Philippus Arnoldus de Waal Venter (7 Mei 1942 – 27 Julie 2022) is in Pretoria gebore. Weens sy pa se beroep as polisie-offisier word hy gereeld verplaas en die gesin verhuis dus baie. As ’n resultaat woon hy ses verskillende laerskole aan die Witwatersrand by. In 1955 gaan hy na die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar hy vanaf 1956 in die koshuis is. Hier presteer hy in die middelafstande in atletiek en is lid van die skool se leerlingraad. In 1959 matrikuleer hy.
Verdere studie Hierna studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar hy hom aanvanklik inskryf as mediese student. Sy mediese studies is egter nie ’n sukses nie en na drie jaar se studies verlaat hy in 1963 die universiteit en sluit hom as klerk by die Staatsdiens aan. Sy ouers het intussen na Pretoria verhuis en hy woon by hulle in. In hierdie tyd studeer hy deeltyds verder aan die Universiteit van Pretoria en ook aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy vakke soos Frans, Duits, Afrikaans-Nederlands, Engels en Wysbegeerte neem. Sommige van hierdie vakke skryf hy af, maar hy behaal nie ’n graad nie.
Loopbaan In 1965 word hy aangestel as assistent-redakteur van SARP, die amptelike nuusblad van die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy is in Junie 1966 een van die stigterslede van die tydskrif Wurm (saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert) en is ook redakteur van hierdie tydskrif. Skrywers soos D.P.M. Botes, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Marié Blomerus, Wilma Stockenström en Wopko Jensma was gereelde bydraers tot hierdie tydskrif. Van sy gedigte word in 1965 in Stiebeuel 2 opgeneem deur D.J. Opperman en F.J. le Roux. In 1968 aanvaar hy ’n betrekking in Johannesburg as reklameskrywer en in 1969 word hy aangestel as omroeper-regisseur by die Afrikaanse Diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Indertyd skep hy ’n nuwe program, “Die taal wat ons praat” en wat steeds bestaan as “Die tale wat ons praat”. Hy trou op 11 Januarie 1969 met Erla Louw, ’n arbeidsterapeut, en hulle het vier kinders: twee dogters en twee seuns. Hulle vestig hulle in Florida-Noord en later in Noordheuwel in Krugersdorp. In 1970 verlaat hy die SAUK om weer terug te keer na die advertensiewese as kopieskrywer, waar hy die res van sy loopbaan deurbring. Hy is in 1994 stigterslid en eerste voorsitter van die Kopieskrywersforum en later is hy ook stigterslid en dien op die keurkomitee van die gesogte jaarlikse Pendoring-reklametoekennings. Vir ’n aantal jare dien hy ook op die paneel van beoordelaars vir die jaarlikse Mondi-toekennings vir joernalistiese werk. Deur die jare bied hy ook verskeie radioprogramme aan, onder andere in 1999 op Punt Geselsradio en ’n poësieprogram op Radio Suid-Afrika. Nadat hy betrokke was by die tydskrif De Kat, word hy in 1997 aangestel as redakteur van Leeftyd, ’n tydskrif wat gemik is op die leser van ouer as vyf en dertig wat op soek is na geestelike en liggaamlike gesondheid. In 1990 ontvang hy die ATKV-reklameprys vir die beste Afrikaanse advertensie wat in 1989 verskyn het.[1] Ná sy aftrede in 2000 word hy ’n fotograaf en doen vryskutwerk vir reklameagentskappe en ander kliënte. Hy betree ook die politiek en word in 2011 verkies as ’n Demokratiese Alliansie-raadslid in die munisipale raad van Mogale City (Krugersdorp). In dié tyd word hy verkies as sekretaris van die DA-koukus in Krugersdorp. Hy tree uit in 2016. Sedertdien skryf hy voltyds. Hy en sy vrou verhuis in 2020 na Muizenberg waar hulle ’n huis deel met hulle dogter en skoonseun, die skilder, Peter van Straten.
