Gisela Ullyatt
Tuesday, January 22nd, 2019

Junie 2007: die winterson val soos genade op die blokkiesvloer van die zendo (plek van meditasie, afkomstig uit die Zen-tradisie).
Dis skuins voor middagete en ’n klein groepie vergader hier vir die laaste sessie van ’n meditasie retreat. Ons meditasie teacher gee haar laaste dharma-praatjie en sluit af met ’n gedig. Sy sê dis deur haar gunsteling digter, Mary Oliver, geskryf. Die naam lui geen poëtiese klokkie by my nie. Soos ons teacher begin lees, sluit ek my oë, iets wat ek gereeld doen wanneer ek na voorlesings luister.
Die eerste drie reëls tref my soos witwater:
You do not have to be good.
You do not have to walk on your knees
for a hundred miles through desert, repenting.
Iets groei in my terwyl ek luister na die res van die gedig:
You only have to let the soft animal of your body
love what it loves.
Tell me about despair, yours, and I will tell you mine.
Meanwhile the world goes on.
Meanwhile the sun and the clear pebbles of the rain
are moving across the landscapes,
over the prairies and the deep trees,
the mountains and the rivers.
Meanwhile, the wild geese, high in the clean blue air,
are heading home again.
Whoever you are, no matter how lonely,
the world offers itself to your imagination,
calls to you like the wild geese, harsh and exciting ̶
over and over announcing your place
in the family of things.
Min het ek toe geweet hoe “WIld Geese” my lewe daadwerklik sou begin verander.
 ‘n Jong Mary Oliver, foto deur Molly Malone Cook
Met Oliver se dood ’n paar dae gelede, het huldeblyke ingestroom vanuit ’n menigte oorde, iets wat die digter miskien nie eintlik ernstig sou opneem nie: sy het geglo dat haar gedigte vir hulself moes opstaan en wou nooit te veel oor een van hulle weggee nie. Alhoewel Oliver ’n uiters private persoon was (sy het slegs ’n handjievol onderhoude toegestaan in haar skryfloopbaan van ongeveer 55 jaar) het sy in die afgelope vyftien jaar of so ’n uiters gewilde voorleser van haar eie gedigte geword dermate dat bykans al haar byeenkomste stampvol was. Ook verskyn twee CD’s waarop sy haar gedigte lees.
Mary Oliver is gebore op 10 September 1935 in Cleveland, Ohio. Haar gesinslewe was uiters disfunksioneel: in ’n onderhoud met Maria Shriver in 2011 word dit bekend dat sy deur haar vader gemolesteer is as kind (iets wat vlugtig genoem is in die onderhoud). Haar moeder staan passief teenoor hierdie molestering. Twee gedigte in Dream Work (1986), “A visitor” en “Rage” is moontlik geskoei op hierdie bloedskande. Ek haal laasgenoemde aan:
 Foto: Gisela Ullyatt
You are the dark song
of the morning;
serious and slow,
you shave, you dress,
you descend the stairs
in your public clothes
and drive away, you become
the wise and powerful one
who makes all the days
possible in the world.
But you were also the red song
in the night,
stumbling through the house
to the child’s bed,
to the damp rose of her body,
leaving your bitter taste.
And forever those nights snarl
the delicate machinery of the days.
When the child’s mother smiles
you see on her cheekbones
a truth you will never confess;
and you see how the child grows ̶
timidly, crouching in corners.
Sometimes, in the wide night
you hear the most mournful cry,
a ravished and terrible moment.
In your dreams she’s a tree
that will never come to leaf ̶
in your dreams she’s a watch
you dropped on the dark stones
till no one could gather the fragments ̶
in your dreams you have sullied and murdered,
and dreams do not lie.
Op hoërskool bank sy skool vir ’n lang tyd en verdiep haarself in Walt Whitman se poësie en die natuur; die omgewing waar hulle bly is landelik, omring deur woude:
 Walt Whitman
When the high school I went to experienced a crisis of delinquent student behavior, my response was to start out for school every morning but to turn most mornings into the woods instead, with a knapsack of books. Always Whitman’s was among them. My truancy was extreme, and my parents were warned that I might not graduate. For whatever reason, they let me continue to go my own way. It was an odd blessing, but a blessing all the same. Down by the creek, or in the wide pastures I could still find on the other side of the deep woods, I spent my time with my friend: my brother, my uncle, my best teacher (Blue Pastures).
Ander groot invloede op haar werk sluit in: William Blake, Percy Shelley, John Keats, Henry David Thoreau, Ralph Waldo Emerson, en Edna St Vincent Millay en in later jare, Rumi. Oliver skryf ’n essay oor Emerson ter inleiding van die 2000-uitgawe van The Essential Writings of Ralph Waldo Emerson. Die volgende aanhaling uit hierdie inleiding kan ook as opsomming dien van Oliver se lewensuitkyk en oeuvre:
The one thing he is adamant about is that we should look ̶- we must look – for that is the liquor of life, that brooding upon issues, that attention to thought even as we weed the garden or milk the cow.
In 1953 besoek sy Steepletop, die tuiste van die digter Edna St Vincent Millay, waarna sy later teruggaan om daar in te woon as assistent van Norma Millay, Edna se suster, wat aangestel is as Millay se literêre eksekuteur. Nadat Oliver terugkeer na Ohio, studeer sy vir ’n jaar onderskeidelik aan die Ohio State-universiteit en Vassar-kollege, nadat sy ’n beurs ontvang. Sy voltooi egter nie haar studies nie, maar dit verhoed haar nie om in 1980 ’n Mather besoekende professorskap te ontvang aan Case Western Reserve-universiteit nie. Sy word ook aangestel as die poet-in-residence by Bucknell-universiteit in 1986. Vele ander aanstellings volg.
