cas vos
Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy was Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ’n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ’n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007 en Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009. Duskant die donker/Before it darkens, ‘n keur met vertalings deur Leon de Kock verskyn by Protea Boekhuis in 2011. Fragmente uit die Ilias, verskyn in 2014 by Protea Boekhuis. |
Verraai ons angs nie anoniem
dat die lewe weerloos ontkiem?
Die glasglans stem die blaser mild.
Die kersvlam vorm die hand tot skild.
Die krokus wys beton se grens.
Hoe kosbaar ’n kwesbare mens.
(deur: Okke Jager, 1992)
(Die gedig van Okke Jager, is uit die Nederlands vert. deur Cas Vos. Die vers het in sy laaste boek van artikels
wat hy vir Trouw geskryf het, in 1992 verskyn. Hy het ‘n breintumor gehad en is binne ’n paar maande oorlede. Jan. 2011)
*
Sy mond vroetel sagkens aan borste
oorlopens van moedersmelk
en blaas asem uit stikstofbewolkte longe.
‘n Sonar hou al die organe stip dop,
kleppe sluit soos sluise oop en toe
dat bloed deur soepel are pols.
In ‘n trog trek melancholie
op die galblaas donker saam.
Niere spoeg gifstowwe uit,
die lewer spoel bloed skoon.
Alles wat verteer word uitgewerp.
Dis nogal ‘n kuns om mens te bly,
om heilig én banaal te balanseer.
En dan kom die donker dae met sy onweer
as kwale aandring op onverwagte voorkeur,
tamheid munt slaan uit ‘n slopende liggaam
wat mens na dood as uitkoms laat smag.
© Cas Vos. Jan. 2011
*
Stella Natalis
(Ster van geboorte)
van Karl Jenkins
Teks verwerk deur Cas Vos
(Uitgesaai op RSG 25 Desember 2010
‘n Program deur Tharien Oosthuizen)
1 Celebro
Celebrato (Ek vier fees).
Laudibus (Prys).
Klingel die klokke,
tyd om fees te vier.
Prys, al die mense van die wêreld.
Sing lof.
Sing luid,
tyd om luid te sing.
Liefde kan oral wees
soos ‘n sonstraal in die siel.
Strooi rosekranse oor die wêreld
om ‘n boog van vrede te maak.
Strooi rosekranse en sing van vreugde
om alle woede te laat bedaar,
slegs vrede straal.
2 Lullay
Slaap soet, my geliefde, vol vrede, so klein,
slaap die wêreld ontwaak.
Onder die helder ster slegs oor jou krip
veilig as die dag breek.
Slaap soet, my geliefde, vol vrede, so klein,
rus tot storms gaan lê.
Jesus, vol vrede, slaap vas op die strooi,
rus tot jy ons sien ly.
Eendag sal jy al ons sorge weggooi,
gou sal jy ons bevry.
3 Cantus Triquetrus (Die driehoeklied)
ting, ting, ting.
Drie kante klingel.
DRIEHOEK,
drie kante klingel,
klingel as ons sing.
Ting, ting-‘n-ting, ting.
Talle dinge tel tot by drie.
Die drie herders en drie wyses.
Dan die drie Hindoe gode.
Brahma, Vishnoe, Sjiwa.
Die heilige drie-eenheid.
Vader, Seun en die Heilige Gees.
Sadrag, Mesag, Abednego, vlamme wat gloei.
Daniël beveel: maak hulle voete vas, gooi,
al drie,
in die bek van die oond wat vurig vlam.
Abraham was almal se profeet,
drie godsdienste, eersteling profeet.
Talle aanwysings wys die pad van God.
4 Slegs hemelse musiek
Liewe Here, neem tog my hand,
lei my deur die droewe land.
Bemoedig my hart wat bons
en laat my oë net skoonheid sien.
Laat hemelse musiek my ore bekoor.
Liewe Heer, bring my tot rus,
laat kommer verdwyn soos mis.
Maak my gesig sag met deernis
lei my na plekke vol geluk.
Laat hemelse musiek my ore bekoor.
5 Wintergety
Snerpend koud, sneeu bring vrees,
Vader Winter slaan nou toe,
druppels dou glans op sy neus.