Poësie Reeds op hoërskool wen hy ’n skryfwedstryd met sy wenopstel en as student word van sy gedigte in September 1962 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Sy eerste bundel, Kiem, verower in 1965 die destydse Staatsprys vir Poësie, ’n prys uitgeloof deur die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap. Dit word uitgegee deur Nasionale Boekhandel Beperk. Daarna verskyn in 1966 die bundel Klawer saam met Menno Stenvert en D.P.M. Botes. Die opvolgbundel Pols is ’n groot vooruitgang met die deurlopende motief van lewe, ritme en passie wat in die titel gesuggereer word en die bundel tot ’n hegte eenheid saamsnoer. In 2017 verskyn sy digbundel, Oop sirkel, by Naledi Uitgewers. In sy resensie van Oop sirkel skryf Bernard Odendaal op Versindaba[9] (Oktober 2017) die volgende: Redelikheid, emosionaliteit en sintuiglikheid as fasette van, uiteindelik, dieselfde menslike belewing; wetenskap, filosofie en kunsbeoefening – dié instrumente of vermoëns word uitgebeeld as ewe openbarend van die wonderlike en dikwels onvoorspelbare bestaansdimensies wat vanuit die alledaagse te beleef is. Die belangrikste voorwaardes blyk ’n beskoulike en belewingsoopgesteldheid, en ’n wil tot (self-)ontdekking te wees. In 2021 verskyn die bundel Vrugbeginsel, ook by Naledi. Een afdeling van die bundel word gewy aan “Gesprekke met Yanni Euterpe”. Die “Yanni” is die digter se “muse”, ’n vrou met ’n sterk persoonlikheid wat gedigte vir die digter “dikteer”. Hierdie spesifieke benadering is uniek in die Afrikaanse digkuns.
Versamelbundels Van De Waal se verse word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek en Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, asook Goudaar, S.A. in poësie, Groen, Poskaarte en Woordreise, terwyl die kindervers “Net so min” opgeneem word in Rymreise. Hy publiseer ook gedigte in verskeie tydskrifte, insluitende Wurm, Sestiger, Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde. In die sestigerjare skryf hy ook lirieke wat deur sy toekomstige vrou, Erla Louw, getoonset word en sy en haar vriendin Annemarie Dawson neem ’n langspeelplaat met hierdie liedjies op onder die titel “Die Doedies sing doemmelliedjies”.
Engelse poësie In 2010 verskyn sy Engelse digbundel Entangling states of mind in beide ’n sagteband-uitgawe wat op aanvraag gedruk word en ’n elektroniese kopie. Die bundel word in drie afdelings verdeel, naamlik “Hacking the human mind” (gedigte oor die veelvuldige wyse waarop die menslike brein die werklikheid verwerk), “Grasping my pencil with my toes” (waarin die werklikheid met ’n goeie skeut humor ondersoek word), en “Rhyming hunger with the right to live” (gedigte oor die ekologie en faktore wat die omgewing bedreig). Hy skryf gereeld gedigte in Engels en Afrikaans en plaas dit op sy blog Poetry en poësie (https://inmogale.wordpress.com)
Vertalings Verder vertaal hy ook poësie uit verskillende Europese tale. In 2019 sien Vandag is boordensvol die lig. Dit is ’n bundel gedigte van Pablo Neruda wat De Waal uit Spaans vertaal het. In 2020 verskyn Alles keer om, gedigte van die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer wat De Waal uit Sweeds vertaal het. Werk aan albei projekte het ongeveer tien jaar voor publikasie begin. In 2020 bekroon die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Vandag is boordensvol met die Akademie se prys vir vertaling. De Waal het ook groepe vertaalde gedigte van Octavio Paz en Fernando Pessoa wat hy stadigaan besig is om aan te vul.
Publikasies Werke wat uit De Waal Venter se pen verskyn sluit in: 1965 Kiem 1966 Klawer (saam met Menno Stenvert en D.P.M. Botes) 1977 Pols 1980 Louwtjie help soek 1984 Die vyf-millimeter-avontuur 1985 Hoeveel tone het ’n bobbejaan? 1988 Vyfff 1990 Oop toe 1992 Mieg se kort en lang middag 1994 Die weghollers van Teev Swaartekrag een komma een 1995 In die klein woud 2004 The Great Stir Trial 2010 Entangling states of mind 2017 Oop sirkel 2019 Vandag is boordensvol – Pablo Neruda in Afrikaans 2021 Alles keer om – vertalings van gedigte deur Tomas Tranströmer Vrugbeginsel