 Edna St Vincent Millay
Haar eerste bundel, No Voyage and Other Poems, verskyn in Engeland in 1963; sy werk indertyd by die Mobile Theatre Ltd in Londen. Die volgende aanhaling uit die flapteks wys dat sy as jong digter reeds die invalshoek van haar latere bundels intuïtief aangevoel het:
 No Voyage and Other Poems. Foto: Gisela Ullyatt
She believes that an “affirmation” of life is just as justifiable as an affirmation of despair”. She has also attempted to “marry technique and emotion in order to express simple human truth in such a way that it should be conveyed with purpose and clarity to the listener and the reader”.
Oliver is ’n bekroonde digter: hoogtepunte is in 1984 wanneer die Pulitzer-prys vir American Primitive aan haar toegeken word asook in 1992 met die National Book Award vir New and Selected Poems (Volume1).
Dis moeilik om reg te laat geskied aan ’n digter soos Mary Oliver. “Wild Geese” het my oopgebreek op daardie wintermiddag in 2007 toe my kop vol donkerte was; toe ek nie meer gedigte kon skryf nie. Maar soos ek meer van haar gedigte begin lees het, het die lig deur ’n skrefie begin val wat stadigaan ’n luik vol helder lig geword het. My eerste blog op Versindaba handel oor Mary Oliver (sien asseblief die bibliografie wat die skakel insluit): Stadig maar seker het ’n doktorale tesis vorm begin aanneem en op 11 September 2013 het ek my Ph.D. ontvang vir “Bride of Amazement”: A Buddhist Perspective on Mary Oliver’s Poetry. Die gedig waarop my titel geskoei is, is “When death comes”:
 Foto: Gisela Ullyatt
When death comes
like the hungry bear in autumn;
when death comes and takes all the bright coins from his purse
to buy me, and snaps the purse shut;
when death comes
like the measle-pox;
when death comes
like an iceberg between the shoulder blades,
I want to step through the door full of curiosity, wondering:
what is it going to be like, that cottage of darkness?
And therefore I look upon everything
as a brotherhood and a sisterhood,
and I look upon time as no more than an idea,
and I consider eternity as another possibility,
and I think of each life as a flower, as common
as a field daisy, and as singular,
and each name a comfortable music in the mouth,
tending, as all music does, towards silence,
and each body a lion of courage, and something
precious to the earth.
When it’s over, I want to say: all my life
I was a bride married to amazement.
I was the bridegroom, taking the world into my arms.
When it’s over, I don’t want to wonder
If I have made of my life something particular, and real.
I don’t want to find myself sighing and frightened,
or full of argument.
I don’t want to end up simply having visited this world.
(New and Selected Poems, Volume One)
Dankie, dogter van Ohio, digter van Provincetown; Bruid van Verwondering.
 New York Times
BIBLIOGRAFIE
Atkinson, B. ed. 2000. The Essential Writings of Ralph Waldo Emerson. New York: Modern Library (Random House).
Oliver, M. 1963. No Voyage, and Other Poems. Londen: J.M. Bent.
Oliver, M. 1986. Dream Work. New York: Atlantic Monthly.
Oliver, M. 1992. New and Selected Poems, Volume One. Boston, MA: Beacon.
Oliver, M. 1995. Blue Pastures. New York: Harcourt.
Ullyatt, G. 2013. “Bride of Amazement”: A Buddhist Perspective on Mary Oliver’s Poetry. Ongepubliseerde doktorale tesis. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.
Gisela Ullyatt. Mary Oliver se Blue Horses.
Gisela Ullyatt. Mary Oliver en die Zen van aandagtigheid
Monday, September 24th, 2018
 Foto: Pinterest
Pa had ’n hoenderhok vir ’n wyle. Maar nie sommer enige hiert-jy ene nie. Toegegee, dit was ’n saamgeflansde hondehok, ja. Maar dit was ook Georgie, die miniatuur-worshond, se hondehok nadat hy hônnedroomland toe begelei is deur Oom Odendaal, die veearts en ouderling in ons gemeente.
Georgie het sy hondehok gehaat, want hy wou so graag in die huis slaap. Sy hartsbegeerte het egter nooit gerealiseer nie: dit was die 1980’s en voorstedelike mense het hulleself meer verknies oor bomme in dromme en supermarkte as oor hulle troeteldiere met skeidingsangs. Ten minste was die hok uit planke gebou en nie uit asbes nie soos ons verwarmer in die voorkamer nie.
Pa se hoenders was van die begin af gedoentes uit die hel. Hulle was ongedurig; plein moerig. Maar as ek nou aan hierdie gevogeltes dink, het hulle goeie rede daartoe gehad: acting out. Eerstens was hulle opgekrop binne ’n minuskule ogiesdraad-kampie. Hiervoor was ook ’n rede: wanneer hulle losvoetig was, het hulle almaardeur die gat in die vibracrete-heining gedônner. Pa het plankies en bakstene voor die heining geprakseer, maar op een of ander manier het hulle hulself deur ‘n nuwe opening gewriemel. Reguit in die kake van Oupa, die bure se katoolse en bloedskendige bulldog. Pa móés hulle dus intrónk.
Ook is ’n kuiken deur ’n valkie weggeraap: ek en my kleinsus het ’n in absentia-begrafnis in die agterjaart gehou. Maar die kleigrond van die Vrystaat het die grafgrawers gou in hul gegrou gestuit. Ons het maar volstaan met ’n paar magrietjies en vygies op ’n afgemerkte stukkie grond.
