(all god’s children took their toll)
een oggend vroeg
of miskien nie vroeg genoeg nie
aangesien die toevallige pa
die skoolbus misgis
in die onbeplande ekstra minute
wat ‘n skoolkind se hare vat om te borsel
in die ontoevallige sisteme
van die moderne heilige land
is die skool binne loopafstand
en kan voetslaan nog vir baie tel
ons vergeet ‘n handjie vol sakgeld
vir die klas se vrydagtombolatafel
“net tien sjekels mag ons vat”
die swart ogies blits
die vlegsel skiet in spriete los
ek grawe dan in my beursie
tussen die vreemde note
van ben gurion
om daar te kry
alle tyd verby
drie gewone sikkels silwer
(‘n Gedeelte uit ‘n langer gedig wat verskyn het in Wanpraktyk, Human & Rousseau, 2011)

