Uncategorized

Nuwe bundel. Hennie Meyer: Winkel van wanklanke

Friday, September 11th, 2020

Hennie Meyer

Winkel van wanklanke

Omslag

Winkel van wanklanke is ’n versameling konkrete poësie – gedigte wat die grense van die gedig as teks en as visuele kunsobjek ophef. Dit is ’n versameling (“’n winkel”) van gedigte, maar is terselfdertyd een kunswerk met onderstaande komponente of bewegings wat tot die geheel bydra. Dit word gedeeltelik in kleur uitgegee, het ’n gedig wat in braille gedruk is, ’n gedig wat op papier gebosseer is, ’n gedig met papier wat in konsertinavorm met die hand deur die digter self gevou is, asook verskeie skakels na die skrywer se webwerf waar videogedigte besigtig kan word. Sodoende word die bundel as objek op papier beklemtoon, maar word die bundel ook na die ruimte buite die papier geneem.

Nie slegs die teks is dus in Winkel van wanklanke belangrik nie, maar ook die ruimte waarbinne dit geplaas word, hóé die woorde op papier gespasieer is, hoe die gedig vertoon, die effek en sensasie van die letters op papier. Deurlopend word die gedigte vergesel met humoristiese en sardoniese kommentaar, woordspel en fyn humor. Vele gedigte is kodes wat deur die interaktiewe leser ontsyfer moet word, en lei tot verskeie interpretasiemoontlikhede.

Winkel van wanklanke is Meyer se debuutbundel en hy skram nie weg daarvan om sowel groot figure in die Afrikaanse digkuns as internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees bevraagteken. Dit is nie bloot ’n bundel nie, maar kan as ’n kunsobjek gesien word. Dit word besonder mooi uitgegee en is elkeen afsonderlik met die hand versorg.

Oor die outeur

Hennie Meyer het homself die laaste dekade as digter van konkrete poësie in die Afrikaanse literêre sisteem gevestig. Sy gedigte het reeds op Versindaba, LitNet, Pomp, Ons Klyntji en Nuwe Stemme 4 (2010) verskyn.

In 2007 neem hy deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge kompetisie met die konkrete gedig ‘Onder die Belt’. Hy het sy eerste uitstalling van sy konkrete poësie by die Tina Skukan gallery in 2008. Hy neem deel aan ’n projek in die maak van kunsternaarsboeke van die Noordwes Universiteit, Oor die einders van die bladsy, in 2009 en in 2012 neem hy deel aan die Melville Poetry Festival met sy uitstalling ‘Winkel van Wanklanke’.

Winkel van wanklanke is sy debuutbundel.

[Protea Boekhuis 2020. Prys: R250.00. Formaat: Sagteband, 137 x 213 mm, 80 bladsye. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1031-0]

Nuwe bundel. Ryan Pedro: Pienk ceramic-hondjies

Thursday, September 10th, 2020

 

Ryan Pedro

Pienk ceramic-hondjies

Omslag

In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.

Oor die outeur

Ryan Pedro is in 1993 gebore en bring sy grootwordjare deur in Kakamas en op die Weskus. Hy woon tans in Gordonsbaai saam met sy partner, Suzanne, en hulle hond, Onyx. Sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn. Pienk ceramic-hondjies is sy debuutbundel.

 

[Kwela 2020. Prys: R 220,00. Formaat: Sagteband, 72pp. ISBN: 9780795709869]

Nuwe bundel. Antjie Krog: ‘n Vry vrou

Thursday, September 10th, 2020

Antjie Krog

‘n Vry vrou

Omslag

Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word.
‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

Oor die outeur

Antjie Krog is op 23 Oktober 1952 op ’n plaas naby Kroonstad in die Vrystaat gebore. Sy was agtien toe haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, verskyn het. Haar tweede bundel, Januarie-suite, is met die Eugène Marais-prys bekroon en Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon. In 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne.

