Author Archive

Loftus Marais. Agterplaas

Thursday, October 22nd, 2020

 

AVBOB-Poësieprojek 2019. I wish I’d said, Vol. 3: Opdraggedig

 

Agterplaas

 

die wind is beterweterig vanaand

die buurt se kleure diep

die grasperk, vibacreet is anoniem

daar is ‘n wye soort paniek

terwyl vandag homself in gister omsit

nou

die oomblik staan voor my

hier by my agterdeur

net soos ‘n hoflike teleurstelling:

“jammer jong

oor hoe dit als so droewig is soms

oor jou vriend se kankerdiagnose

oor jou suster en haar huilery

oor al die ernstige politieke skokke elke week”

ek knik

dat ‘n moment

so sommer voor jou deur kan staan en met jou praat

is wonderlik

net totdat dit verdwyn

en jou aan al die laters oorlaat

 

© Loftus Marais, 2020

 

 

 

Volg die onderstaande skakel om in te skryf vir die 2020-Avbob Poësiekompetisie. Groot kontantpryse kan gewen word:

 

https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjwy8f6BRC7ARIsAPIXOjgcXTaM8K11Sp2Zrq7gSws15ib4w4i2bySQ_

AioG2iNlcmBSb0OhiQaAmqpEALw_wcB

 

 

(Hierdie is een van die 12 opdraggedigte wat deur AVBOB van 6 Afrikaanse digters aangevra is vir die bundel I wish I’d said, Vol. 3 (Naledi, 2020). Die gedig verskyn nie in die bundel nie, maar ‘n ander gedig van Loftus Marais verskyn wel.)

 

Ronel de Goede. Ballade van die honderd dae

Wednesday, October 21st, 2020

 

Korona-gedigte

 

 

Ballade van die honderd dae

’n Wintervers

 

Die branders suis, die dae sleep.

Ek sit aan tafel en lees koerant:

“Syfers styg”. “In virus se greep”.

Wat gaan word van die siekes in ons land?

Hul “spartel om asem” en “verdrink” op ’n streep.

’n Malariapil maak mens glo “bestand”.

Kom ons drink maar ’n glas op die valreep!

Wat gaan word van die virus in ons land?

 

Die wêreld verstom: “Ekonomie in sy maai”.

“Miljoene ly honger”. “Gebrek aan kontant”.

Die radio rep: “Kospakkies geskaai”.

Wat gaan word van die armes in ons land?

“Miljarde vir noodhulp”. “Vingers in die laai”.

“Werkloosheid neem toe”. “Dromkrappers astrant”.

’n Stad onder beleg – boekaniers in Valsbaai!

Wat gaan word van die kapers in ons land?

 

Die skedelvlag die waai: “Baba verkrag”.

“Boer vermoor”. Selfone gons: “Iemand

wat ons ken”. “Rowers skiet geldwag”.

Wat gaan word van die mense in ons land?

“Bejaardes gemartel”. “Seuntjie val in skag”.

“Vrou gesteek”. En so gaan dit voort, want

dis ’n gekkeskip – sonder kwarantynvlag!

Wat gaan word van die moordplaag in ons land?

 

L’Envoi

Hoe kan ’n mens dit alles verklank?

Wat gaan word van die siekes van ons land?

Ek sit aan tafel en lees koerant –

vol selfverwyt; een voet op die loopplank.

Wat gaan word van die armes van ons land?

Wat gaan word van die ménse van ons land?

 

© Ronel de Goede, 4 Junie 2020

 

Bester Meyer. Soos ‘n veer in die wind

Wednesday, October 21st, 2020

 

Ampie Coetzee huldigingsgedigte

 

Soos ʼn Veer in die Wind

(Vir Ampie Coetzee)

 

jy het my geleer

van die spieël.

mekaar nooit

geken nie

net jaar na jaar

raakgeloop en betrag

dáár in die tuin.

 

nou gooi ek maar hierdie woorde

in die lug vir jou,

en hoop

dat dit vry

sal swewe

rondom jou artikels

wat my altyd sal laat

naslaan

as woorde teen die wolke

my wil laat sing

oor gister se literatuur.