Seuns wat skaats en slee ry,
Vader Winter sal jou kry,
jou neus, gesig ysig byt.
Sleeklokkies lui, sneeuballe vlieg.
Kyk die sneeu lyk net soos die vere
van ganse wat Simon se vrou pluk.
Dis snerpend koud, sneeu bring vrees,
Vader Winter slaan nou toe,
druppels dou glans op sy neus.
Sleeklokkies lui, sneeuballe vlieg,
vandag is Vader Winter koning
op sy slee is sy kroning.
Bibber, o bibber, dis koud.
Voëls verkluim en bly stil,
bome lyk wit geplooi.
Yskeëls lyk soos fraai versierings
wat op huise tros en skitter soos glas,
terwyl seuns skaats en slee ry.
Vader Winter is vandag koning
op sy slee is sy kroning.
Bibber, o bibber, dis koud.
Vriesend koud.
Vader Winter.
Brrrr!
6 Slaap, Kind van Winter
Lacus, lacus (meer, meer)
Slaap, Kind van winter, slaap kind van lig.
Die maan skyn, die wêreld is verlig.
Saggies skommel die wieg, skommel die wieg,
hou getrou wag deur die lang donker nag.
Heilige Kind van winter,
sterre glans nou om jou
(sagte en stil meer)
Knielend om jou, geduldig en wagtend,
slaap tot die nag kom, slaap kind van lig.
Meer van die maan, silwer in die lug.
Slaap, Kind van winter, slaap Kind van lig.
Saggies skommel die wieg, skommel die wieg,
Hoop van die wêreld, slaap sonder sug.
7 Maak ons vrolik
Sluit die saal vir niemand oop nie,
geen versorger, hofknaap of wegwyser,
maar laat ‘n pretmaker almal bring
want dit is tyd om Kersfees te vier.
Maak ons min of meer vrolik
want nou is dit tyd vir Kersfees.
Fa fa fa fa fa fa fa,
Kersfees, Kersfees.
As hy kan praat sonder om te sing,
laat ons dan ‘n pretmaker bring
wat die fees met vreugde vul.
Maak ons vrolik, vrolik.
As hy sê hy is tot niks in staat,
laat hy om liefdeswil ons verlaat,
laat hom dan na die buitekamer gaan,
want nou is dit tyd vir Kersfees .
8 Uit die oog van ons aarde
Ons sien lig geweefde sterre-
stelsels aan die hemel,
ons oë kan nêrens
wolke van stof sien nie,
maar gas en stof bol wolke.
Hieruit word sterre gebore.
Ons sien lig geweefde sterre-
stelsels blink in die nag,
juwele in die donker.
Trosse sterre glans in die melkweg.
Dryf rond in die ruimte.
Lank en wit is die ligtende pad in die lug.
Dit is ons Melkwegstelsel wat hemelhoog tol.
Soos in die fabel ‘n weg na die paleis van Zeus in die lug.
Ons sien dit in die lug
‘n eiland in die donker.
Trosse sterre in die Melkweg
draai daar hoog só stadig,
tol rondom soos ‘n wiel.
Miljoene sterrestelsels vorm die heelal.
Op aarde sien ons die son,
kyk hoe vloei dag in nag.
Op aarde lyk die son geel,
met oranje lig deurstraal.
Sterrehemel.
Een helder ster, bedags,
hierdie ster is ons son.
Miljoene gloei in die nag,
ver sonne, nie een nie.
Die Ster van Betlehem, verkore een
lei wyses na die pasgebore Seun.
Mundus, mundus (wêreld, wêreld).
Heelal.
9 Die Beskermer
Ek slaan my oë op na die berge;
vanwaar sal my hulp kom?
My hulp sal van die Here kom
wat hemel en aarde gemaak het.
Mag Hy nooit toelaat dat jy struikel nie!
Mag jou bewaarder nie slaap nie.
Let op, ons volk se bewaarder
slaap nie en sluimer nie.
Die Here is jou bewaarder en jou skaduwee;
Hy staan aan jou sy.
Bedags sal die son jou nie kasty nie,
en snags ook nie nie maan nie.