Begrafnisse het die jaart in littekens begin merk. Onvoorwaardelike free range hoenders was hulle nie, maar hulle betreklike kort lewens was darem aansienlik beter as dié van die rainbow chickens langs die Maselspoort-pad.
Boonop het die haantjie, genaamd Gerrie Coetzee (my pa se boksheld), klokslag om vier uur begin kraai. Oggendstond had dus nié goud in die mond. Ma kyf ’n kakafonie; Pa word genoop om ’n kartondoos oor sy Gerrie se kop te prakseer. Ek dink dit het darem luggaatjies gehad. Obsessioneel het ek aan Gerrie Coetzee se lot begin dink en hom by my aandgebed begin insluit.
Maar al wat stilbly was Gerrie. Steeds kon jy ta se gekraai hoor. Effe meer gesmoor, toegegee. Maar steeds klokslag OM VIER.
Pa het die hennetjies se eiers gebraai. Free range eiers alvorens free range ’n Woolies trefwoord geword het. Ongelukkig was ons eiers met gommerige hoendermis en vere besmeer; so pieperig, jy moes nagenoeg twee dosyn hê vir ’n behoorlike brekfis-omelet. Pof-omelette kon jy maar van die menu afhaal. Nooit weer wou ek my mond aan enigiets sit wat in daardie pan gebraai is nie: my eie pa het die hoenderfetusse, ja mý hennetjies én Gerrie Coetzee se kinders, gewetenloos vermoor.
Ek het myself in my kamer toegemaak en onder die duvet geklim. Die lavender-toiletsproei was vir lank my beste vriend, altans my enigste vriend teen die kwade kombuisgeure.
 Foto: Pinterest
Ek kon nooit Pa se verkropping met die geveerdes verstaan nie. Totdat ek van die leghorn-storie gehoor het. Alewig het Pa se messelaar-vader huise opgefieks en hulle dan verkoop. Nooit rêrig ’n wins uit hulle gemaak nie. Die versoeking was dus groot om stringe huise binne ’n rekord-tyd te verkoop. Die erwe was kolossaal en mense het hoenders, ganse of eende aangehou. Soms poue ook as hulle nie bygelowe oor dié ongeluk had nie.
So duskant agt jaar oud en my pa het ’n paar leghorns gehad wat hy soos pasgebore babahondjies vertroetel het. Elke nuweling is plegtig gedoop en daar was selfs ’n appelkissie waarop hy vir die leghorns uit die kinderbybel Skriflesing en Gebed gehou het. Hy het in ‘n wafferse lekeprediker ontaard. Sy kerklidmaatskap het ‘n opwaartse groei begin toon en het selfs so ver as sy teddiebeer en broertjies gestrek.
Maar toe het die tyd weer eens aangebreek vir ’n Groot Trek.
Dit was die middag van sy verjaarsdag en grafstil toe hy die huis binnekom. Nog in sy skooluniform, gooi hy sy tas op die bed in die kamer wat hy met sy ouma moes deel. Hy is agt jaar oud. Hy wonder waar almal is. Dan hoor hy stemme in die agterjaart. Kinderstemme. Sy hart bons. Uiteindelik, ’n regte partytjie. Nog nooit ene gehad nie; Mammie het gesê dat in oorlogstye die geld te skraps is vir ’n behoorlike geskenk, wat nog van ’n onnodige paartie waar almal in elk geval die sweet van jou aanskyn in die kombuis binne minute opvreet. Nes varke. En van varke-voer het sy genoeg gehad op die plaas waar sy deur haar bejaarde ouers soos ’n bediende behandel is. Nee, varke dié sal sy nimmer weer voer nie.
Opgewonde maak hy die agterdeur oop. Dis die buurtkinders. Hulle is almal by die leghorns se hok. Bedags loop hulle vry, dis net snags wat hy hulle tot in die hok in sus met mieliepitte.
En dan sien hy dit en eers wil sy kop nie verstaan nie. Sekerlik is dit ’n verrassingspartytjie en iewers, dalk onder een van die vrugtebome, het sy ma ’n tafel gedek met ’n uitgerysde koek met dik botterversiersel. En tuisgemaakte limonade, met baie suiker en ’n suurderige smaak. En kleinkoekies. En dan sal sy geskenke wat die maats gebring het, iewers op die tafel gerangskik wees, elk met ’n mooi kaartjie daarby. Hy hou só van mooi kaartjies, veral dié met ’n Patience Strong-strekking.
Maar paniekerig sien hy die afwesigheid van ’n tafel. Net Koekie van langsaan met haar snaakse slaphand, die Terblans-tweeling wat verder-af die straat bly en ’n swetterjoel ander wat hy nie so goed ken nie.
Elk het ’n leghorn wat hulle opgewonde vashou.
Sy ma het ’n geldsakkie in haar hand. Toe het sy hart begin verstaan.
“Jou leghorns was nog altyd ’n oorlas op my. Jy weet mos hulle mag nie kan saamtrek nie”.
Daardie laatmiddag het hy in die hoenderhok gaan lê. Hy het die reuk van vere diep ingeadem. Sy ouma het mooi gepraat dat hy nie die volgende dag opgeneuk moes word nie: ten spyte van hierdie pleidooi het hy lank hale regoor sy lyf oorgehou. Die hale van ’n woedende haarborsel.
Maar hy het die afranseling oorleef. Want eendag, só het hy homself belowe, sou hy ’n gerfie grond met leghorns daarop kry en dié se eiers vir sy kinders gaarmaak.
Strykdag (Petra Müller: om die gedagte van geel)
Die weglêhen is opgespoor.
“Ma, sy’s onder die malvabos!”