 

mag alle oomblikke

van wind

net aanhou gaffel

oor die einders –

 

and

may your rest

be

as white as words,

vry van sensuur,

soos ʼn veer in die wind

 

© Bester Meyer, 2020

 

Joan Hambidge. Digstring

Wednesday, October 21st, 2020

 

Gesprek met NP van Wyk Louw

 

Ek gee tans aanlynklas o.a. oor Louw. Vir my studente laat weet ek: daar is drie Bybels in my huis, te wete die ou Afrikaanse een, die Tibettaanse Boek van lewe en Dood en natuurlik: Tristia.

So het ek indertyds die beroemde “Vroegherfs” geparodieer:

 

Vroegherfs

 

Die jaar word ryp in wrede ontnugtering

in woede wat verkil, en bitter idees

wat daglank deur my nuwe minagting

uitgespoel word; alle idees word reëls,

tot selfs die slustes; en die eerste beelde val

so stilweg in my donker depressiewe drome uit

sodat die dendriete in my brein al

teen elke ligte môre ooreis, ópspruit.

O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:

laat alles val wat poësie of stilte verbreek

of cliché is, en vér was van die pyn:

laat ryp word, muses, laat jul verwoesting nimmer taan,

vir ewig, tot al my demone afgebreek

word in relevante, tydgebonde skyn.

 

uit: Tachycardia. JutaLit, 1990.

Tans werk en wroet ek aan ‘n bundel wat heet Nomadiese sterre. Ek het reageer op talle gedigte van Louw – in opdrag van Ronél Johl en Ina Gräbe vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe-huldigingsnommer oor Louw. Johl en Gräbe het as teoretici aan my die uitdaging gerig en palinodes, parodieë en pastiches is geplaas. Selfs gerinkink met gedig nommer X uit Tristia. Daardie verbluffende liefdesgesig word dan getransporteer as ‘n Derrideaanse sous rature of deurkruising van die (eks)(ge)liefde.

 

Hierdie is nie ‘n liefdesvers nie

 

Hierdie is geen liefdesvers nie,

dis ‘n gedig oor ‘n X

wat geen silwer herberg bewoon

in die sneeu nie, maar ewigdurend

sous rature bly in die aanwesigheid,

my deurkruising ten spyt.

 

En ja, spyt kom altyd te vroeg

met die eerste voëlgekletter,

die Katolieke kerk se klokkespel,

‘n muezzin se roep na Mekka

en my oggendgebed vergeef-my-

sondes-en-almal-wat- gesterf het.

 

Hierdie is nie ‘n vers vir Fanie Olivier

se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

Dit behoef ‘n dubbel-negatief, ‘n minaret

waarop ek staan-waar-ek-staan

roepend na jou, my gedig nommer X,

my afskryfvers: onoorspronklik, ‘n spel.

 

Toe vra Ina Gräbe in ‘n e-pos dat ek moet reageer op “Cartesiaan” en hier is my probeerslag:

 

Cartesiaan

VWL

 

Ek is net lyf en gees, niks tussenin:

niks van die kerk se “siel”, die leë droom.

Net boom en grond. Die dryfsand se sin

is iewers wel slinks en slu bedroom

deur Freud en Lacan – die gode van drieë.

Hulle dink aan skakels: aan oorgange

soos ego, id, superego, nes bedrieë:

verbeelde, simboliese, Reële vir dié drange.

Lyf: sy! die eerste wat ek ken!

vol van  groot hobbels, eis haar weg

na die eis van volmaaktheid as volheid.

Gees: die knope van die onbewuste ren

aan my in drome vreemd, só verontreg

‘n inbeweeg tot hierdie parodie: ‘n kilheid.

 

‘n Gedig is meer as ‘n gedig. ‘n Gedig dra eweneens ‘n tydsgees in sig en verklap ‘n manier van lees en skryf. So gesien, word dit ook ‘n stuk teorie.