Antjie het ook as joernalis en prosaskrywer naam gemaak. Country of My Skull (1998), haar verslag oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, ontvang verskeie pryse: Booksellers’ Choice-toekenning, die Hiroshima-stigting se toekenning vir vrede en kultuur, die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys. Dis ook verwerk tot ’n film. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê ‘tsau’ en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys (UJ-prys) vir skeppende skryfwerk bekroon.

 

[Human & Rousseau 2020. Prys: R 300,00. Formaat: Hardeband, 192pp. ISBN: 9780798180511]

 

Kry afslag op die bundel by Graffiti Boeke

Nuwe bundel. Hennie Aucamp: Oopkardoes

Thursday, September 10th, 2020

Hennie Aucamp

Oopkardoes

Omslag

‘n Bundel guitige verse wat aansluit by die kabaret-wêreld, die sewe doodsondes, ‘n ganse galery bevlektes word ten tonele gevoer met Aucamp se onverbeterlike humor.

‘n Jaar of drie voor sy dood het Hennie vir Johann de Lange dié manuskrip gegee met die opdrag, “Doen daarmee soos jy goeddink.” Dit was vier A4 notaboeke; die verse was met die hand uitgeskryf, en in afdelings opgedeel. Hennie het selfs ‘n kunswerk gekies wat hy vir die omslag wou hê, ‘n werk van Theo Paul Vorster.

Waarom nou? Johann de Lange sê: “Daar het nou genoeg tyd verloop dat ek die nodige afstand gekry het en na die manuskrip as bundel gekyk het. Ek het besluit om benewens die nuwe, ongepubliseerde verse in die bundel ook ‘n aantal vroeër verse in te sluit wat by die wêreld van die verse aansluit, verse wat saamhoort.

Die bundel is vir gedeë liefhebbers van Aucamp se poësie en sy humoristiese, satiriese verse.

Oor die outeur

Hennie Aucamp is een van die veelsydigste kunstenaars in Afrikaans en het op alles wat hy gedoen het sy waarmerk afgedruk. Hy was bekroonde kortverhaal skrywer, dramatis, kabarettis, essayis en digter.

 

Nuwe bundel. Thomas Deacon: Swartslang

Thursday, September 10th, 2020

Thomas Deacon

Swartslang

Omslag

Die lewe spoeg vir Bohato bitterwater. Vir hom, wat met die vlies om sy kop gebore word, geskied daar nie geregtigheid nie. Swartslang is altyd daar en hy vrees hom. Maar Bohato gee nie moed op nie, nie eens op die myne wanneer die pad te lank word vir hom nie. Net toe hy dink sy voete roer op die pad wat die Modimo vir hom oopgekrap het, is Swartslang se skadu terug.

Oor die outeur

DEACON is ’n digter, dramaturg en prosaïs met sewe publikasies op sy kerfstok en van sy werk is al by kunstefeeste opgevoer, waarvoor hy ’n Dubbelgoue toekenning ontvang. Hy skryf in verskillende variëteite van Afrikaans. Swartslang is ’n verwerking van sy vroeëre Rooigrond in beeldryke Sotho-Afrikaans.

 

[Minimal Press 2020. Formaat: E-boek. SKU: 9781990957284]

Resensie: Bientang (Jolyn Phillips)

Thursday, September 10th, 2020

 

 

 

 

Bientang deur Jolyn Phillips. Human & Rousseau, 2020.

Resensie: Nini Bennett

 

Die digter Jolyn Phillips het bekendheid verwerf met haar digdebuut, Radbraak, wat onderskeidelik gekortlys is vir die Elisabeth Eybers-prys en in 2018 bekroon is met die UJ-debuutprys. Bientang is haar tweede bundel, ’n werk wat in alle opsigte as ambisieuse digprojek beskou kan word.

