
Andrea Sieberhagen (née Du Plessis) het in Nylstroom (Modimolle) grootgeword en gematrikuleer. Sy verwerf haar BA (HOD)-graad aan die Universiteit van Pretoria. Daarna volg ’n lang loopbaan as Engels-onderwyser. Aan die einde van Maart 2025 tree sy af na dertig jaar in die onderwys.
Verskeie van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem. In 2022 is sy aangewys as wenner in die Afrikaanse volwasse afdeling van die Poetry in McGregor-poësiekompetisie.
In 2023 is een van haar gedigte in die Vrye Weekblad gepubliseer.
Ook in 2023, is een van haar gedigte gekies en omskep in ʼn beeldhouwerk by die Innibos Kunstefees.
In April 2025 verskyn haar debuutdigbundel, Dwaaldae by Turksvy Publikasies met Daniel Hugo as redakteur.
Andrea vind haar inspirasie in stilte, mooi omgewings en in haar belewing van haar eie, en mense rondom haar se lewenservarings.
“Deur die jare het ek van my gedigte op sosiale media gedeel,” sê Andrea. “As gevolg van mense se reaksies het ek besef ek moet dit nie net in ’n laai laat lê nie. Mense kon met die gedigte identifiseer, sommige mense het dit verder gedeel of vir my vertel dat dit iemand diep geraak het,” sê sy oor haar besluit om haar gedigte eindelik vir ’n uitgewer te stuur.

Hanteer versigtig
Ek het my hart sorgvuldig verpak
in ʼn bruin papiersak,
en met ʼn goudgeel lint
toegebind.
Ek wou dit vir jou stuur,
met oornagpos,
maar dit sou my
té veel kos.
Toe los ek dit net daar.
Die bruin papiersak
is herwinbaar.
© Andrea Sieberhagen, 2025
Soeke
Ek soek tussen kokerbome
en tussen rotsstapels
van reuse.
Ek soek in huise
vol sand.
Ek soek tussen boomgeraamtes
op ʼn wit kleivlakte.
En toe die wind die son
agter die horison inwaai,
klop my hart
in ritme
met veraf naggeluide.
In hierdie uitgestrekte land
het ek die melodie gevind
vir die lied in my hart.
© Andrea Sieberhagen, 2025
Wit sirkel
Wit beendere
in ʼn sirkel op die veld.
Arena van geweld.
Ongeag hoe lank of kort
die lyding duur,
noem ons dit
eufemisties:
die wet van die natuur.
© Andrea Sieberhagen, 2025
