Hans Pienaar begin skryf gedigte op universiteit in die laat 1970s. Nadat die tydskrif Vlieg, waarvan hy die redakteur was, verbied word, hou hy egter op met dig en begin eers weer in 1996 skryf. Van sy gedigte verskyn in die Tydskrif vir Letterkunde en word ook opgeneem in Nuwe stemme 2. In 2002 verskyn sy debuutbundel, Die taal van voëls en word genomineer vir die Ingrid Jonker-prys. Hierop volg nog twee bundels: Notas uit die empire en Uithoeke / Outcorners, ‘n bundel fotogedigte wat die tydperk 1980 tot 2006 dek. Van sy gedigte word ook opgeneem in Groot verseboek. Hy is ook bekend as dramaturg, en het pryse en nominasies gewen vir Drie dosyn rose en Ching Chong Che. Ander stukke uit sy pen is Please tell us what’s going, please, Kom terug Saartjie en die onopgevoerde Die wortel van alle kwaad en Kruger se DNS. ’n Bundel kortverhale, Die lewe ondergronds het ook uit sy pen verskyn en hy was mederedakteur van die bundel dienspligverhale Forces Favourites. Hans Pienaar het vir tien jaar lank as spesialis in buitelandse sake by Independent Newspapers gewerk en is tans verbonde aan Business Day, waar hy skrywer van die blog “Africa” is. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Hy was ook die redakteur van die verbode bundel artikels Die Trojaanse perd, wat handel oor die noodtoestand in die 1980s in die Kaap. |
Laatmaart
Skollies bly meer tuis, luier tussen bome,
onder blare aan die uitsak by vergeel
verby, en die luggie wat altyd in die hoek
bly lê wil opstaan, wankelende wind.
Die kilte klim deur tralies en kom hang
Rond in die huis, volg ons stil-stil dog
met genoeg skimpe oor sy kouer broer
wat straat-af wag. Alles kry ‘n swaarder
skadu en ‘n valer vooruitsig. Gas druk
ongeduldig in loodpype en vuurhout
bak uit in stapels in die agterplaas.
Die eerste enjins stol, vensters begin
Die wasems vang. Vuiste knyp in sakke
En die skouers krom: Soos elke jaar
Is die winter vroeg reeds aan die kom
En Krismis kom ook alweer
En toe
Mara het vir Bertus gebliksem
bo van sy trollie af toe hy haar weer
probeer bykom, in sy knaters geskop,
met haar kasteelhakskoen, potblou
het hy gesit en vrek in Helen Joseph,
op die ou uiteinde van die saak
En toe
selfs die miere kry meer reg,
die dokters is so vertraag soos stroop
in ‘n yskas, wat al is wat werk, dit gaan
ook maar nukkerig, die visvingers taai
en die tamatiesous het voete gekry
en loop rond in laasweek se kouse
En toe
kyk ons die een soup na die ander
tot dit by jou ore uitloop en Lien my
vra om haar op haar slapende boud
te raps en ek dit maar oordoen net om
‘n bietjie meer lewe te prakseer voor
die son sak op nog ‘n dag
En toe
Boland kom kla oor die kondome
wat al weer op is, en kan ons nie soos
op lughawens ‘n masjien insit, of wat
van ‘n blompot, en hoekom is daar nooit
‘n skoon mes maar vurke lê soos lepels
in die laai of sit ook alewig vas
En toe
Gebeur so fokken min dat die sous
begin stol in die blinde hond se bak voor
jou oë, en Mara kom terug uit die selle
en sit daar soos ‘n zombie, en jy ruk haar
aan haar skouers, maar sy kyk jou net aan
asof more nog ‘n dag is wat moet kom
En toe
Was Bertus nog langer in die bed
En die kos raak op party dae, en alles raak
op of verdwyn, selfs die bed, en hy lê daar
in sy slaapsak, en brand kolle in die vloer
met sy sigaret, en as jy maar weer sien, trap
jy op sy hand dat hy tjank
En toe
Kom Krismis ook nog, maar eendag
lank, lank gelede in die toekoms in. En toe
dit verby is, toe trek die lug toe, en toe’t