Addisionele inligting Drama Die radiodrama Stof word in 1975 uitgesaai en in 1976 deur die SAUK ingeskryf vir die Prix d’Italia-prys, waarna dit ook in België uitgesaai word en opgeneem word in die versamelbundel Hoorspelkeur. Die handeling vind tydens ’n treinreis plaas. Hierdie radiodrama is in Engels, Nederlands en Frans vertaal en word ook met die Idem-prys bekroon as beste radiodrama van die jaar. Hy skryf ook verhoogdramas en radiodramas. P.J. du Toit neem sy eenbedryf In “lewende lywe” in die versamelbundel Drie… twee… een op en sy radiodrama “Die werklike Buys Buys” in die versamelbundel Fasette. “Die werklike Buys Buys” word vir die eerste keer op 5 Maart 1984 uitgesaai en in 1985 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met ’n Erepenning vir Afrikaanse Radiohoorspele. Dit word ook met die Idem-prys bekroon as die beste radiodrama van die jaar. “Wat dan?” verower in 1988 ook die Idem-prys. Hy skryf ook die wetenskapsfiksie jeugdrama “Yslik baie oeslak”, wat opgeneem word in die versamelbundel Van die banke op die planke, saamgestel deur Elise van Wyk. In November 1990 word die aktuele radiodrama “Thipa” (wat “mes” beteken) in die program Radioteater uitgesaai. Dit was waarskynlik die eerste keer dat Radio Suid-Afrika ’n hoorspel opvoer en uitsaai waarin swart spelers Afrikaans praat. In die hoorspel word die konfrontasie uitgebeeld wat heers tussen swart en wit in Suid-Afrika en die houdinge, vooroordele en wanopvattings. Hy skryf ook die ongepubliseerde verhoogdrama “Vossie”, ’n satiriese komedie. “Hoeveel tone het ’n bobbejaan?” is ’n toneelstuk vir jonger kinders. Hier moet ’n groot aantal dierekarakters besluit op ’n voorsitter vir die diere. Bobbejaan probeer die ander diere met raaisels uitoorlê. Vanaf 1969 skryf hy verskeie verhale en kortverhale vir die Afrikaanse radiodiens en in 2009 word sy radiovervolgverhaal “Die blombroers” oor Radiosondergrense uitgesaai. Verder skryf hy die draaiboek vir die televisiereeks “Die seders van Libanon” en die draaiboek vir die rolprent “Plekkie in die son”, wat gebaseer is op die roman van Ena Murray.
Jeugverhale Op prosagebied fokus hy veral op kinder- en jeugverhale, met wetenskapfiksie wat ’n gewilde genre is. “Die vyf-millimeter-avontuur” speel af in die jaar 2016 en beskryf die probleme wat die wetenskap en tegnologie kan veroorsaak as dit in die verkeerde hande beland. “Vyfff” is ruimtefiksie van vreemde wesens op ander planete. Die verteller, Waldemar die Beskeie, en sy span van vyf moet die ontvoerde Voorsitter van Sdon Lor, opspoor. Die span van vyf is Ffff, ’n Olfaktiaan, wat met geure kommunikeer en soos ’n dubbelbedmatras lyk. In “Mieg se kort en lang middag”[10] is Mieg (kort vir Michal) ’n standerd agt seun wat by ’n supermark werk om geld in te samel vir ’n rekenaar. Hy help ’n vrou Saterdagmiddag na toemaaktyd met die dra van haar inkopies en sy bied hom tee aan in koppies wat hom aan die sterre laat dink. Sy bied aan om sy horlosie reg te maak en skielik bevind hy hom in ’n staat waar die bekende dimensies (ruimte, tyd en perspektief) opgehef word. Hierdie boek word later aan skole voorgeskryf. “Swaartekrag een komma een” handel oor ’n toekomstige ruimtereis van twee tienerseuns (Pit en Ovvie) en ’n tienermeisie (Aloha, Pit se suster). Die titel verwys na die wyse waarop veranderde swaartekrag ’n invloed op die mens het tydens ruimtereise. “Die weghollers van Teev” is weer wetenskapfiksie, met illustrasies deur Anton Kannemeyer, en word uitgegee in die Ekonopret Leesreeks van Juta Gariep. “In die klein woud“ het Koning Arthur se legende as die sprokiesagtergrond vir die realistiese liefdesdriehoek tussen die hoofkarakters. Die klein woud is ’n verwysing na die miniatuurbos wat oom Arend met sy bonsai kweek.. Hierdie boek is in 1996 die naaswenner van die ATKV-kinderboekprys vir die ouderdomsgroep 13-15 jaar. “Louwtjie help soek” is vir jonger kinders en vertel van Louwtjie wat sy ouma help soek na haar bril, maar leer dat die oorsaak van ’n probleem eers bepaal moet word voordat jy tot aksie kan oorgaan.[16] “The Great Stir Trial” word uitgegee in beide ’n slapband-uitgawe wat op aanvraag gedruk word en ’n elektroniese kopie. Op die planeet Erda is daar geen diere waarop mense kan ry nie en ook nie meganiese voertuie nie. Mense loop dus waar hulle ook al wil wees.
