Bester Meyer is in Alberton gebore. Hy studeer regte en verwerf ʼn B.Com (LLB) aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Hy word toegelaat as prokureur en werk by ʼn Kaapstadse regsfirma wat destyds as Nelson Mandela se regsverteenwoordiger opgetree het. Hy was voorheen ook naby Plettenbergbaai en Stellenbosch woonagtig, en het op ʼn tyd met souse gesmous. In 2010 stel hy ʼn kortspeler van sy oorspronklike liedjies vry: Goofy met Albert Frost – Ontmoet jou onder ʼn Harvest Moon. Bester se debuutbundel Die Testament word in 2020 deur Naledi uitgegee. Die bundel probeer wêreldburgers oorreed tot ʼn metafisiese revolusie. Deel van die teks is ses toonsettings van onder andere Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker genaamd: Musiek vir jou ure wat as die koor van die bundel gebruik word. Die bundel se Engelse eweknie, Rebel Song en ʼn Engelse vertaling van André P Brink se Lobola vir die Lewe, word in 2022 deur Naledi gepubliseer. In 2021 word Bester se letterkundige vertaling van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj, deur Naledi uitgegee. Einde 2023, stel Die Naamlose Dors, Bester se band, ʼn kortspeler genaamd Rebel Heart vry. In Rebel Heart word daar verder geskaaf aan temas so vervat in Die Testament en Rebel Song. Bester werk tans aan ʼn nuwe vertalingsprojek en daar is ʼn nuwe bundel in die pyplyn. ʼn Skakel na Bester se Facebookblad: https://web.facebook.com/NaamloosII en die blad van Die Naamlose Dors wat saam met hom musiek maak: https://www.facebook.com/NaamloseDors/
|
Revolusie
om te wees
is ’n samesyn:
ek en jy is die wêreld
die wêreld is in ons
nooit buite ons nie
om die wêreld te verander
moet die ek na binne kyk
om te verstaan wat ek is
nie soos wat ek wil wees nie
maar soos wat ek (werklik) is
is die is
van dit wat ek is
die verstaan van is
is deugde,
deugde gee vryheid
in die aangesig
van wat is
is is soos die dreuning
van wilde perde
se hoewe
oor die vlaktes van ruimte –
oomblik vir oomblik
op ’n ander plek
ek volg die dreuning
en sien jou
soos jy gewerklik is:
gespieël in beweging
waar ek in stilte wag
op ’n gesig
vir die gedig
(Uit: die Testament, Naledi 2020)
*
Beweging?
die noordelike sentrum
het my kom vertel
dat daar iewers suidelik
iets soos ʼn hartklop is
wat ek moet volg
die tyd stap aan
soos
wat die dood naderkom:
asof die oomblik homself
oorgee aan die onsterflike nou
ek beweeg van vers na vers
van geskrif na geskrif
om te probeer onthou
hoe om jou te ontsluier
jy wat maar nog altyd
van genade aan mekaar gemessel is
iets soos ʼn geheue van afwesigheid:
dit wat nie daar ís nie
maar nog altyd daar was
hoe lank nog sal ons bloed moet drink
voordat ons kan weet
dat die Waarheid
aanwesig is
in die ewige afwesigheid
van die oomblik
wat sekonde na sekonde
oorslaan
in die beweging van onsterflikheid
en om dit te volg
is om tyd te verban –
ʼn totale oorgawe aan die nou
ʼn totale eenwording met die Is
van dít, wat – óók – ek is
(Uit: die Droomboek in Jasmyn, ongepubliseerd)
© Bester Meyer / 2020