ons begin wonder oor Nuwejaar, en so
het… en toe’s dit…
En toe
Kap Bertus net eendag om, maar ook
nie sodat jy dit kon hoor nie, sy lyk het glad
nie goed gelyk nie, breuk het die dom donner
dokters gesê, en ons is almal begrafnis toe,
en Boland het die hele tyd gestaan en oefen
aan sy das sonder om aan die kortste end te trek
En toe
het Mara net daar gesit,
beskuldigende kyke het sy die een na die
ander
van haar laat val soos blomme in die graf,
steeds
sonder om ‘n woord te sê, of ‘n pinkie te
beweeg, asof sy in ‘n rolstoel sit,
pleks van een van plastiek met
pote wat wil wegsink in die grond
Is vis
die woord is vis
ek vis hom met
my visstok
vis te groot: visdis
net vis wat klein is
lewe nog ‘n maal
vis vermis: visvry
al wat vis is
glip verby
vis onder water:
vis wat niks wis
haal die paal
vis sonder water:
vis wat vrot is
nie te vermy
die woord word
visstok, en vang
vir my, die vis
© Hans Pienaar. April 2011
Uit: Notas uit die Empire
Lank leef
En soveel eeue na Kublai Khan, en Iskender
en Veldmaarskalk Montgomery, en woestyne
ver van Hannibal, en spore gelaat soos Neil
Armstrong, en name wat voortrol en die een
magtiger as die ander. En mure met die skrif
daarop soveel maal uitgevee. En trone leeg
in museums, en boustene met die fluitende
wind om. En die gholfstokke vliert, en dig
die klamp om Buzz Aldrin se nek. Geskei
van sy vrou in die openbaar. Golwe klots
om Eisenhower se broek, met verbrokkelde
dokke wat in die deining dommel. Kioko
die kazekami fluister in Frau Eva se blou
ooglede: Ek is die brieserige gees, die ninja
in jou jassak. Dit is die einde, oor en uit.
Met nog groter gebaar is die hergeboorte
ook op ys gesit. Diana is gaan haal, Havel
moes die skeertuig sag laat neersyg op sand
gedreineer in die aand se skaduwees. Mao
was die seremonie se meester. Gutenberg pal
op diens. Bush het op al die stippellyne
geteken. Theseus het die berge laat antwoord
gee: Ek is dors weens gebrek aan kennis, die djinn
in jou tonikum. En aan die pote van duiwe
is die eerste manuskripte van die nuwe
ampskwartaal weer herroep met skote
dawerend in die stege en vere soekend
in die heliumlose dwarrellug. Foto-
prinsesse het knope vasgemaak. Selfs
die aftel is uitgestel tot verdere kennisgewing.
Hul het die empire dood verklaar? Leuens!
Blote versinsel! Kwaadwillige gerugte!
Die bewyse is in jou aktetas. Ek is
die aamborstige orator, die duiwel
in jou kattebak. Tweeduisend-tweehonderd
jaar tevore al het Tsjin Sji Hoeang ondergronds
geduik. Op die rug van dosyne pyle kom feite
aangevlieg: Lumiére sit die ketel aan.
Hitler Hunzvi skik sy das. In Kartoem
staan Gordon met sy been gekrink half-
pad by die trappe op. Pitagoras beskryf
geheime in sy My Documents. Spassky
verduidelik die spoed van lig aan wie
ook al wil hoor. Na dringende konsultasies
word ambassadeurs tot ridders geslaan.
Dis eenvoudig: Solank daar elektristiteit
op hierdie aarde van gods is. Solank
die nulpunt sonder huiwering (Allah
sy behaag) staan by sy aansprake. So
dikwels as wat die koeie gemelk word
in lugverkoelde stalle (Boedda bo).
So ver as wat die blote oog kan sien,
panteïsties ofte nie. Shakespeare is
die kommissaris van ede, Marco Polo
die doeanedokter, Hammoerabi houvas
die mikrofoon. Solank sekondes sekondes
is, en tril in hul orbitale soos Helena
van Troje op haar tone in haar desperate
striptease: Ek is die verdunner in jou bloed,
die asem van mag in jou murg.
Die empire is dood. Lank leef die empire!
