Charl-Pierre Naudé is ʼn digter, vertaler, romansier en akademikus. Hy is ook ʼn bekende resensent van poësie en prosa. Sy werke is almal vir pryse genomineer en het almal belangrike toekennings gewen. In 2022 ontvang hy ʼn doktorsgraad in die filosofie. Sy eerste nie-fiksieboek wat wentel rondom die filosofie en die lettere, In die rede geval: Waarom die mens mites maak het so pas (2023) by Naledi verskyn. Naudé woon en werk in Johannesburg. |
Uit die Hand van Kondensasie
Vir Linda en Marc, Antwerpen. Op besoek.
’n Pluiserige tabberd
wolke lê oor die stad
en silwer en eindeloos
strek die tong
van die rivier plat kabbelend
’n rits lispelende note
op Europa se bedding
’n lap oor die klawers
uit die Hand van Kondensasie
word ons aardklont gebore
kom ons terug na die voorbedding
en gaan weer voort
uit die Hand van Kondensasie
sing die waters van die heelal
in ’n binnehof bulk duiwe
soos koeie op ’n vensterbank
die Justisiepaleis het versteen
die gestolde dakvinne
’n opgeklitste seestorm
die monoliete
uit die Steentydperk staan gepak
in die velde van Wallonië
onverweer
die eerste tempels was dit heuphoog en plat
oral langs die pad
kweekhuisies van glas of plastiek
bewaar nou die geheim
so aandoenlik deursigtig
bidkapelletjies
wat staan op kruispaaie
uit die Hand van Kondensasie
kom die trane van Maria
bloedspatsels
’n gekoesterde oes aarbeie
flits ’n plein vol staande fietse
troppe met hul horings
bymekaar ingehak
bankvas soos singende silwer
soos herhaling
plons die heilige reënwater
op ons oopgespreide sambreel
met sy geraamte van ’n oerou voël
sê die natuurwetenskaplike
mens moet dit probeer onthou
oor ’n brug
klaterende notebalk
ver binne-in onsself
die koeie
met die geblomde vlekke op
hoe seil die wolke deur hulle
die weerhaan
Chagall het dit reeds voorspel
net onderstebo
ja fossiele
diep uit die hawe van Antwerpen
kopbeen van die potvis
sê ons gids die wetenskaplike
staan ’n oomblikkie stil
doodstil
dis nie net skyn nie
uit die Hand van Kondensasie
snel die motor voortstromend
deur dorpies vaartbelyn
en kronkelend
stom lê die horison
en skitter die lig
soos koepons op die kuite van ’n verbyganger
ook op die geribde eksoskelet
van ’n glasdakkoepel wat span
oor ’n verlate straat in CharleRoi
beier die son Sistyns
eerstehands en waaragtig
en lê die brûe van Amsterdam
soos knipogende kramme
in die wye Hand
van Onse Liewe Heer
Kondensasie
en onthou ek die warrelwind in die Karoo
waarin ’n flapperende, verinneweerde uil
vergeefs vastrapplek soek
soos ’n klerk wat stort in sy verseëlde Hemel
dis lente in die Ardennes en uit die Hand
van verdamping
kondenseer alle dinge.
(© Charl-Pierre Naudé. Junie 2010)
*
NOU
So nou het ek jou weer terug,
met jou serienommer toegedraai in watte,
jou gebottelde vlerke,
jou ewigdurende raklewe.
In die migrainebioskoop sien ek al jou molekules
muskiete rondom ’n stralende gloeilamp:
‘n gaassluier vol kraletjies verbloem
‘n aura wat daar staan soos ’n bruid.
Hemel, liewe land, hoe Grieks
is die aarde nie hier waar ek kniel
by die twee deeg-afrodites in jou T-hemp,
gemaak in ’n wêreld waar alle gode bakkers
en selfs die Eenoe kersiekoekies is
geknie, geknie, geknie,
in ’n bleek tweegeveg
van klei, wat ons liefde noem.
Ek kyk nou na my prinses,
waar sy slaap op haar maag,
hoe sy droom op haar ertjie;
omring deur haar foto’s.
Daai ou grypdief en deugniet,
wêreld-in-vaart,
hou darem soms ’n bietjie stiltetyd
[Uit: Sien jy die hemelliggame, Charl-Pierre Naudé, SlibreeksGroot, 2009.