Vinnig kyk sy op, vee met haar los hand oor haar nat gesig.
“Bring in,” sê sy, “daar’s skerpte in die lug. Laat Elsie
jou help. Los tweetjies vir haar …”
Ek voer die kuikenmandjie met die afgeleefde strykkombers,
Elsie hou die kwaai hen teen haar bors. “Nou pik dan,
jou moerskind. Julle leggôrns kannie kiekens grootkry nie!”
Ek skep hande vol kuikens op, hol huis toe, stoot die mandjie
een kant van die haardvuur in die sagte warmte in –
geel pluimpies lewe wat reeds piep-protes.
Laatnag in die lou kombuis kry ek Ma daar.
Ons weef ons hande oor die kuikengoed.
“Dis alles reg,” sê sy. “Moet net nie te lank
hier sit nie, dis buite aan’t ryp.”
Maar ek trek – nes sy weg is – stoel teen stoof.
Steel die mandjie. Bly nog ’n bietjie warm wag,
my wange in die goue vag.
Friday, June 9th, 2017
 Foto’s en gedigte: Gisela Ullyatt, 2017. (Tensy anders vermeld).
“Of these cutthroat busted sunsets
These cold and damp white mornings
I have grown weary’
-Ray LaMontagne
“Empty”
 #1
1/
hier ter plaatse
niks te berig.
tog, iewers
die lig.
 #2
2/
dag torring los
in norrings duiwe;
die dag ontdaan
van geel geraas.
 #3
3/
en woorde
wapper aan ’n sterk, hoë lyn
met enjambemente
wat in hierdie wit lig skyn;
silwerjakkals van leuens
herbore in vreemdklinkende
metrum; sillabes van skyn.
 #4 Foto en keramiekduiwe: Toni Pretorius
4/
oral broei die voëls
nimmer voel ek alleen nie
vinke torring aan die palmboom
in grepe klank
langsamerhand verwelk die son
silwer duif van die nag
is in die omtes
haar hart klop in amber
 #5
5/
song to myself
ek sing in sinonieme
van stilte
deur nodules
van pyn
 #6
6/
versigtig oor die lente trap,
my lief
jou hart ’n sondief
dit glip oor rotse
duik krewe uit
en aas dan rond
in hierdie helder uur.
jy steel vuur,
my lentedief:
pasop,
dis nou die gode se uur.
 #7 Google Images
7/
my toeverlaat op jou,
bouvalligheid ten spyt.
nou laat ek jou agter
met Johnny Cash se Jackson
en die wind deur my hare
 #8
8/
ek wag die winter in
knip die somer
af in linte:
ek skink die namiddag
in my koppie tee
en die wolke volroom
 #9
9/
met apologie aan n.p.
jy het ’n herberg in my bewoon
onder silwer verberg ek jou nou
ek droom jou om
trek luike dig
 #10 Nie alle Boeddhas/ is blou vlinders nie
10/
met apologie aan antjie
is dit vir my
vir wie jy blou skoenlappers kweek?
laat my tog eenmaal deur die
doringdraad van jou hart breek.
 die metrum van doringdraad
Monday, April 17th, 2017
 Teks en foto’s: Gisela Ullyatt © 2017.
#1
duskant Jamestown:
windstil van binne
met bouvallige wolke.
 #1
#2
in veerwolke droom ek
jou
en in Jan Blohm
se stille runaway
 #2
#3
hou nooit stil
by die Sarie Marais nie
dalk net té perskepienk
of dalk was die dag
bloot beige
 #3
#4
in Smithfield draai
ek die radio af.
stilte, onbeperk.
 #4
#5
ek het jou naam
in die wind ontsyfer,
in die newelkleur
van wolke.
 #5
#6
ek vertrou nie meer
gerugte van reën nie,
nog minder
in donderwolkprofete.
die hemel help ons nie:
die wit verf van wolke
sterf uit en iewers
roep woestynvaders.
 #6
#7
naby Colesberg
trek ek vlieswolke na,
klank ek jou naam
in blou.
 #7
#8
in segmente van klank
ruk-en-rol
die wind
en pynstillend
die wolke.
 #8
#9
in karoo-gevlekte lug
ruik ek jou
en jy is die kleur
van onbeperkte lig
 #9
#10
onder die Genl. Hertzogbrug
treur die Oranjerivier;
in Aliwal-Noord se Wimpy
skryf ek fragmente
op koerantpapier.
 #10
#11
by die stop/go
is jou naam
slegs ’n nagedagte
in gruis.
 #11
#12
iewers is die bome ewig,
iewers die lig fetaal.
 #12
Tuesday, March 21st, 2017

Is daar enigiets vir ons oor?
tyd raak min en ek weet
ek gaan moontlik nooit die antwoord hê nie
Francois van Coke: “Moontlik nooit”
Geruime tyd hoor en sien ons ’n revolusie uitspeel op die planke van universiteite. #feesmustfall, #openstellenbosch, et al. ’n Hashtag-generasie. Terwyl daar oor mikrofone gebulder word, word selfies geneem; neon-pienk lippe pruil op fb-tydlyne. Jy moet immers cool lyk vir die revolusie. Alhoewel die voorbokke in politieke insignia galoppeer, is die tekkies steeds ’n brand; die jeans super-styf. Dit is ’n warm vryery tussen Sosialisme en Kapitalisme.
Tog is studente-protes nie ’n nuwe konsep nie. Een van die deurlopende temas van Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being (1984) is die 1968 studente-revolusie in Praag, oftewel die Praagse Lente. Die wêreldliteratuur het talle voorbeelde van dié indertydse revolusie wat ook plaasgevind het in groot dele van Europa, byvoorbeeld Parys.
