![]() Diana Ferrus is in Worcester in die Wes Kaap gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Esselenpark. Sy begin in 1973 aan die Universiteit van Weskaapland studeer, maar gaan werk nadat die universiteit sluit. Sy begin deeltyds studeer en behaal ’n honneursgraad in Vrouestudies. Haar eerste verhaal, Die Kind word in 1994 in Die Suid-Afrikaan gepubliseer. Sy het sedertien gedigte en kortverhale in verskeie bundels gepubliseer. Diana is egter meer bekend vir haar gedig wat aan Sara Baartman opgedra is. Hierdie gedig het deel van ’n Franse senator, Nicholas About se vertoë gevorm in sy poging om die oorskot van Sara Baartman terug in Suid-Afrika te kry. Die gedig is in Frans vertaal en vorm deel van die wetgewing wat die terugkeer van Sara Baartman moontlik gemaak het. In 2006 verskyn haar eerste digbundel, Ons Komvandaan, en ’n kortverhaalbundel, Slaan vir my ’n masker, Vader. Sy het ook die storie van Ansela van de Caab, ’n slavin, met musiek-begeleiding vertel. Diana is een van die stigters van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV), Bush Poets en Women in Xchains. Sy het ook haar eie uitgewery, Diana Ferrus Uitgewers. |
‘n skielike verlange
(vir Boeta, Boy, Derrick, Abe en Gerald)
vlam op, vuur gedagtes
helder verlig verby
my geestesoog.
Jy is nie as verbrand
of verlore nie.
‘n Vlietende oomblik
vleg ineen met die ewigheid.
In ‘n skielike verlange
het jy my nooit verlaat
Vergete verlange
Vergete verlange
val tussen die gange
van berge se hange.
Vergange se verlange
word verdorde drange
Plagiaat
Ek soek na woorde wat ek nie kan baar,
sien die spruite van ander meelopers
en reik uit,
druk in my sak sonder dat iemand sien
maar die ding hier op my skouer
sit te na aan my oor.
Ek kry ‘n angs, val myself aan
en net daar dop ek my sakke om.
My lyf word hoendervleis,
ek ly vir twee dae lank
Die derde dag staan ek op
en vaar weer die strate in.
Ek gryp wat ek kan kry,
my hande is in onskuld gewas –
woorde is ouerloos.
Vir Jan van Eyck
Die jare het wyd gelê
soos vlaktes
droog en rooi.
Voetspore het perfek geval
in paadjies uitgekerf
maar net een paar
het geduldig mee gedraf
Die toekoms lê oop
soos valleie,
vrugbaar en groen.
Voetspore word verdring
in paadjies wat vertak
want duisende siele
hardloop gretig saam
© Diana Ferrus
Ons Komvandaan
Was dit my ma se ma se ma, se ma, se ma
of
haar pa se pa, se pa, se pa, se pa
in boeie,
vasgemaak
en diep onder
in ‘n skip gegooi,
en nagte lank en dagte lank
gevoel het hoe waters hard
aan hulle ore slaan?
Wat was hul gedagtes?
Het hulle gehuil?
Het hulle gevrees?
Het hulle gebid
vir die dood om te kom?
Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma, se ma
of
haar pa se pa, se pa, se pa, se pa?
En toe hulle hier land,
ver van familieband –
wat was hulle gedagtes?
Het hulle verlang?
Het hulle getreur
of
het hulle aanvaar?
Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma
of
haar pa se pa se pa, se pa, se pa?
Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,
Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier.
Maar iewers, lank gelede,
baie ver van hier
het ons ons feeste
onder ‘n ander naam gevier!
Uit: Versindaba 2006, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2006