Louw loop regdeur my digkuns. As jong kind het ek Nuwe verse en Elisabeth Eybers se Balans gelees. Weinig verstaan hiervan in die skoolbiblioteek, maar jare later het Louw in Hartskrif, my digdebuut, hom aangemeld. In ‘n yskoue winter, tydens ‘n navorsingsvergunning aan Yale Universiteit, einde 1984, woon ek van Harold Bloom se seminare by. En The anxiety of influence begryp ek toe as iets wat nie negatief is nie, maar ‘n gedig wat reageer op ‘n meester ‘n antwoord of voltooiing mag word.

Die suiwer wiskunde van Louw se digkuns kan ons maar net by benadering naboots. Maar in antwoorde erkenning gee aan sy ryk, geskakeerde digkuns. In Bloom se terme is my gedigte ‘n tessera of anti-tese.

 

 

Huldiging: Ampie Coetzee

Wednesday, October 21st, 2020

Huldeblyke oor gestorwenes word deesdae eensydig. Is dit ons Calvinisme wat ‘n soort skuldgevoel skep sodat ons net die positiewe wil onthou of neerskryf? En by die dood van ‘n digter of literator die persoon verkeerd “inskat”? Sommer meen ‘n behendige digter moes bekroon gewees het met die of daardie prys?

My eerste ontmoeting in 1980 met Ampie Coetzee was toe hy aan Wits doseer het. Hy het my opgeval as ‘n aweregse man. Met ‘n oorringetjie en baie cool. Met sterk opinies oor die ongeregtighede van die land. As mede-stigter by Taurus het hy baie gedoen om stemloses stémhebbend te maak. Daar is talle voorbeelde van skrywers wat ‘n bloutjie geloop het by hoofstroom-uitgewers en by Taurus ‘n tuiste kon vind. Soos Johann de Lange met Nagsweet in 1991. ‘n Bundel wat weens die gay-tematiek onrus veroorsaak het, dog persoonlik ‘n gunsteling bly.

Taurus is immers gestig om Brink se Kennis van die aand te publiseer. Hierdie klein uitgewershuis het telkens gehalte uitgegee. En storms gepypkan. Dit was woeste dae vir enige uitgewer wat P.W. of die ander gesante gekritiseer het.

As kenner van veral Breytenbach se digkuns het hy telkens besondere insigte vir ons gegee en later aan die UWK artikels en boeke oor die Marxistiese kritiek gepubliseer.

Ek was telkens bewus van sy kennis van Foucault en die analises van magsbasisse het hy ontmasker.

Ons het mekaar later jare by kongresse gesien. En eenmaal op ‘n vlug terug van Bloemfontein het hy langs my gesit en ‘n nuwe Brink-roman met ‘n potlood gelees. Onderstreep. Aantekeninge in die kantlyn. Deeglik gelees.

Ons het uiteraard ook ons verskille gehad. My uitgesproke feministiese en dekonstruksie-aanslag het hom nie altyd aangestaan nie. Van sy kritieke oor digters het my nie altyd behaag nie.

De Lange se Die algebra van nood (2009) het hy beskou as “onnoemenswaardig” (Die Burger 19.4.2009) en ek het my kritiek oor sy resensie met hom gedeel. Hy het dit aanvaar, ofskoon ek uitgesproke knorrig hieroor was.

Hoe kon hy dink die beelde is “uitgedink”? En waarom meen die bundel is te “lank”?

Hierdie bundel is uiteindelik met die Hertzogprys bekroon.

My bundel En skielik is dit aand het hy gepiets vanweë die “te veel woorde”. Maar aandagtig het hy geluister; kritiek kon hy vat op die ken.