Nog ’n voorbeeld van studente-protes is dié teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam in die 1960’s en 1970’s.
 Kent State University, Ohio
Kent State University in Ohio is ’n voorbeeld van hoe protes gruwelooslik skeef kan trek. Neil Young, toe nog ’n jong musikant, het feitlik onmiddellik die volgende lirieke geskryf nadat hy berigte oor die nuus gesien het. 4 Mei 1970 sou nooit weer net nóg ’n datum in die geskiedenis wees nie. Crosby, Stills, Nash & Young se opname hiervan volg op 21 Mei van dieselfde jaar:
 Neil Young
Tin soldiers and Nixon coming,
We’re finally on our own.
This summer I hear the drumming,
Four dead in Ohio.
Gotta get down to it
Soldiers are cutting us down
Should have been done long ago.
what if you knew her
and found her dead on the ground
How can you run when you know?
4 Mei 1970 is begroet met ’n landswye staking van oor die vier miljoen studente: honderde kolleges, universiteite en selfs hoërskole is gesluit tydens hierdie tydperk. Publieke opinie het op groot skaal begin skuif: Nixon se leuens het stadig begin uitlek.
Instellings is egter nie op die lange duur lamgelê deur studente-stakings nie. Lesings moes voortgaan.
Elke nuwe generasie voel dat hulle ’n nuwe hond het om te skop en dat hierdie skoppe die wêreld gaan omskep in ’n Beloofde Land.
En so moet dit ook wees. Die wêreld moet verander. Onregverdige gesag moet uitgedaag word. Die Kerkorrel-generasie het teen nasionale diensplig en PW Botha se militêre regime in opstand gekom. Die status quo moes val en hét.
Wat egter opmerklik is, is die anti-intellektualisme waarmee die nuwe geslag (lees born-frees) die revolusie aanpak. Slordige SMS’e word na studente uitgestuur wat wemel van spelfoute en logiese denkfoute. Laasgenoemde word gedreig en geviktimiseer as hulle nie aan hierdie revolusie deelneem nie. Die deurlopende sub-teks is geskoei op vervelige herhalings en slagspreuke wat herkou word. Gesag word nie net uitgedaag nie, maar vertrap. Die beweging begin daagliks meer beweeg na ’n militêre junta. Daar wil nié onderhandel word nie; daar wil slegs bevéél word. Dis ’n gekeuwel, gebulk; kortom, ’n uitgerekte vertoon van jong mag.
 Foto: Gisela Ullyatt. 2017.
Dosente word uit hulle klasse gejaag en gedreig as hulle durf voortgaan. Toetse word gegryp en opgeskeur en talle dosente moes presensielyste wegsteek want die junta wil die name hê van die ‘verraaiers’ wat durf klas draf of toets skryf. Heiligskennis word gepleeg as jy in jou studies belangstel. Klasnotas word na verwys as ‘pamphlets’. Ja, dosente, die notas wat julle pleeg is gelykstaande aan ’n Bradlows-pamfletjie. Dit het ’n no name-brand geword.
Ek moes gister so onopsigtelik as moontlik my ‘pamphlets’ uitdeel aan ’n klein groepie studentemeisies wat opsigtelik angsbevange was. Kort voor lank het twee bully boys die meisies buite ingewag en wysvingers is rondgeswaai. Een het ’n duur selfoon uitgehaal en die ‘skuldiges’ afgeneem. Ek kon nie die sekuriteit in kennis stel nie, omdat die junta dié lok met beloftes van “insourcing”. Daar word openlik gegrynslag as jy vra om die lesinglokaal oop te sluit. Daar is reguit aan my gesê dat hul opdrag is om nie klasse oop te sluit nie, direk deurgegee deur studenteleiers. Dit terwyl dosente direk deur topbestuur opdrag gegee word om vir klasse op te daag en dat semestertoetse sal voortgaan. Akademici sit daagliks vasgevang tussen twee ‘waarhede’: ’n niemandsland. ’n Waiting for Godot.
Ek besit niks nie
Ek het niks om by die geselskap by te dra nie
Ek weet nie
Als is by my gevat
Inspirasie sluip deur die strate in die middel van die nag
Ek soek die waarheid
Maar die waarheid stel nie belang in my nie
Gesê ek sou alles een keer probeer
Maar ek het honderd keer
Maak my stil
Gooi my uit
Laat my verdwyn
Ek soek die waarheid
Ek soek die weg
Ek soek die lewe
Ek vertrou nie maklik nie
Ek het te veel nuwe leuens gehoor
Ek glo dit nie maklik nie
Besluit self wat jy wil vat
Ek sal nie weer my laat onderbreek
Of in die rede val nie
(Francois van Coke: “Waarheid, Weg en Lewe)
Uiteraard soek die nuwe geslag na waarheid. Kanaän is aan hulle belowe. Hulle woede is te verstane. ’n Generasie soos Kerkorrel s’n ook: God sal aan jou kant wees as jy die terries vermorsel. Dit het egter nie gebeur nie. Jong mans is aan die vaderland geoffer. Sonneskyn en Chevrolet het ’n Donkerland geword:
en jy ken die agterstrate
van stellenbosch tot in waterkloof
en as windhoek se fasciste smile
kan jy die beste twostep dans
of jy in bellevue na die hawe vaar
of in amsterdam verdwaal
dis oral nog banaal genoeg
om revolusie te verstaan
ja die sakemanne vra nog wyn
en betaal met ’n visakaart
en die joernaliste vra hier rond
grawe dooie bene oop
(hou nooit op nie)
en die gasvrou op haar TV-skou
vra haar laaste stomme vraag
en ek sit hier en sien die sin
om revolusie te versin
[…]
hulle dans nou in die strate
dis ons tyd in Afrika
ministers vlieg in boeings weg
en ons staan hier verstom […]
(Johannes Kerkorrel: Bloudruk)
 Bloudruk
Kerkorrel en sy generasie het egter hulle moerigheid met die status quo met ’n mengsel van intellek en toeganklikheid vir die jonges van dae gebied. Daar is geboogie op “Sit dit af” en “BMW” maar daar is ook geredeneer; identiteit is bevraagteken; ou paradigmas is aan die kaak gestel. Die ‘revolusie’ het nie nodig gehad om jonges te dreig om deel te neem nie. Die lirieke, drif en boogie-woogie het vanself oortuig. Nuwe generasies soos Karen Zoid, fokofpolisiekar en ander kon voortbou op die Kerkorrels en Kombuise. Daar was dus ’n narratief wat voortgesit kon word. Maar, terselfdertyd het die narratief nie net ‘vertel’ nie (telling) maar ook ‘gewys’ (showing).
