chris lombard

 

Chris Lombard

Chris Lombard

Chris Lombard, gebore op Heidelberg in die Wes-Kaap, behaal grade in tale en drama aan die Universiteit van Stellenbosch en is later dosent aan opvoedkundige inrigtings.

Die grootste deel van sy professionele lewe gee hy klas aan die Universiteit van Kaapstad waar hy met studente heelwat opvoedkundige teater vir skole aanbied. Hy onderneem verskeie studiereise in Europa, volg ’n kursus aan die Universiteit van Perugia en is ook ’n tyd lank omroeper by Wereldomroep in Nederland.

Daar het reeds drie digbundels en een prosawerk van hom verskyn. Tussen die malgasse op die kaai is benoem vir die CNA-prys vir eerste publikasies. Die ander digbundels is Millennium en Driemaster.

 

In die Wimpy

 

Ek kyk sydelings vanuit my hoek

na die gesin op reis; ek skat

die leefstyl tuis beskeie en fatsoenlik

– dié toertjie straks ’n eenmalige traktasie.

 

Vier seuns, twee reeds uitgegroei,

herhaal die T-en-denim van portuurs;

die borselkoppie-paar glans skoongeskrop;

die pa verraai latent ’n joviale.

 

Sý, nek en arms seningrig gestrem,

deel haar naasoudste een se aura;

dié sit stil, tussen die oë twee vroegoud

kepe. Die mond ’n noodsinjaal.

 

As hy ná die ander opstaan en vertrek,

merk ek die bene slinger uit die heupe.

 

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share
  •