Adam Small
Adam Small is op 21 September 1936 in Wellington gebore. Sy laerskoolonderrig was baie gereformeerd terwyl hy katolieke hoërskoolonderrig ontvang het. Hy ontvang graad en sy Honneurs aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna studeer hy vir ‘n paar maande in London. Hy doseer aan die Universiteite van Fort Hare en later Wes-Kaapland, maar lê sy lektorskap af as gevolg van politieke redes in 1973. Hy doen vir tien jaar gemeenskapswerk en voltooi sy graad in maatskaplike werk. In 1984 word hy weer werksaam aan die Universiteit van Wes-Kaapland as hoof van die Departement van Maatskaplike werk. Einde 1997 tree hy uit diens. Small gee verskeie digbundels uit gedurende sy lewe. Sy gedigte wissel baie van toonaard, soms is die gedigte skerp satieries tot mymerend. Sy gedigte is dikwels vol opstand en verbittering. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ‘n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie. Sy drama Kanna hy kô hystoe (1965) word deur André P Brink bestempel as ‘n hoogtepunt in die Afrikaanse drama. Dit is vertaal in Engels en verskeie kere ook in die VSA opgevoer. As rubriekskrywer en polemikus lewer Small bydraes in Die Burger, Rapport en Argus. Adam Small het in 1957 met Verse van die liefde gedebuteer. Van sy ander bekende digbundels sluit in Kitaar my kruis (1961) en Sê Sjibbolet (1963). ‘n Keur uit al die Afrikaanse digbundels, Kô laat ons sing, verskyn by Kwela in 2011. Adam Small is in 2016 oorlede. |
Highpriest van die Socialism
‘n Profit van die liberation djy?
‘n socialist?
djy met djou hys-palys
met djou lang slap mouterkar
djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die
oppressed
met djou tears
en djou woera warra oppie stage
met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class
vannie jets
djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal my
djou verbeel!
En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ‘n chips?
2
Dan sal ons dors met die slyk geslaan word
Sal ons hyg en weet hoe God kan kyk en swyg
Dan sal ons sien hoe breed is God se rug dan dreun die
lug
En myle aaneen sal ons lande graan se gruwel
Wuif in die rooi oog van die maan
Een sal wonder hoe bak mens brood met roes
‘n ander in sy akker wurms oes
Dan, die aarde sak, kyk die berge
Die hande, die groot hande by die sterre
(Bg. twee ongepubliseerde gedigte is voorgelees in Iris Bester se huldigingsprogram op RSG. 15 September 2011. Die gedigte is ook by die onlangse seminaar oor Adam Small, wat deur die Departement Afrikaans/Nederlandse van UWK aangebied is, deur Abraham H de Vries voorgelees.- Red.)
*
DOEMANIE
‘n Proefiet van Jesus djý?
‘n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerewarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?
djou hys ‘n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit met jou kale pote vi’ daai streamline ding
en hoe lyk dit djou toega vi’ die vel van ‘n kameel
en hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’ sprinkane en wille hiening?
DIE HERE HET GASKOMMEL
Lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en dis allright pêllie dis allright
ons kannie worry nie
‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en ‘n lekker meid en lekker anner dinge
oe!
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
wat daarvan
wat daarvan
wat maak dit saak
soes die Engelsman sê it cuts no ice
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons
daai’s maar al
so lat hulle ma’ sê skollie pêllie
nevermind
daar’s mos kinners van Gam en daar’s kinners van Kain
so dis dis allright pêllie dis allright
ons moenie worry nie
(Uit: Kitaar my Kruis, HAUM 3e druk, 1975)