’n Protes-narratief wat benoud raak, wat homself vasdraai in sy eie jeremiades, kan nooit iets anders as ’n telling bly nie. Jy moet jouself in volwasse geselskap kan handhaaf. Dit beteken nié dat jy alles moet aanvaar nie. Dit beteken wel dat jy sloppy thinking halt sal moet roep om die weg oop te baan na ’n kragmeting tussen die ou en nuwe status quo. Jy kan egter nie die ou status quo op die vloer laat sit soos stoute kleuters terwyl jy ’n tantrum gooi en op die tafels toyi-toyi nie. Dit help nie om dieselfde ou slagspreuke rond te slinger nie; niemand wil meer daarna luister nie. Dié het ironies genoeg verpiep geraak, al word dit uitgebulder op mikrofone wat kringfluit.
Intussen is hierdie generasie studente vinnig besig om nog ’n verlore generasie te word. Hierdie jongmense het nie ’n stewige basis om hulleself internasionaal te handhaaf nie. Jy moet immers kruip voor jy kan loop of hardloop. Anders gaan jou knieë nerf-af wees op ’n gereelde basis.
Die vraag is: kan hierdie generasie werklike leierskap voortbring? Waar is die Gandhi’s, die Martin Luther Kings, die Neil Youngs, die Kerkorrels; die fokofpolisiekarre? Ek ken weinig studente in die revolusie wat Marx se Das Kapital deurgelees het of die Communist Manifesto in hul slaap kan opsê. Weinig stel belang in gender-teorie (of die toepassing daarvan in die praktyk. Meisies word steeds as goods and chattle gesien) of in die tydlyn van wêreldgeskiedenis, albei belangrike bakens vir die jong revolusionêr. Hoe verander jy die ‘prevailing narrative’ as jy nie weet wát dit is nie?
Of is die born frees te “verward, jonk en rigtingloos”?
Ek’s gebore aan die Ooste-rand
In ’n straat wat net soos ander lyk
in die kerkbanke grootgeword
Anders as jy
Vir ewig in ’n ry gestaan
Verward, jonk en rigtingloos
Alles aan toeval oorgelaat
Nes jy
Mekaar gevind onder neonlig
Liggelowiges
Verblind
Verbind
(Francois van Coke: “Neonlig”)
 Francois van Coke
Is die studente-revolusie wat ons tans mee te make het, werklik ’n revolusie? Of is dit net nóg ’n regime-in-the-making, ’n papegaai wat ‘bedroë die koggel kry”? Aldus David Cooper, die bekende eksistensiële psigiater (1968):
If we persist with the theme of transformation of our institutions into revolutionary centres of consciousness, we have to be clear about why more has not been achieved by what we have already done in this way. The most immediate answer is that we have become victims of a very old colonizing technique – the technique of divide and rule.
Ek berus by Stokely Carmichael (1967, soos aangehaal in Cooper:1968), wat onder andere leier van die Student NonViolent Coordinating Committee was:
I want to start off with definitions by using a quote from one of my favourite books, which is Alice in Wonderland, by Lewis Carroll. In the book there’s a debate between Humpty Dumpty and Alice around the question of definitions. It goes like this – ‘When I use a word,’ Humpty Dumpty said, in a rather scornful tone, ‘It means just what I choose it to mean. Neither more nor less.’
‘The question is,’ said Alice, ‘whether you can make words mean so many different things’.
‘The question is’, said Humpty Dumpty, ‘Who is to be master. That is all.’
Now, I think that Lewis Carrol is correct. Those who can define, are the masters.
BIBLIOGRAFIE
Cooper, D. (ed). 1968. The dialectics of liberation. Harmonsworth, Middlesex: Penguin.
Kerkorrel, J. 1992. Bloudruk. Tusk Music.
Van Coke, F. 2015. Francois Van Coke. Supra Familias.
Young, N. 1970. Massey Hall 1971. Reprise Records.
Wednesday, December 14th, 2016
 Foto: Gisela Ullyatt. 2016.
Met Hildegard von Bingen in die agtergrond, lees ek die afgelope jaar se dagboekinskrywings. Laasgenoemde beslaan veel minder bladsye as gewoonlik: 2016 was ’n jaar waarin ek vir lang tye niks neergepen het nie.
Ek onthou vanjaar eerder as ’n jaar van groot veranderinge. Die grootste hiervan was ’n Groot Trek; die keer na ’n ander provinsie. Om jou lewe uit te sorteer en weereens in bokse te pak, is soms net te veel. Drie trekke in vier jaar.
