Dietloff van der Berg is op 30 Maart 1950 in Germiston gebore waar hy grootgeword en gematrikuleer het. Na ’n jaar in die Valskermbataljon is hy na Stellenbosch Universiteit waar hy sy BAHons voltooi en daarna as onderwyser by St. Andrews Kollege, Grahamstad begin werk het. Sy MA oor die digter Hans Lodeizen verwerf hy aan Rhodes Universiteit. In 1979 aanvaar hy ’n pos as lektor aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg waar hy sy PhD voltooi en tot hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands bevorder word.
Van der Berg het as akademikus die kursus Skeppende Skryfwerk in Pietermaritzburg ingestel waar hy 40 jaar lank Letterkunde en Vertaalkunde doseer het. Sy boeke oor letter- en taalkunde is lank ook in skole gebruik en hy was Moderator van die Gemeenskaplike Matrikulasieraad vir Letterkunde. Vir meer as 20 jaar is Die Skrywerskring in Maritzburg deur hom gelei. Hy ontvang in 2005 die Hoofstad Skakel Kultuurprestasietoekenning – Klas Goud vir sy diens in belang van die Afrikaanse gemeenskap. Hy publiseer al meer as vyftig jaar lank gedigte in tydskrifte soos Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde, op LitNet en Versindaba asook in versamelbundels soos in 2024 in flikker-gram en in 2025 in Merang.
Sedert sy uittrede as professor in 2010 kon hy hom op sy digkuns toespits. In 2023 word Rumi: Liefdesverse en aanhalings deur Naledi gepubliseer, en in 2025 verskyn Feesmaalgang wat ’n unieke beeld van die ontwikkelingsgang van ’n digterslewe bied, om saam te val met die eeufees van Afrikaans as amptelike taal. Hy was ook mede-administreerder van die Cordis Trust se Ghasel-kompetisie om gedigte in ’n minder bekende styl aan te moedig.