Emma Bekker het in Bulawayo, Newcastle en Standerton grootgeword en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy woon tans in Johannesburg met haar gesin.
Sy het as televisieteksskrywer en ‑televisieregisseur gewerk en het ’n hele aantal kabarettekste op haar kerfstok. Tans bedryf sy haar eie masseerterapiesaak.
Haar debuutbundel Skryn verskyn in 2015 by Protea Boekhuis. In 2020 word haar gedigte ‘Vir Astor’ en ‘Hoe ‘n kind leer loop’ in die versamelbundel Vers en vrou opgeneem.
een nag op ’n trein na pretoria
september 1975
in die nag stop die trein in gaborone
en ek en my krytblik met die tas mahaal
en mamma met haar groot maag
gaan soek die stasie se toilette
daar is klein swart torretjies
en ’n gaatjiesfrokkie in die hoek wat stink
ons wil nie sit nie
kieme met spiese
bly op die toiletsitplek
my piepie vries
“Ek wonder of hierdie water veilig is vir drink.”
buite verkoop ’n vriendelike swart man vrugte
goeters wat ek nie ken nie
“Appelkose! Hoe lus was ek al!”
in die donker eet ons oupakose
oranje vrugte met hulle eie proe
nie soos mango of papaja
in wankie of bulawayo nie
hulle proe soos ’n mooi nuwe woord
“Kom ons bid en slaap.”
liewe jesus wees met pappa by die huis
ons trein ry weg van terroriste af
na plekke waar oupakose groei
en die oumas en die oupas bly
ek en my krytblik met die tas mahaal
en mamma met haar groot maag
op die middelste bed die baba skop
ek proe nog oupakose onder tandepasta
“You have travelled very far.”
’n man wat snaaks engels praat
eet saam met ons ontbyt
hy lyk vuilerig maar hy is gaaf
ek en mamma met haar maag en haar naar
en my krytblik met die tas mahaal
“Rhodesia is so beautiful and the ruins of Zimbabwe.”
ja, ons ken die groot toring
die stukkende huisies
dit is ’n bietjie lelik
mens kry koud in die gangetjies
daar is landmyne en terroriste
ek eet my oats en kyk na my krytblik
“The Taj is all magnificent marble.”
klein meisies met groot ore
ek soek sy stories
oor die groot paleis van albasters
milkies vir sjah jahan en mumtaz
op my krytblik
hy lag vir my
hy kan nie glo ek weet van die tas nie
“My daughter loves exotic things.”
hy gee vir my ’n geldjie soos ’n blommetjie
met ’n gaatjie in die middel
“A lucky coin for a curious girl.”
en mamma kyk na my en wag
met haar groot oë en maag
“Wat sê jy vir die oom?”
ek kyk na my krytblik en sê
vertel nog van die tas mahaal
Die kokerboom by die swembad
Nadat die verplante Italiaanse vakmanne
die huis fyn genis en gladgepleister agtergelaat het,
nadat die stootskrapers met oorverdowende gebare
die aarde in die agterplaas opgeskeur het,
(Hulle gaan ’n swembad kry! Hoe luuks!)
is die leidam van ouds (waarna die eienaar
steeds verlang) vervang, gesuiwer vir genot:
die chloorwatersop te sterk vir paddavis,
tietsuier en snot-alg, ’n bafta hersenskim
van Hoëveldlug ondermaans gevang.
En net langs die pomp
(’n patent wat die Titanic nie kon red nie,
maar bestand is teen voorstedelike verweer)
het hy ’n kokerboompie geplant as ’n grap,
’n verwysing na sy droë hinterland.
Die pomp moes vervang word, sy hart verswak,
te oud vir die tyd waarin hy hom nou bevind het,
maar die kokerboom staan sy man
teen agtergrondsbeelde van vooruitgang,
al het ’n kuifkophoutkapper ’n nes gebeitel uit sy stam.
(Uit: Skryn, Emma Bekker. Protea Boekhuis, 2015)