In die uitgewer se inligtingstuk neem die leser kennis: “Van Bientang het net die naam van ’n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ’n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper.” In die bundel word die raaisel van die legende van Bientang onder die vergrootglas geplaas, te midde van historiese geskrifte en oorlewerings. Die toonaard van die gedigte is egter een van verlies oor ’n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie. Tog verklaar die spreker-digter in die laaste vers (“//oëdienaar”, p. 60): “[…] is jy nie ook maar net ’n banneling / van ’n ander soort slaweskip as myne nie die digter sit met stersiektes / ek is die argivaris dis ek wat besluit ek sal jou taal bientang […].

Die digter is egter méér as die argivaris van die verhaal van Bientang. Dié epiese gedig is bevolk met karakters soos haar ouers, Lord Montagu, Klaas, die see, ensomeer en die spreker-digter fokaliseer en buikspreek deur hierdie karakters om gestalte te gee aan Bientang se verhaal.

 

“[…] ek het jou in my in- en my uit my uitgeskryf […]” (p. 60).

“vergewe my ek weet ek is ’n gedagtegier ek sal ophou om so uit jou uit te / praat […]” (p. 59).

“Bientang het jy dié aag dié klikbek toegang gegee tot al jou gedagtes / blyk dit nou jy piemp op my?” (p. 59).

“ek het vir Bientang ’n kleptokrasie gebou / en aan die buitekant kan jy sien hoe ons by mekaar steel / om ’n stem te lieg” (p. 58).

“[…] die sand plof / op die deksel van my kop in die land / van my kop waar sprekers woon” (p. 57).

 

Met hierdie polifoniese inslag word die rekonstruksie van Bientang se identiteit as ’n verbeelde – of fiktiewe – historiese narratief geskep. Ons is almal bekend met Autshumato, meer bekend as Harry die Strandloper wat opgetree het as tolk tussen die Europese setlaars en die Khoi-gemeenskap. Die Strandlopers was histories afstammelinge van die Khoi wat ’n bestaan gevoer het deur te jag en en kos te versamel aan die kuslyne van suidwestelike Afrika – en die eertydse Kaapkolonie. Met hierdie bundel word Bientang se historiese belangrikheid as “laaste Strandloper” onderstreep, maar die werk is ook van argeologiese belang, aangesien dit opnuut die ontdekkings by Hermanus (vroeër Hermanuspietersfontein) en omliggende omgewing onder die soeklig plaas.

Die epiese gedig se ‘verhaal’ word anachronisties aangebied, vergesel van insetsels in die vorm van fotokopieë uit gesaghebbende woordeboeke. ’n Sentrale tema in die bundel is die soeke en vorming van die Khoi-vrou, Bientang, wat in die tweede helfte van die negentiende eeu geleef het, se identiteit. Die eerste betekenis van die woord “bientang” is ’n valse aantyging of ’n aanname. Die tweede betekenis is om ’n mat oop te sprei as teken van gasvryheid, maar ook die oopgooi van ’n vissersnet of iets dergeliks; óf ’n Maleise kruisiging. En die derde betekenis is ’n ster, hemelliggaam of meteoriet. Die digter deel hierdie inligting of leidrade spaarsaam, maar broodnodig om die leser te lei om gaandeweg die geheime en raaisels, wat Bientang omring, te ontsyfer. Die leser maak ook kennis met die woord “!nau”, wat dui op ’n persoon wat tussen twee strata verkeer, byvoorbeeld ’n puber wat nòg kind, nòg volwassene in die stam of etniese groep is. Hierdie tussenfase aktiveer die kodes van inisiasierites en liminaliteit. Die konsep van liminaliteit is geskep deur die antropoloog, Arnold van Gennep in sy boek, Les rites de passage (1908), wat die prosesse rondom inisiasierites beskryf. Die struktuur van grensoorskrydingsrites verloop soos volg: skeiding – liminaliteit – herintegrasie. In die preliminale fase maak die persoon hom los van die sosiale struktuur, gereed om die gemeenskap te verlaat. Binne die liminale fase is die persoon blootgestel aan beproewinge, verwonding en ongewone ondervindinge. En in die postliminale fase vind die herintegrasie in die gemeenskap plaas. Die liminale persoon het egter nou ’n veranderde status as gevolg van nuwe kennis en insigte. Liminale persone is mense wat deur die klassifikasiesisteme van bestaande en kulturele sisteme glip, oor transformerende krag beskik, en ’n belangrike invloed op die gemeenskap kan uitoefen. Binne die liminale sone is daar ruimte vir kreatiwiteit, metamorfose en heling – en die liminale persoon slaag dikwels daarin om versoening tussen mense se verskillende rasse-, historiese en politieke oriëntasies teweeg te bring. Laasgenoemde liminale proses is waar vir die spreker-digter (binne haar metaforiese ruimtelike verplasing), maar ook vir haar alter-ego, Bientang: “vandag is ek vrou ek word uitgesmeer met boegoe / dit maak my vrugbaar atta’le vat my vanoggend / na die hut en sê vir my ek is nie meer ekke nie” (p. 7).