Hy sou ook dink en wag voordat hy antwoord. Aan sy baardjie vroetel en sê:”Ek weet nie …”

Trouens, hierdie teësprake voed immers ‘n letterkunde. Dit bewys Imre Salusinszky  sy onderhoude opgeneem in Criticism in Society (Methuen, 1979)  waar ‘n gedig (“Not Ideas about the Thing but the Thing Itself”) van Wallace Stevens telkemale uit verskeie invalshoeke bekyk en gelees word. Frank Kermode lees anders as Bloom; Barbara Johnson verskil van radikaal van Northrop Frye.  Miskien is Ampie Coetzee die naaste wat ons kom aan die werk van Frank Lentricchia en die sosiale bewussyn van én oor tekste. Ek dink hier aan Criticism and Social Change (Chicago, 1983) en in die onderhoud bely Lentricchia hoe sy ouers as werkersklas mense geweldig hard moes werk om te kon oorleef. Sy moeder se hande het soos ‘n man s’n gelyk.

As eksterne eksaminator aan die UK was hy altyd regverdig in sy oordeel oor studente. Hy het wonderlike anekdotes vertel oor Van Wyk Louw, Ernst van Heerden en Peter Blum.

En ‘n mens haal jou hoed af vir sy standpunt oor Afrikaans. ‘n Ware taalstryder wat met feite gekom het en nie net met emosionele argumente nie.

Spot en opstuur. “Ag toe, jy en jou grênd Offrikonse uitspraak … ag toe nou.”

Veral sy humor sal ek altyd onthou. Na ‘n kongres by Bloemfontein sit ons en wag op ‘n lughawe. Ons het mekaar aangepor om satiries te raak. Hier sit ons en evalueer die vroue van Bloem: stoets, geperm, sykouse en met haai polfaais. Ampie bulder van die lag oor my opmerkings en agterna weet hy te vertel dat dit vir hom so bevrydend was om saam met ‘n vrou na ander vroue te kon kyk. Alles parodies en vol spotspraak. Boonop met ‘n puntestelsel.

Daardie aand neem hy my huis toe. Weens ‘n vlugvertraging was daar geen taxi’s meer op die lughawe nie.

“Kom. Laat ek jou huis toe neem. Ons het so lekker gelag!” Om die berg tot in Tamboerskloof. Toe is hy terug Nuweland toe.

Elkeen van ons met ‘n literêre paradigma wat radikaal verskil. Net oor die skoonhede van Bloemfontein was ons op dieselfde bladsy.

‘n Man vol teenstrydighede. Enersyds stoer Afrikaans; andersyds krities oor grond en die plaasnarratief soos hy dit ontleed in ’n Hele os vir ’n ou broodmes: grond en die plaasnarratief sedert 1595 (2000).

Gelukkig is ek altyd kongruent en nooit teenstrydig nie.

Ek hoor hom bulderlag.

Joan Hambidge

Breyten Breytenbach. ‘n Briefwisseling met Ampie Coetzee

Wednesday, October 21st, 2020

 

Beste Marlies Taljard,

Ek weet nog steeds nie wat om te sê nie. En hierdie is nie ‘n huldiging van Ampie Coetzee nie. Dié kom hopelik later, ter gelegener tyd, wanneer die lig minder swaar geword het om te verdra.

Maar ek het vanmiddag, so op ‘n Sondag, onthou van ‘n briefwisseling met Ampie, op sigself raar, van baie jare gelede – en dat ek dit wou inkorporeer by die binnensmondse mompelteks waarmee ek besig is. Op ‘n stadium het ek gekyk na die brief wat hy vir my gestuur het en dié is nou soek. Miskien het hy dit saamgeneem. Ek het wel my antwoord op sy vraag wat ek dan hierby insluit. Kortliks: ek dink die kernbekommernis was dat dit nie veel sê om te sê: “die gedig is die betekenis van die gedig” nie. Hy het my bietjie in die bek geruk deur daarop te wys dat metafore tog iets moet beteken. Daar is ook ‘n leser wat in aanmerking geneem moet word, after all. Ons het daaroor gepraat. Hy moes geweet het hy het my aan die hoek en was dalk net te sagmoedig om my in te katrol.

Hiervandaan dan die ‘antwoord’ (indien ‘n vis ‘n verklaring sou hê om aan te bied). Sien u wat ek bedoel met metafore wat hand-uit ruk? Maar voor dit, en presies soos dit tot op datum in die onafgemaakte en onafgewerkte manuskrip staan, en nie eens gevil met die skubbe skoongeskrop of andersins getierlatyn nie, my nagboeknotas. U mag dit gebruik soos dit hier is.