Kortverhale Reeds in 1965 publiseer hy kortverhale in Sestiger en later ook in Tydskrif vir Letterkunde. Die bundel Oop toe bevat kortverhale vir volwassenes en hierdie bundel word in 1990 genomineer vir die Rapportprys. Die titel van die bundel suggereer reeds die teenstellings waarmee in die verhale gewerk word, wat insluit man en vrou, fantasie en wetenskap, sag en hard en droom en werklikheid, met die teenstellings wat soos oop en toe ook verskillende aspekte van dieselfde wese kan voorstel. Die verhale het oorwegend erotiese temas, wat merendeels die stimulus is vir fantasie, wat onder andere in beskrywing van angs- en vervullingsdrome uitgebeeld word. Verskeie van sy kortverhale word in versamelbundels opgeneem. Dit sluit in Die man staan op in Bloudruk onder redaksie van Tom Gouws, “Amper ’n njippits-fokkerij” in Drif onder redaksie van Lindeque de Beer; “Juffrou Blinkoë” in Dogters van Afrika onder redaksie van Riana Scheepers, “Meganika van liefde” in Indaba onder redaksie van Pieter Meyer en “Van voor af in Liefde” loop ver onder redaksie van Jeanette Ferreira. Van sy boeke word ook in Engels vertaal. In 1984 verwerf hy die eerste prys in die Afrikaanse afdeling vir ’n reisverhaal wat deur Die Vlieënde Springbok, tydskrif van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, uitgeskryf is. Die prys was twee Goudklas-vliegkaartjies na Europa. Sy verhaal is getitel “Klein klippie ver gooi” en beskryf ’n reis van Johannesburg na Kaapstad en van daar na Laingsburg. Van sy ander gepubliseerde reissketse sluit in “Die ongemerkte olifant” in De Kat van September 1985, “Guerna“ in Die Vlieënde Springbok van Desember 1985 en “Waar mens by jouself verbyloop” in Die Vlieënde Springbok van Januarie 1986.
Fotografie en Grafika De Waal neem foto’s van enigiets wat sy aandag trek. Hy skep ook graag grafiese werk. Hy het die portrettekening gemaak van Pablo Neruda wat op Vandag is boordensvol se voorplat geplaas is. Hy het ook die ontwerp geskep wat vir die voorplat van Vrugbeginsel gebruik is. |
Die wêreld aan minnaars openbaar
Eers kyk hulle
hoe die stootskrapers oorvlieg,
staalvlerke klap kragtig
om die massiewe goed in die lug te hou.
Die gedruis van die stootskrapers vervaag
maar toe begin ‘n geweldige hyging
naderswel en groei tot ‘n oorweldigende gegrom
soos die reuse vragmotors
oorgeswerm kom, toetende
enorme meganiese ganse
skaars in die lug gehou
op hulle kort, vibrerende vlerkies.
‘n Skerp reuk van diesel en petrol
druk die geur eenkant toe
van die bloeiende kanferfoelie.
Die minnaars waai glimlaggend
vir ‘n vragmotorbestuurder
wat ondertoe loer oor sy toebroodjie.
Stadig verdoof die gedruis van die trop vragmotors.
Skril gilletjies
wat klink soos kinders op ‘n speelgrond
splinter die lug in,
vlermuise gooi hulleself rond
in hoeke met verpletterende g-kragte.
Die minnaars staan en kyk
hoe die maan
ontvou uit die horison
nog nat van die baarmoeder.
Wat hulle sien
kan net minnaars sien.
*
Die teoretiese fisikus skilder
Naakte olifante
trappe-trappe-trone oor die rand
van die skilder se verbeelding;
hulle word gevolg deur ses eiervrugte
wat skielik regs draai
op die esel af,
hulle oorryp groen en pers
bevlekte gesigte vol skaam verwagting.
Die lug sak in die middel
afgedruk deur
die ruim beliggaamde naakfiguur
wat haar oggendtee
en oranje druiwe geniet.
Die skilder verf die hele doek
vol wit verf,
terwyl hy die drang onderdruk
om die buis oop te maak
waarin ‘n verstommende rooi
woes stoei om uit te kom.
Voor daar kleur was
was daar niks,
beduie die skilder aan die eiervrugte
saamgedrom om hom.
Dan verf hy versigtig
‘n donker kolletjie
êrens in die middel van die bekende heelal.
*
Rigiede denkpatrone in flarde
Soos die bul
in die gangetjie af loop
mis die punte van sy horings
rakelings die delikate koppies op die rakke.
Hy draai links,
kantel sy kop
om sy horings verby
die fragiele herderinnetjies te stuur
en hulle oor
sagte blou teestelle te swiep.