Die Here sal jou teen die bose beskerm,
en Hy sal jou bewaar.
Die Here sal jou kom en gaan lei
nou en vir altyd.
10 Dona nobis pacem
Gee ons ryklik vrede.
11 Sing met vreugde op Kersfees
Sing met vreugde op Kersfees,
kom saam op aarde.
Deel in die jubeling,
deel in lof oor die geboorte.
Sing die lied van aanbidding,
almal is hier welkom.
Kom saam, sluit by ons aan,
vryheid sonder vrees.
Sing met vreugde op Kersfees,
kerse verlig ons pad.
Verheerlik ons Heer;
dis sy geboortedag.
Ontvang die Kersfeesvreugde,
gee dit hier op aarde.
Vou hande in aanbidding,
vertel van sy geboorte.
Neem die lied van blydskap,
wat almal moet hoor.
Kom saam, sluit by ons aan,
vryheid in die wêreld en geen vrees meer.
Kersfees op ‘n Afrika manier:
Ons kan vir ons God sing en Hom waardig prys.
Abuntu! Ukuhlabelela! Ukulunkulu!
(Mense! Sing! God!)
Ubuntu! Ukuhlabelela! Umakhoya!
(Mensdom! Sing! Here!)
Inkosi! Ukuhlabelela! Ukuthandaza!
(Koning! Sing! Bid!)
12 Jubilate Deo
O wees bly in die Here, al julle lande:
dien die Here met blydskap,
en betree sy teenwoordigheid met ‘n lied.
Amen.
Wees oortuig dat die Here God is,
Hy het ons gemaak, ons Maker, en nie ons nie,
ons is sy mense, skape van sy weiplek.
Amen.
Want die Here is goed,
sy genade duur vir altyd,
en sy trou strek van geslag tot geslag.
Amen.
Gee eer aan die Vader en aan die Seun,
en aan die Heilige Gees.
Soos dit in die begin was, is dit nou,
vir altyd: wêreld sonder einde.
Amen.
(© Teksverwerking deur Cas Vos. Jan. 2011)
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf
Père La Chaise, 12 Junie 2009
Onder vlae grys wolke kniel
ek tongstom op ‘n heilige plek
waar skadu’s se voue dooies
in hulle diep slaap bedek.
In ‘n verlate uithoek
waar ‘n boom wortelskiet
lê Abélard en Héloïse
eeuelank in klip gegiet.
Hulle hande vou intiem gebede –
die donker melodie van kerslig.
Op ‘n bed van klip
wieg geliefdes innig.
Verlore tyd
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf by Die Parakleet
Skoelappervlerke vou oop
en toe as die wind sug,
die sterre bly gloeiend
tydloos en onverskillig.
Oor die aarde se rimpelvel
sprei ‘n engel sy vlerk,
klop aan die koue uur
om die stilwees te merk.
In ‘n nes van spikkel sterre
waak kraaie oor afwesigheid.
Wie praat nog oor verborge
verlange na die verlore tyd?
laaste woorde
tussen sterre skryf die maan
met jambes lig en donker
oor eeue wat vergaan
‘n engel kyk na die graf
waar dowwe sterspore lê
en skud die vaal stof af
hy buk oor ‘n grafsteen en lees
‘n laaste versreël:
die opstanding van die vlees
testament
wat nou oorbly
is die natroos
van ‘n vergane lewe
al herinnering
is die ritme van woorde
uit ‘n gansveer se punt
die laaste lig van ‘n vers
die spore van kersrook
my nagelate testament
fragmente
van ‘n intieme afwesigheid
© Cas Vos. Januarie 2010
***
Verlore tyd
’n Skoelapper fladder vlugtig
soos ’n skaduwee verby
terwyl sterre se skittering
tydloos en onverskillig bly.
Oor die aarde se rimpelvel
sprei ’n engel sy vlerk,
klop aan die koue uur
om stilwees te merk.
In ’n nes van spikkel sterre
waak kraaie oor afwesigheid.
Wie praat nog oor verborge
verlange na verlore tyd?
© Cas Vos. September 2009
In die labirint
Vir Lida, 12 September 2009
In die labirint se gang
sien ek vlae newels
uit die donker groei.
