![]() Christine Barkhuizen-le Roux (1959 – 2020) is op 18 November 1959 in Vryburg gebore. Sy studeer op Stellenbosch en behaal ’n BA-graad met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke. In 2000 verskyn haar debuutdigbundel, dimensie. In 2005 behaal sy ’n Meestersgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. In Maart 2006 verskyn haar prosadebuut, die kortverhaalbundel Waar koek en wyn ontbreek by Lapa, en einde Augustus 2006 verskyn haar tweede digbundel met die titel roset ook by Lapa. In 2006 skryf sy vir ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad in. In 2010 verskyn haar eerste roman, Padmaker, by Human & Rousseau. Sy woon saam met haar man Bertus op ’n plaas 30 km van Barrydale. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag. Lees gerus ‘n meer uitgebreide biografie op Litnet: |
reën
nóg klem die persbergdraaibos
die somerstof
in kleingekrimpte handjies vas
maar op die suidooswind
ruik ek die eerste reën
en skielik
skarrel ‘n skare geel
blare soos kuikens oor die werf
telefoongesprek
ag die ou bene pyn maar jong
dis koud en dis alleen
vanoggend het dit hard gereën
die huis is so vol stof
ek slof maar aan
loop in my kamerjas
die baba van die bure skree aaneen
hulle kat het in my tuin gekrap
wat maak die kinders
leer hulle mooi?
sê ouma stuur groete
hulle moet kom oë wys
dis koud
lyk my dit gaan weer reën
© Christine Barkhuizen le Roux. Maart 2011
laaste wil
vou my in ‘n groen jurk toe
en lê my op ‘n kisplankbaar
wanneer die aarde donker word
die wolke druppelloos
skuif my in die smal hoogoond
sodat ek wit kan brand en weg
nie wag op wurms ondergrond
kranse bolangs Sondagsverdriet
neem my potkleikruik en as
breek dit tot skerwe skud my vry
oor waboom tolbos en bergriet
teen Gysmanshoek se hoogste spits
wanneer die reën en groei weer kom
blare hand uitsteek na die son
sal jy my sien in suringgeel
waar ek tussen die kwartsklip blom
neurie deuntjies van geen berou
hoor hoe die jong hoep-hoepies roep
die swart toktokkie sein en klop:
ek het
geleef
ek leef
in jou
© Christine Barkhuizen le Roux, Feb. 2011
erf
dit was omtrent in hoofstuk sewe
waar ek wou terugblaai om te kyk
hoe dra die donkergroen lukwart
oorkant die heining van die bure
ook vrugte dié kant van die draad
die huis se mure was van glas
deursigtig of dit nooit daar was
die kantgordyn ‘n hersenskim
het een oomblik my ingelaat
om weer die koffiesak en -moer te ruik
die selfbakbrood uit ma se oond
onthou se klein-ure wat roer
maar niks het in die raam gepas
in my verbeelding moes ek tas
na ‘n groen tafelblad van panelite
waar pa die loon in bruinkoevert
in ma se eelthand sit
sy oë sluit onder die lig
en vir sy kinders se geleerdheid bid
eenkant in ‘n vergete hoek
waai net die bloekom oor die werf
gister is ‘n verhole boek
slegs wind is wat die hart vererf
© Christine Barkhuizen le Roux, Mei 2009
(Hierdie gedig was deel van ‘n projek van die ATKV: Skilder met woorde. Die gedig is geskryf
ter aansluiting by die kunswerk van Lien Botha: Die huis en alles daarin waai weg.)
somer
laat jou hande
oopgaan oor my
die jong knoppe lê volgebloei
sag aan die vingers van die mond
en langsamer sal jy
uit hierdie kelk die somer drink
die voorspel
tot die najaar klink
laat my
aan jou hand glo
ook oop rose
is mooi
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006