Bientang se inisiasieproses neem ’n aanvang, maar is uitdagend. Tog bring die galjoentyd en die assimilasie met natuur- en waterbeelde vertroosting (p.17). Maar die katarsis duur voort: Sy gee geboorte aan ’n kind (wat sterf) (p. 16), sy verwys na haar broer se dood (p.18), en sy beseer haar enkel onderweg na haar nuwe woonplek, ’n grot (pp. 18-20). Op ’n amper panteïstiese wyse word sy een met die elemente:

 

[…] in my is ook water ja in my is ook donderstorms

in my is ook die harsings so groen soos seegras

in my is klippe en daar is ‘n grot aan elke swelselhoek van my

lyf en hier kan ek nie sink nie hier spoel die water in my ore

in my neus my oë hou ek oop in die water is ek soos al die ander

kinders van die see wat in haar bly […]  (p. 22)

 

Met verloop van tyd word Bientang méér see. Die see is nie net ’n beliggaming of analoog van haarself nie, dis ook ’n belangrike simboliese ruimte waarin sy haar bevind. Die simbool van die see word nie om dowe neute geassosieer met seksualiteit en voortplanting nie – en insgelyk die premordiale, moederlike oorsprong; die baarmoeder van nuwe lewe. Bientang, die een wat storms aanmaak, is inderdaad goed vertroud met donderstorms wat op hul beurt weer optree as agent van suiwering (pergatorium). Die tog na onafhanklikwording, weg van die huis, bied verdere uitdagings:

 

maar ek wil wragtig uitbars en see en see en huil en huil

ek wil pa’le nie vashuil nie my tuiskoms was so stil  (p. 24)

 

Die tweede belangrike simboliese ruimte in die bundel is Bientang se grot. ’n Grot is immers ’n bekende inisiasieruimte in mites, legendes en kultusverhale, en word geassosieer met die hart; ook verteenwoordig dit die plek waar die self en die ego verenig. Die grot is simbolies van die aardmoeder se baarmoeder en sluit dan aan by die simbool van die see, wat resoneer met soortgelyke betekenis.

Die spreker-digter se ondermyning van tekstuele stabiliteit word self ’n grensoorskrydende handeling, ’n verruiming van woordbetekenis ten einde versoening te bevorder, terug in die samelewing. Die standaard konvensies ten opsigte van ortografie word uitgedaag, byvoorbeeld in die oorgrote meerderheid van die verse is die kantlyn regs, en nie links, soos dit normaalweg die geval met poësie is nie. Die verse bestaan uit ’n voortstuwende bewussynstroomtegniek, ’n ongewone (en soms) gebroke sintaksis en die weglaat van punktuasie om amorfe poësie te vorm. Die gebruik van die enjambement word maksismaal ingespan om byvoorbeeld die mag en krag van die see te simuleer. Die verse is tipografies aanskoulik, byvoorbeeld op p. 29 word die see as bruidsbed ook visueel sigbaar gemaak vir die leser. Dis egter veral die verruiming van taal wat opval – die teks is ryke stof in die vorming van neologismes, ’n lingua franca soos dit (vermoedelik) in die idioom van Bientang en die Chainouqua gepraat is. Veral die benoeming en beskrywing van natuurelemente en die see- en plantlewe tref die leser as outentiek, aards en sonder pretensie. Die heel laaste gedig (pp. 60-61) is ’n kakawin, ’n oud-Javaanse narratiewe gedig bestaande uit strofes van 4 reëls met 19 lettergrepe elk, geskryf volgens die ou Sanskrit-patroon. Bientang lewer nie net ’n aansienlike bydrae tot Khoi-/Quena-Afrikaans nie, maar ook tot die slawediskoers as geheel.