Kyrie eleison
Christe eleison
Kyrie eleison
’n Hele buitekamer vol boekbokse moes ternouernood aangespreek word. Wonderlike boeke moes van afskeid geneem word. ’n Egpaar wat tweedehandse boeke opkoop, verneuk ons: vragte boeke word in goeder trou aan hulle toevertrou omdat die trek baie vinnig moes plaasvind. Hulle sou na elk van die boeke kyk en dan ’n regverdige prys saamstel. Ondermeer was daar ’n hele versameling Herman Charles Bosman. Twee bakkievragte boeke word weggery waarna net R300-00 in ons rekening inbetaal word.
 Stillewe met Boeddha & boeke.
Boonop word van ons breekgoed onherstelbaar beskadig. Vier Boeddhas lê aan skerwe. Van die erfporselein en glase: toetentaal verbrysel. Kosbare boeke se voorblaaie word argeloos ingepak en sodoende lelik gebuig. Ek sluk langtand aan die les: tog wys die Boeddha immers daarop dat alles sal vergaan: Impermanence. Maar daar is dae wat die les nié in my hart wil gaan lê nie. Die chaos van bokse, steeds-toegedraaide skilderye en ander hope los goed se chaos sif deur tot in my DNA.
Daarom skryf ek byna niks hiervan neer in my dagboek nie. Wat ek wel op afkom in hierdie einste boek, is twee gedigte van Ernst van Heerden uit Tyd van Verhuising wat ek met die hand oorgeskryf het:
 Ernst van Heerden
Aan die verhuisingsmanne
Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit ’n lewe
met sy drome
en verlangens in;
Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;
Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en ’n eie ou gemakstoel;
Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van ’n lewe
kan so maklik breek.
Verandering
In die donker orde van my huis
voel ek die aardepols verflou,
word ek met sinlose weerspannigheid
deur elk ding verwyt:
’n deur wat eie knip ontwyk,
’n kas wat weier om te sluit,
tapyte met ingeweefde struikelblok,
hoë trappe sonder styggerief,
dieselfde spookgesig
in elke spieël se blits;
bedags deur vensterruite
die wit vlam van die son se gietery:
’n tuin-vermoede van
’n hele boord tot één boom vasgesweis;
en saans by skryflig
die lamp
wat soos ’n knie skarnier.
Nog ’n bundel wat ek herhaaldelik na toe teruggekeer het hierdie jaar, is Olga Kirsch se Oorwinteraars in die Vreemde. Alhoewel ek gelukkig nie die ongetemperde isolasie van die émigré ken nie, resoneer ek steeds met veral die gedigte wat Kirsch-as-huurder in die vreemde oopskryf. En alhoewel die huis wat ons huur ons eie besittings bevat, ken ek die voorafgaande maande se tydelike verblyf waar jy jou tentpenne elke keer uit die grond moet trek met net die nodigste in plastieksakke en tasse.
 Foto: Gisela Ullyatt.2016.
Huurders
’n Onbekende vrou se ruim, stil huis.
Haar plante wat teen die ruite ligwaarts krul.
Alles waarin sy haar lewenslank omhul
het totdat haar gees hom veilig tuis
weet, om my. Binne dié mure is skoon
gelewe; niks steur die edele patroon,
alles hoort saam. Ek hou die kamers skoon
en, hande eerbiedig op meubels en kleinode,
voel koester my haar vreedsame huisgode.
In dié gehuurde huis besit ek niks
In dié gehuurde huis besit ek niks
as net my klere. Alles waaraan ek raak
- kombuisgoed, meubels, gordyne – is volgens die smaak
van andere. Nogtans, omdat ek hom – fluks
na buie van lees en luiheid – skoongemaak
het, sodat die voordeur laatmiddag vir jou
verwelkomend kan oopswaai, omdat ek nou
voor sy ou rooshoutlessenaar ’n taak
wat ek bemin verrig, mooi briewe ontvang,
voor sy boogvenster kerf, sal ek hom onthou
– lugtig, son-vrolik – dalk na hom terugverlang.
 Van Heerden/negatief
Vir Ernst
Dra saggies hierdie gedig
na die man
wat die gode se porselein
op papier kon breek:
geen mank ritmes
of verkapte strofes nie.
Eet saggies hierdie gedig
want die digter het
room geword
en ken die donker man
nie meer nie.
Kyk saggies na die digter
agter daardie bril:
die lewe is geen cliché nie.
(Gisela Ullyatt. 2016)
Bibiografie
Kirsch, O. 1978. Oorwinteraars in die vreemde. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Heerden, E. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg.
Tuesday, December 13th, 2016
 Foto: Gisela Ullyatt. 2015.
Teen die eerste week in Desember tref die post-jaar blues die uwe elke jaar. Vanjaar, natuurlik geen uitsondering nie.
Die faktore wat gewoonlik die post-jaar blues in post-jaar rage omskep kan soos volg opgesom word:
#Een: ’n Beklemmende gevoel dat ek met ’n kartonbordjie op straat gaan moet bedel. Ek hou van Kersgeskenke koop. Die plek waar ek werk glo nie in die konsep van ’n bonus nie. Dus lê ek nagte wakker oor my pennies en pondjies. Januarie strek voor my soos die Knersvlakte.
#Twee: Jy kan nêrens aandoen sonder om deur Jollie Katrollies met hul plastiektrollies teen jou hakskeen of agterstewe gekap te word nie. Boeta en Sussa gil besete soos karakters uit Nightmare on Elmstreet. Mammie & Pappie baklei oor of hulle vir sy gomgat-pêlle booze gaan koop vir Kersfees. Terwyl hulle dan besluit om vir almal shooter glasies by Checkers te koop.