Met hartseer groete,

B

(Die ‘leser’ in die teks, wat nie ‘Leser’ is nie, is bra Ampie. En waarna die verwysing is in die eerste paragraaf van die brief weet ek nou nie meer nie. Dalk ‘n operasie.)

______________________________________________________________________________________________________________________________________________

Nou word dit ´n bietjie rof. Maar die einde is in sig. (Die einde is altyd in sig…) Ek luister nou na « Waterblommetjies in die Boland » – verlang na mense watt ek nooit weer gaan sien nie.

 

ek sê vir ons – voorwaar voorwaar

die mens is ‘n tweegesig al kermende

om ‘n laaste rymwoord vir die toemaak

van die donker gedig:

maar wanneer dit kom by die aangesig tot aangesig

se onder vier oë spreek

van die eenoogstaar

het ons net die blinde lens van ons lewens

om ons dood se sagte vlees te beskerm

 

 

From: Breyten Breytenbach: 
Sent: 01 July 2012 11:12 PM
To: Ampie Coetzee
Subject: ‘k wou nog net sê

 

Kleiboetatjie,

 

Eintlik slegs om jou die allerbeste toe te wens vir die bewerkinge van agter af hierdie komende week as ek dit reg het. Dis nou te laat om van geslagsvoorkeur te verander maar mag die gevroetel hier aan jou agterdeur op soek na die knip nie te veel van ‘n onaangename ervaring wees nie.

 

En het ek reg verstaan dat jy werk aan my “onvoltooide vers” uit Beginsel? Indien wel wil ek voorstel dat jy met die ander oog ook loer na “Boland, ‘n reisrefrein” uit Papierblom. Veral omdat dit in Montekie geskryf is – die Engelse weergawe is in Dog Heart. Sterkte! Muskadelmoed!

 

Liefdegroete

 

Buiteblaf

 

En na aanleiding van ons gesprek van vandag oor foële en ferlore begrippe:

nou se tyd

 

tot die mate dat ek vanaf die begin 

geweet het woorde is geen dekking 

van die werklike nie

dink ek nou aan die einde

ek het tog gesê

wat gesê kon word

 

met die bevrediging dat jy van meet 

af, leser, net soos ek ook lig-lig deur die gedig 

kon loop soos in ‘n kloof matelose voëlgekwetter

om op die ou einde, soos ek sê,

te sê: dit wéét ek ten minste :

dat ek fokôl verstaan

 

 

———————————————–

 

gee my jou hand, Leser –

saam het ons land en sand bereis in woorde

om tot stomme verwondering te kom

by die stiltes van voëlsang

 

anderkant die drif

waartoe alle stemme gedryf word

waar die skrif te water mag gaan

waar die weerlig ons met ‘n vuurtong slaan

 

om miskien te laat te weet

so soos alle wete ‘n nalaatsel is

dat ons eenmalig mens was, leser –

uit klowe in die berg

 

en holtes in die see

vir die walvis se doodskreet om te weergalm.

 

gee my jou hand

vir die saam-vashou van die een

enigste onkenbare lyk-fetus wat tussen ons lê

en nog beweeg : hierdie hart

 

 

 

miskien

indien

daar geen poësie is nie

 

sal ons

van self

van die voëls leer

_______________________

 

(‘k        ek        en       moet)

‘k wou nog sê

ek het niks om te sê nie

          en doen dit hier

           met  oorgawe

 

_________________________________________

 

ek het meewarig

bewondering vir dié en vir daai

wat weet hoe belangrik dit is

om in enige en alle omstandighede

opstandig te wees en op te stry

en bly bakkelei

al is dit ook slegs as bekrekkers

 

maar wees my genadig,

leser – die tyd (en jy)

het my getoor

ek kan my sjelf nie meer hoor

redeneer nie

 

vergun my

om my te verlaat

op die dubbele ontkenning

so eier aan ons taal,

laat my toe om te faal

en oop te bly vir verliesverskrikte ontstrikking

en kaal anderkant uit te kom

by ontstentenis aan ‘n tuiste

waar geen vink weet van kwetter,

ten minste is daar

nie meer kak en betaal nie,

 