Ek raak aan duister
se rimpel gesig
en ruik ‘n engel
met ‘n erdekruik
vol soet asem,
hy fluister
in my oorgange
woorde van lig.
Ek wil wegglip en raak
aan die uitgerafelde soom
van die diepste droom.
Voor U sidder ek naak.
Hou my vas in die labirint
dat ek U volmaak kan vind.
Besoek aan Abélard en Héloïse
by die Parakleet
Skemer vou om die Parakleet
onder die maan se halfgesig,
uit elke wolk se ooglid
val trane oor sy doodsberig.
Ontsluier in sooie, vou op vou
mag sy vergetelheid vind,
in ‘n graf gestroop van drome
vlietend tot stof ontbind.
In die grys koelte sink troos
in volstrekte stilte sonder pyn
sif skadu’s oor hulle soos stof
wat langsaam in die verte verdwyn.
© Cas Vos. September 2009
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf
Père La Chaise, 12 Junie 2009
Onder vlae grys wolke kniel
ek tongstom op ‘n heilige plek
waar skadu’s se voue dooies
in hulle diep slaap bedek.
In ‘n verlate uithoek
waar ‘n boom wortelskiet
lê Abélard en Héloïse
eeuelank in klip gegiet.
Hulle hande vou intiem gebede –
die donker melodie van kerslig.
Op ‘n bed van klip
wieg geliefdes innig.
© Cas Vos. Julie 2009
om af te sluit
vir ‘n flitsende oogblik
skil die maan sy lig af,
sluit jy ‘n geelvergane
verlede oop, huiwer,
kyk na die moeë son
voor jy my nader wink.
my hart bewe in
my keel se noute,
ek staan op heilige grond,
sien die letsel van ‘n wond,
dáár waar ou stof vergaar
en skuld klippe stapel.
siende blind tas ek
na die stof van griewe
op hierogliewe,
stilte se laaste woord.
hou dáárdie deur nou dig
en pluk vir jou ‘n ruiker sterre
om jou pad in donker tye te verlig.
© Cas Vos. Mei 2009
Fragment VI
‘n Klaaglied
Gebaseer op die Gilgamesj-epos.
‘n Nagmerrie jaag Enkidu op hol
toe ‘n man met ‘n donker vlek
soos ‘n sandwolk uit die woestyn
op hom afstorm:
sy oë wreed soos ‘n arend,
sy hande pote van ‘n leeu,
sy naels die kloue van ‘n arend.
Die man se stem is ‘n stortvloed,
sy tong lek vuur,
sy asem is swart.
“Hy gryp my aan die hare
en oorrompel my!
Dit is soos dertien winde
wat teen my opstaan!”
Nie op die slagveld nie,
maar deur ‘n siekte hokgeslaan,
laat Enkidu die lewe los.
Gilgamesj se verdriet en angs
laat bome tot in die wortels sidder,
elke blaar snik van die droefheid.
Wat hy verloor het, dryf tussen wit lelies.
Sugte slaan dofweg teen die heuwelbors vas,
mistroostigheid styg uit die laagtes op
en trek ‘n sluier oor die hemelblou.
Pyn se suur smaak brand sy mond.
“In die maan se spinnerak
spartel sterre verskrik,
want die dood het jou oorrompel.
Bloeisels sal soos klokkies klingel
maar jy sal dit nie hoor nie,
want jy is mos dood.
Die vyeboom sal nooit weer bot nie
en druiwe sal asynsuur smaak.
Die land sal met leë hande staan
en krale sal net ou spore bewaar,
want die dood het jou weggeraap.”
“O, God, my hart is verskeur,
die laaste dae bring bitter seer.
Enkidu, my vriend, is dood.
My tong is lam gekla.
Die wind suig al my trane op.
My tong is rou geskroei.
My trane verdroog in die wind.
Enkidu, my vriend, is dood.
Die laaste dae bring bitter seer,
o, God, my hart is verskeur.”
Gilgamesj draal nog om sy vriend
en bedek
sy gesig met ‘n aswit sluier.
Hy wy aan Enkidu
‘n standbeeld
en geskenke vir sy vaart.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007