Hy stop voor ‘n oop glaskas
met vase wat skaars
die gewig kan dra
van drie rose elk.
Die stomende asem uit sy neusgate
roer die verkoopsdame se rok:
ek’s hier om ‘n punt te maak,
rommel sy stem uit sy diep bors,
en ek wil ‘n porselein-ring hê,
versier met ‘n ontwerp van Delft.
Met sy neusring aan,
stap die bul uit die winkel;
agter hom
lê daar ‘n cliché in skerwe.
*
Neem ‘n asperien, byvoorbeeld
Die twee ouer filosowe
wandel op die strand,
kaalvoet met hulle langbroeke
opgerol tot by hulle knieë.
Die een weet omtrent alles,
die ander en amper niks.
Neem taal, byvoorbeeld, sê die een,
ons weet presies wat dit is
en hoe dit werk.
Ek weet nie, antwoord die ander een skugter.
Jy weet nie? Wat taal is nie?
roep die ander een geamuseerd verbaas uit.
My liewe kêrel, dit is wat ons nou gebruik!
Ja, ek weet, maar wat is dit nou eintlik?
Man, dis mos … neem Chomsky …
of Lacan, of Derrida, stel die ander een voor.
Ja, maar daar is fundamentele …
onderbreek die kundige filosoof en stap aan,
fronsend, besig om sy gedagtes agtermekaar te kry
sodat hy sy vriend uit sy onkunde kan verlos;
sy hande is in ‘n pynlike greep agter sy rug,
sy kakebeen roer onrustig.
Dis voor die hand liggend, is dit nie? mompel hy uiteindelik.
Die onkundige filosoof antwoord nadenkend,
ek kan jou ‘n asperien aanbied,
maar ek weet nie wat dit is nie.
*
Ontmoeting van minnaars
Sir Talkalot was ‘n vrek aantreklike ridder,
sy heuningblonde snor
het neergekrul
soos ‘n perkamentrol beskrewe met ‘n meesleurende roman.
Hy ry op ‘n dag na die draak se lêplek
(op sy perd, natuurlik)
pluk sy nommer een swaard uit
en steek haar op die boud.
Eina! gil sy.
Haar warm asem
brand Sir Talkalot
se linkersnor skoon weg.
Kyk nou wat het jy aangevang!
raas sy, vrywend oor haar boud.
Nou’s ek op hitte!
Die diep bastone
van ‘n draak se paringslied
klink in die verte,
maar kom vinnig nader.
Sir Talkalot was koudgeskrik,
hy wou wraggies nie
Kupido speel nie,
die ventjie is ver van heldhaftig;
hy’t soos ‘n skaap gevoel.
Gou! sê die draakdame,
wikkel voor Godfrey
jou in ‘n burger verander,
die soort wat hy eet.
Sy stop haastig ‘n diamanthalssnoer
en ‘n handvol pêrels en robyne
in sy hande.
Vir jou meisie, sê sy,
sê haar jy’t ‘n gelukkie getref …
ag ek meen ‘n draak.
En daar gaan Sir Talkalot
vroetelende aan sy gebrande snor.
Die draakdame begin haastig lipstiffie aansit –
die tyd was min,
sy het ‘n volle drie meter-lange lip gehad.
*
Die wetenskaplike en die fee
Voëls gaan tekere
in die bome van die agtertuin
waar die sosioloog
met ‘n vergrootglas
‘n paar sandaaltjies bestudeer
so groot soos druiwepitte.
‘n Fee skiet deur ‘n streep sonlig
en land op die tafel
naby die man se kneukel.
Haar vlerkies glinster
en verdwyn dan amper heeltemal
toe die lig verander.
Sy dra jeans
oop op die knieë,
‘n neusring amper te klein om te sien
en ‘n skilpadraam bril.
Die fee stap nader
en leun teen die sosioloog se duim,
arms gevou. Sy is kaalvoet.
Hy staar net, bang om te roer.
Jy’t my sandale, sê die fee.
Die sosioloog knik sy kop versigtig
terwyl die fee plat gaan sit
en haar sandale aantrek.
Wat’s jou gevolgtrekking? vra die fee
en vryf haar neus met effens opgetrekte bolip.
Die sosioloog skraap senuweeagtig sy keel:
jy bestaan nie.
Jou voet man!
antwoord die fee vrolik.
Sy klap die man se duim
soos sy ‘n ryperd se boud sou klap
en vlieg die sonlig in,
skielik soos ‘n skrikgemaakte vlieg.
© De Waal Venter