Versoenende handelinge word vanuit liminale sones verrig, soos byvoorbeeld op p. 30 wil Bientang vrede bewerk deur middel van vergifnis / offerhandes:

 

[…] ek’t vir hulle

’n vergifniskaros gemaak die walvisse

het al drie keer kom kalwers lewer hier by my plek

voordat ek besluit het ek sal vandag teruggaan […]

ek moet loop vrede maak as ek wil vrede wees (p. 30)

Maar ook die spreker-digter, wat deur Bientang “praat”, maak uiteindelik vrede met haar identiteit:

om baster te wees is om oorlams te wees ’n indringerplant ’n lukwart-

boom al wat van jou oor is is onkruid tussen die gras ek moet vrede

maak met my ironiese vel en ophou vrybriewe deur jou aan myself

te skryf ophou dink ek kan daarmee vir my ’n inheemsgeskiedenis koop   (p. 60)

 

Die spreker-digter het dus binne die liminale sone haar kreatiewe energie gebruik om poësie te skryf – en só versoening vir haarself, maar ook vir Khoi-mense te bewerk.

In die tweede helfte van die bundel word die leser bekend gestel aan Lord Montagu en Klaas. Lord Montagu is ’n reisiger en ’n man wat wat plante en diere “ken en opskryf” (p. 31). Laasgenoemde opskryf word egter met ’n ironiese afstand deur Bientang (en die ware argivaris, die spreker-digter self) bejeën, omdat Bientang die natuur eerstehands ken en ervaar, terwyl Lord Montagu se kennis daarvan slegs teoreties of akademies blyk te wees. Klaas, Lord Montagu se middelman of helper, word ook “Amroo van die Kamma-Kan-Kammariviermense” genoem. Alhoewel daar ’n erotiese aantrekkingskrag tussen Bientang en Lord Montagu is, is dit onduidelik of hulle ooit ’n verhouding gehad het. Die wrywing tussen die Khoi en die kolonis blyk uit die verskillende leefwêrelde waaruit hulle kom; Lord Montagu verstaan nie die benoeming en belewenis van kruie en plante soos Bientang nie:

 

nee sê lord montagu it is lobostemon ek het grootgeword met die plante

lord moet nie vir plante name gee waarvoor hulle nie gevra het nie  (p. 40)

 

Lord Montagu is ook vertroud met die derde betekenis van “Bientang”, naamlik ster of hemelliggaam (p. 37). Hierdie drie onderskeidende betekenisse van die woord dui nie net op die rekonstruksie van Bientang se identiteit nie, maar ook op die onderskeie dimensies van haar menswees – sy morf as’t ware in meer as een identiteit. Bientang vind dan eindelik berusting as sy haar vertroue, soos ’n noorkapper (walvis) vir die wind gooi. In “die storm” (p. 51), Bientang se laaste (metaforiese) storm, is daar ’n voorafskaduwing van haar bejaardheid en dood:

 

ek sit bedags by die soutwaters ek bekyk die omweer van die see

ek hoor hoe sy soos kapallangs stap hardloop

oor die klippe het jy nie gesien hoe lyk die vel van die rotse nie

hulle lyk soos my grootmoeder in haar geleende jare

voor sy kom liggaam maak het soos die walvis

hierdie rotse hulle plooi kyk hoe sit die ouderdom in hulle in

die water skryf my so in die branders in ek kyk vir myself en ek

ja ek het ok oud geword […]  (p. 52)

