![]() Barend J. Toerien (1921-2009) se eerste bundel gedigte het in 1960 verskyn. Sy werk het van vroeg af “anders” geklink as dié van sy tydgenote, waarskynlik omdat hy reeds in 1947 op 26-jarige ouderdom die land verlaat het. Toerien woon die grootste deel van sy lewe in die VSA. Benewens nostalgiese verse oor sy jeugwêreld – die plaas Steenwerp teen die berg suid van Porterville- skryf hy unieke natuurverse oor die Catskill-streek van die staat New York. Die hoogtepunt van sy werk is die bundel ’n Plek op die land. Catskillverse (1985). (’n Mens sou hom ’n Afrikaanse Robert Frost kon noem.) Verder val sy gedigte op deur ’n speels-satiriese toon en aweregse erotiek. Toerien beoefen ’n groot verskeidenheid versvorme. Hy is ’n bedrewe beoefenaar van die vrye vers en die “praatvers”, maar hy skryf ook rymende formele versvorme soos die limerick en sonnet. In die bundel Illusies, elegieë, oorveë, transfusies van 1975 staan daar ’n indrukwekkende reeks sosiaal-kritiese “Shakespeariaanse sonnette”. ’n Keur van sy werk, Om te onthou, verskyn in 2006 by Protea Boekhuis. Toerien is op 4 September 2009 oorlede. |
LAASTE GEDIGTE (2007-2009)
Laagwater
Laagwater. En die seun soek vondse met sy voete,
vroetel met sy tone deur die wier
en alikreukels, periwinkels,
met die glip van klipvissies oor die bloumossels.
Wat het van daardie kind geword
waar hy daar sit in die son
en stip staar na sy vingers rumatiekerig krom?
Klipvissies met slap stertjies
bly gly gewoonweg in die rotssplete rond
met laagwater.
Animal Planet
Die luiperd wat die wildsbok neertrek,
die keel afbyt, bly sierlik pragtig met sy kolle,
sy medaljes, wat moord mooi laat lyk.
Fractured Afrikaans
deursigtig X glass door
heeltemal X much too crazy
vantevore X Dutch name
voorspel X foreplay
rugbaar X bare back
inbors X flat boobs
rondborstig X big boobs
onsigbaar X unsightly
in der minne X in love
hartlam X heart attack
baldadig X sexually active
bevraagteken X question mark
Hiersein ist herrlich
Die oggend spoel oor die berg
‘n blou golf
in ‘n almagtige mooi
As die oorstelping tot bedaring kom
sal die nugter ontnugter
en smag na ‘n ietwat geel
en ‘n bietjie mal
dat die heerlikheid van hierwees
beperkinge het ‘n hol kol
(eksepsies soos gestipuleer)
Vir die wis en die onwis
Om te weet dat jy weet wat jy weet
en dat jy nie weet wat jy nie weet nie, dit
is om ware kennis te besit.
As jy nie weet wat jy nie weet nie
en weet wat jy wel weet
kan jy met volgehoue toewyding
altyd sterk geConfuus bly
met wat jy weet en wat jy nie weet nie
en so kennis te verkry;
maar as jy nie weet nie en nie weet
wat jy wel weet is jy ongefokus geConfuus
en sal met onvoldoende wete bly.
Vonds
Die mooi en die oop oggend maak die berg glinster;
wil dat jy ook. Maar die herfsblare dan,
daardie futlose gefladder? Hul moeë gebare
wil jou toegooi onder neerslag in ‘n seeppot
van die aanmekaar soek na die ou,
die oubaas, die allesweter wat
al hierdie val glo sag in sy hande hou.
En hoe verder? Aanhou soek dan
en hom vind? Of maak dat jy hom vind?
Is die vind nodig/nuttig
met die berge so blou
die berge so blou, die groen kokkewiet
Die vind, die vonds net in woorde dan
in die klanke
ja, ja in die klanke net
in die net van klanke, ja, ja!
Bome
“… a nest of robins in her hair …”
Ai tog. Wat is daar nog te sê oor bome.
Hulle wat so diep in die aardkors vroetel,
op soek, met harige vingers, met blaarpunte
weggedraai om die wind glo nie seer te maak nie.
Wat my aangesê het, Gaan!
Weg van hier. Weg uit hierdie
blêkwortelboomlaan en die onderdrukking
van hier, die hierdie se onderdompeling.
Nou, na so baie jare terug al en met die bome
se volhou van stu en stoot die lug op
en onderlangs se soek in die grond rond
vra ek hulle, hulle met die glinster op die blare,
glimlagge van die blare, Wat kan julle sê,
julle wat klein boompies onderdruk en versmoor.
Praat. Asof julle kan praat.
Ek hoor. Julle wat my kon vermaan.
Praat.
[Hierdie gedigte het onder meer in Die Burger verskyn. -Red.]
Van swem in die rivier
Die rivier moet agter die berg wees, ‘n bergstroom
met kliprante
en orals is tolbos, kanette, waboom
en suikerbekkies opgewen tot ewigdurende beweging
om silwer-dons suikerkan aan weerskante
die dag-as-die-son-reg-bo-gaan-staan-lang.
Maar dis nie genoeg nie. Daar moet heide wees:
Wit, pienk en wit-en-swart;
hoogsomer verg dit en ‘n waterhondjie-settees
op die omgekeerde plafonskildery op die water.
Ook moet daar disas wees, “die rooi hart
druppend langs die soom.” En ‘n mierleeukrater.
Dan moet die klipwalle so effe oopmaak
tot ‘n strand
van die helderste wit sand wat jou oë seermaak
met vrede-voëlspoortjies en ‘n suikerkan vir skaduwee
en besembos en slangbos al om die kant.
En iewers is boegoe en ‘n sonbesie.
Trek jou dan vinnig uit, voel heling
deur jou voete styg;
en duik nou af deur die helder bruin water – die opwelling
van borrels soos soene op jou lyf – tot jou longe
skree Lug! en jy die oppervlakte breek, hyg,
en neerval op die sand, en in jou are, Lofsange! Lofsange!
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006