutbundel.

 

[Kwela 2020. Prys: R 220,00. Formaat: Sagteband, 72pp. ISBN: 9780795709869]

Nuwe bundel. Antjie Krog: ‘n Vry vrou

Thursday, September 10th, 2020

Antjie Krog

‘n Vry vrou

Omslag

Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word.
‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

Oor die outeur

Antjie Krog is op 23 Oktober 1952 op ’n plaas naby Kroonstad in die Vrystaat gebore. Sy was agtien toe haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, verskyn het. Haar tweede bundel, Januarie-suite, is met die Eugène Marais-prys bekroon en Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon. In 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne.

Antjie het ook as joernalis en prosaskrywer naam gemaak. Country of My Skull (1998), haar verslag oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, ontvang verskeie pryse: Booksellers’ Choice-toekenning, die Hiroshima-stigting se toekenning vir vrede en kultuur, die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys. Dis ook verwerk tot ’n film. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys (UJ-prys) vir skeppende skryfwerk bekroon.

 

[Human & Rousseau 2020. Prys: R 300,00. Formaat: Hardeband, 192pp. ISBN: 9780798180511]

 

Kry afslag op die bundel by Graffiti Boeke

Nuwe bundel. Hennie Aucamp: Oopkardoes

Thursday, September 10th, 2020

Hennie Aucamp

Oopkardoes

Omslag

‘n Bundel guitige verse wat aansluit by die kabaret-wêreld, die sewe doodsondes, ‘n ganse galery bevlektes word ten tonele gevoer met Aucamp se onverbeterlike humor.

‘n Jaar of drie voor sy dood het Hennie vir Johann de Lange dié manuskrip gegee met die opdrag, “Doen daarmee soos jy goeddink.” Dit was vier A4 notaboeke; die verse was met die hand uitgeskryf, en in afdelings opgedeel. Hennie het selfs ‘n kunswerk gekies wat hy vir die omslag wou hê, ‘n werk van Theo Paul Vorster.

Waarom nou? Johann de Lange sê: “Daar het nou genoeg tyd verloop dat ek die nodige afstand gekry het en na die manuskrip as bundel gekyk het. Ek het besluit om benewens die nuwe, ongepubliseerde verse in die bundel ook ‘n aantal vroeër verse in te sluit wat by die wêreld van die verse aansluit, verse wat saamhoort.

Die bundel is vir gedeë liefhebbers van Aucamp se poësie en sy humoristiese, satiriese verse.

Oor die outeur

Hennie Aucamp is een van die veelsydigste kunstenaars in Afrikaans en het op alles wat hy gedoen het sy waarmerk afgedruk. Hy was bekroonde kortverhaal skrywer, dramatis, kabarettis, essayis en digter.

 

  •