 

Die spreker-digter bevry haarself as sy ook vir Bientang, op simbiotiese wyse, bevry in die ars poëtikale “die oëdienaar gee op” (p. 61):

 

jy sny jou los van waar ek jou arms die eerste keer in kruisrym geboei het

jou die eerste keer verstroof en jou binnerym uitgehaal het

en daar duik jy woordvry jou eie apokriewe uit  (p. 61)

 

Jolyn Phillips se tweede bundel doen gestand aan die belofte wat met Radbraak geskep is – dit is in meer as een opsig sélf ’n grensoorskrydende werk, ’n kragtoer wat al die lof verdien wat dit toekom.

 

Johann van der Walt. Ode aan onsterflike verse

Friday, August 28th, 2020

 

ode aan ontsterflike verse

 

ek weet, nes jy, hoe om my moedertong die knie te laat buig

‘n vreemde vel van inboorling tot woning te verklaar

en ‘n ander paradys ver van ossewakreun te betree

tóg bly verse jou verbintenis aan ons

afrikaans is nie bloot net ‘n taal wat ons wegsmyt nie dit weet jy goed

sy word opgeroep nie vanuit longe nie maar vanuit gees

selfs daar waar jy worstel met vergangklikheid sal afrikaans eerste

uit jou longe as verlangde spreekbeurt ontsnap

nes jy, weet ek ook hoe om skoensole langs die seine te slyp

eerstehands het ek ervaar hoe vensters geel happe uit parys-skemers byt

wat my wel stom laat is hoe jy, jare daarna, die apartheidskubbe

– frustrasies van tralies na palmsholtes oorgedra-

met brutale vers uit jou vel sonder wraak kon afskil?

sou julle ooit, na dít alles, híér op tuisbodem geluk kon uitkerf

of was dáárdie vroeë herfsaande in parys die ware koningkryk?

vyf-en-vyftig trappe daagliks geklouter tot nuutgevonde samesyn

(dit is juis oor daardie tyd wat ek hierdie woorde neerskryf)

sê my of jy soms nog wonder na waar jou eerste verse wei?

verby die nok, op teen die gebou, hemelwaarts

selfs verby drakoniese gesteentes wat van hoog op die stad neerkyk

alhoewel ‘n suksesvolle sprong oor die maan nooit op sy kerfstok sal beland

word sy blues- ‘n soektog na ‘n huis steeds versadig gelaat-

vra rustelose lesers op balkonne want hulle weet

tydens boekoopslaantyd kry ysterkoei opnuut ‘n kamp om in te sweet

 

© Johann van der Walt, 2020

 

Nuwe bundel. Louis Esterhuizen: Die gladde stiltes in glas

Friday, August 28th, 2020

Louis Esterhuizen

Die gladde stiltes in glas

Omslag

Digter en resensent Nini Bennet het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: “Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas, kristal, ensovoort. Glas is sterk, dog broos en breekbaar. Verse oor die natuur, die liefde en die aard of besinnings oor poësie as ambag – oftewel Ars poëtikale poësie – vind hul beslag … dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die manuskrip konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is.”

Oor die outeur

Louis Esterhuizen is ’n geliefde en gerespekteerde digter. Sy oeuvre bestaan uit tien bundels en heelwat van sy verse is opgeneem in gesaghebbende versamelpublikasies. Hy is sedert 2017 teksredakteur en manuskripontwikkelaar nadat hy vir jare werksaam was as boekhandelaar by Protea Boekwinkel, Stellenbosch. Saam met sy vrou, die digter Marlise Joubert, is hy medepionier en stigterslid van die webblad, Versindaba. Esterhuizen is in 2011 bekroon met die Protea Poësieprys vir Wat die water onthou. Die gladde stiltes in glas sal die elfde digbundel op die digter se kerfstok wees.

[Protea Boekhuis 2020. Prys: R195.00. Formaat: Sagteband, 137 x 213 mm, 128 bl. ISBN 978-1-4853-1155-3]

 

  •