Daar is die tailgaters wat op jou kom staan as jy in rus en kalmte na produkte wil kyk. Sy rek en strek óór jou: dié tailgater voel jy vat veels te lank en dat jy haar persoonlik van haar moet-hê krismisprodukte ontneem. Since yesterday wou sy dit mos hê en boonop is daar die allergrootste gevaar dat die winkel gaan verdwyn – op die daad – voor sy haar cheap x-mas biscuits gekoop het. Uit pure spite vertoef jy langer voor die rak.
#Drie: Ja, die muzak. Boney M was altyd my antagonis. Of Pan Pipe Kersfeestreffers. Maar deesdae het muzak ’n gevaarlike nuwe vlak bereik: die Warbling Diva. Soos Maria Carey, of enige ander “chick” wat hul eie klankregister gevaarlik uitdaag. Daar is meer kinkels in die Warbling Diva se stem as ’n pas in Lesotho. Elke winkel, hoe klein of hoe enorm, voel dit hulle persoonlike plig om die Warblers op hul klanksisteem uit te toets. Op ’n afgryslike hoë volume. Kla help niks, want le manager sal jou net met sulke dooie vis-oë aankyk en sê: dis ’n firm favourite met ons ander customers. Waar dit veral pla, is in restaurante en koffieplekke. En ja, die ander customers geniet dit blykbaar, want hulle praat so hard en so baie dat hulle blykbaar die Warbling Diva nié hoor nie.
Dan ruk ek my maar op: Bogger die muffin. Die koffie. Die melkskommel. Die vis & tjips in ’n pan. En dankie, Meneer Manager van die Koffiewinkel Chain, liefs drink ek maar my tee en eet my koek by die huis.
 Foto: Gisela Ullyatt. 2016.
Ed Bremson se Poet in the Mall (2010) bevat onder meer 180 haikoes wat hy oor verskeie malls geskryf het. Alhoewel hierdie haikoes nie spesifiek oor Kersfeestye in malls geskryf is nie, is daar steeds raakpunte. Reeds as student is Bremson deur sy dosente as die “Walt Whitman of the mall” gedoop vanweë sy mall-gedigte. Hy dra ook Poet in the Mall aan Federico Garcia Lorca op.
Nie al die haikoes in die bundel is tradisioneel wat vorm aanbetref nie, maar laat eerder die indruk van ’n kontemporêre haikoe-vorm. Bremson gebruik die Amerikaanse mall as vertrekpunt en metafoor wat gelykertyd interessant maar ook ’n obstruksie is vir lesers wat nie malls in die VSA ken nie: jy gaan nie sommer Spaans in een van ons malls hoor nie; ons het nie “animal crackers” hier nie en die kans dat twee ou mans die Tweede Wêreldoorlog gaan “rehash” is na aan onmoontlik.
Interessant is die herhalende motiewe en beelde wat Bremson utiliseer, byvoorbeeld die morbidly obese Amerikaanse publiek:
on a fat woman’s shirt
the slogan, “just do it!”
do what? Eat a pie?
Nog ’n deurlopende motief is die identifikasie van mall shoppers deur middel van kleur of klas:
young redneck
whacks his girlfriend hard
on the butt
big black guy
in a chartreuse shirt
and a chartreuse cap
four black guys
making eyes
at two white girls
young black woman
walking arm in arm
with an old white woman
Sommige van die haikoes het ook ’n “fascination with the grotesque”:
woman at the mall
eats corn kernels off the cob
one at a time
girl in the shoe store
using her long hair
to floss her teeth
girls
at Brookstone
checking out the vibrators
Laastens maak Bremson ook mildelik gebruik van die paradoks, die mees geslaagde poëtiese strategie in Poet in the Mall:
Mexican woman
eating
Japanese food
September 24
shopping
at the Christmas store
woman
sitting alone
on a kiddie ride
old muslim woman
resting with her head covered
and shoes off
Vier faux haikoes tydens die laaste jaargety
1.
en oral faux sneeu
Kersvader se glittering balls
wat saam met beurtkrag flikker
2.
spur mugg & bean
kfc wimpy
gee, gee, gee
3.
swart vrydag
verreken in rooi
kredietkaart: hoerkind
4.
i wish you a stille nag
sonder #hastags of insta-
gram of ’n very merry xmas
(Gisela Ullyatt. 2016)
Bibliografie
Bremson, E. 2010. Poet in the Mall. 180 haiku + 21 poems. New York: iUniverse.
Tuesday, December 6th, 2016
 Teks en foto’s: Gisela Ullyatt. 2016.
 1.
1.
Drink die Boeddha sans soet:
vergeet die skyn, volg
jou mandala van porselein.
 2.
2.
The typewriter is holy.
#thetypewriterisholy
Is the typewriter holy?
 3.
3.
Die laaste droesem drink ek nooit:
koppie word kommetjie
wat uit my stilte sing.
 4.
4.
“Strelend, helend, antiseptiese kruiesalf”.
Eensame opsluiting ten spyt.
 5.
5.
Goedkoop swanesang
van die kantgordyn:
tog sal die lig bly skyn.
 6.
6.
Zen van die rooi pen:
markeer die niks.
Drink jou tee.
 7. Hermes Baby
7.
Die hart, ’n eensame tikmasjien:
Hermes Baby met geen boodskap aan die gode nie.
Laat ek hul dan maar eenmaal prys
want Odusseus ruik moer.
 8.
8.
Daar was ’n kerktoring
sonder duiwe maar met wolke en Whitman.
Iewers was daar son en eindelose drade:
I sing the body electric.
|
|