(die voorgaande strofe, leser, eindig

nou wel met ‘n komma

maar hier wil ek die punt neerlê

en nie in die wind nie :

laat die pluimsaad waai

waar dit wil

waar daar niks is )

 

vergun my om melk te gaan koop

waar geen melk ooit weer te vind sal wees

en die boer se koei se uier

lewendig afgekap is

vir ‘n vleisie

vir dié

wat nog sin het

om op die ondermaanse

te kuier en braai

met bies en met bees

en braaf bek te rek

met hand om die blaas

van die eie trompet

ek het ‘n hoesie,

die een been begin sleep soos ‘n lam vlerk

my saam na vergeet-om-te-loop,

en ek onthou nie meer so mooi

waar ek die melk wou koop

om saam met die vleisie te geniet

by die toegooigeboorte

van vers en van kapittel

 

vergun my om die oulaas te smaak

van die niet,

nog ‘n handvol lig te steel

en dit te verdraai

om as oorwinningsvlugvlag te vou

om die seerwoordkeel –

die bladsy om te blaai

en my met omtes-stilbly

se klaroen te versoen

 

 

Kyk aanlyn na Ampie Coetzee se huldiging in Digterstuin

Wednesday, October 21st, 2020

 

KYK AANLYN NA AMPIE COETZEE SE HULDIGING IN DIGTERSTUIN

Ampie Coetzee (81), Afrikaanse letterkundige en stigterslid van die Breytenbach Kuns- en Kultuursentrum in Wellington wat vroegoggend op 15 Oktober in die Paarl-hospitaal na hartversaking gesterf het, se huldigingsbyeenkoms Sondag 25 Oktober om 11:00 in die digterstuin by die Breytenbach Sentrum sal aanlyn gevolg kan word.

Die skakel is https://www.youtube.com/user/BreytenbachSent

Almal is welkom om die huldiging in die digterstuin by te woon, maar weens die Covid-regulasies sal ‘n beperkte aantal mense toegelaat word en die veiligheidsmaatreëels streng toegepas word. Vriende en belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon, word versoek om vir Jessica by 021 873 2786 te kontak.

Die Breytenbach Sentrum is op die hoek van Burger- en Malherbestraat.

 

Amano Tadashi. Vertaling in Afrikaans

Wednesday, October 21st, 2020

 

 

 

 

Amano Tadashi .* Vertaling van Engels in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws

 

Die filosoof

 

‘Doodgaan is ‘n eenvoudige saak’

sê die ou Chinees met die lang baard

‘as jy eers Taoïsme verstaan.’

 

Arme koulike ongetroude man wat ek is,

ja, ek stem saam, jy’s honderd persent reg.

Laat ek jou hand skud.

 

Indien dit winter was,

met ‘n goeie vuur wat in die stoof dreun,

en as ‘n opgeruimde vrou vir my

‘n tweede bak bredie geskep het,

sou ek met graagte wou filosofie praat,

met ‘n bespreking van Taoïsme en die dood.

 

Ja, ou maat,

ek sou dan jou hand geskud het.

 

***

 

The Philosopher

 

‘Dying’s a simple matter’

said the long-bearded old Chinese

‘once you understand Taoism.’

 

Poor chilly bachelor that I am,

yes, I agree, you’re absolutely right.

Let me shake you by the hand.

 

If it were winter,

a good fire blazing in the stove,

and if a cheerful wife were serving me

my second bowl of goulash,

then I should love to talk philosophy,

discussing Taoism and death.

 

Yes, mate,

I’d shake you by the hand then.

 

Uit: Guest, Harry and Guest, Lynn and Kajima Shôzô (eds. and trs.). 1972. Post-War Japanese Poetry. Harmondsworth: Penguin Books (pp.39-40).

 

*Amano Tadashi (1909-1993) was ‘n Japannese digter van Kioto.

 

  •