Prozac dreams
… & ons was op reis in Amerika op
‘n noenmaalskip, ek & ‘n glansende
vrou wat glimlag soos ‘n kandidaat
op wie ek my vinger nie kon lê nie &
taypte wat nie onder my voete getrek
wou word nie & rye kelners staar van
die boonste dek & gange word langer
as ‘n katedraal & sy ontvoer my op ‘n trein
waar hulle performance art aanbied
asof in ‘n graf onder ‘n vloer van glas
& kondukteure wag verniet met fluitjies
sou passassiers hulle skaam &
skielik verskyn ‘n enkelspoorbrug
waar ‘n loods hom pas verongeluk het
in sy fratsvliegtuig want hy wou nie
aanvaar dat spoed sy beperkinge het &
volgens ‘n persvrystelling teen ‘n koffiekan
is dit seks wat verligting bring, dog slegs
al fresco in die blote oog van eistedfodds
gekeur deur taxidrywers wat nie links of regs
kyk & terwyl senuweeagtige wolkekrabbers
vasgevang in argitekturale poses nader-
storm & mekaar begin skouer onder borde
wat sê Houston en Austin en Nwork,
wys die performance artists hoe voer
‘n mens fellatio uit sonder lank & uitgerekte
voorbereiding & asemloos & hoe swem
‘n mens teen die gety & uiteindelik kom
ek die vergissing agter: Ek had die verkeerde
toespraak by ‘n maatskappyresultateskemerkelk
& is daarom geostrasieer & verbied om
my stoel se kussing op te slaan & sy’t
haarself telepaties verbeurd verklaar &
verneder & toe sy eers weer opstaan uit
ons bed het sy haar borste nooit, maar
nooit weer verberg nie ten spyte van meter-
lesings in myle & hoewel ek by die regte
stad afgeklim het was daar niemand om
my terug te stuur nie…
… op waters van rus
het ek my verlaat
en die blus van vure
het my veel gebaat…
… ek het haar nooit weer gesien nie.
… & daar was die kreupele & versmelte
ondieragtige man, drywend in die poel
van homself & in ‘n moeras van suur
waaroor die dampe staan & blomme
bloos soos lotusse & slingerplante
met opdrifsels van harige takke besig
om te kwyn in die viriele water & hy
smeek my om hom dood te maak &
minstens te help om selfmoord te pleeg
& ek vlug weg na ‘n drieverdiepinghuis
wat tuur onder die rokke van valleie
& laat my bedien deur ‘n siniese
kelner & ‘n geleerde in ‘n panamahoed
verduidelik hoe wesens in ‘n poel suur
sou kon bestaan & ‘n slanke vrou gooi
haar hakke omhoog soos die bekke
van hees hadedas en staan op haar
een hand sonder om ‘n enkele tertjie
te versteur & almal dra wit pakke
met dofgeel/doforanje/dofblou dasse en
wit tekkies oor hul bokpote & ek bevind
my in die tuin onder ‘n damwal waardeur
liplekkende water kwispel & weer eens
is die selfmoordsugtige suurman daar,
vermom as ‘n huilende dolfyn & hy
lewer ‘n betoog oor die meriete van
schadenfreude & ek laat hom agter
waar hy probeer om sy arms te flap
& soos ‘n vergeefse psalm weer op
in die keel te spring & terug
by die lotusblomme gaan stap ek
op hulle & strek my uit soos in
‘n Henri Rousseau skildery….
… as ontwapende
het ek my ingehuldig
en as ontslapende
het ek my ingerig…
… my aalmoese het opgeraak.
… & desondanks moes ek my aanmeld as
soldaat in nog ‘n Engelse oorlog, maar met
meer kanonne & groter troepe & hulle
het gestrek van die een einder na die ander
& ek moes myself inwurm tussen ‘n klomp
kortbroeke met rooi knieë & lê & wag
terwyl getroue lorries goed oplaai & aflaai
tot ek naderhand met ‘n klimop by ‘n krans
afklim & tennis speel met ‘n vrou in ‘n burka
wat die bal slaan sodat haar enkels wys
suggestief & die onkruid in krake vernietig
soos insekte op ‘n ruit, waarna ek beveel
word om te gaan veg in ‘n hotelkamer
blou van die bloed van aristokrate &
ek het my bajonet in ‘n wagtende gat
gesteek met bakstene wat uitpeul & tot
my stomme verbasing is daar ‘n sigeuner-
bruin meisie wat aan die anderkant skuil
& ek moet haar sonder losprys ontvoer
hand aan hand, swart rok vol stof & nadat
ek haar gered het verby sinjale in rooi
& groen op ‘n boot lig sy die rok & ons
staan en kyk na die wolkekrabbers van
Manhattan & sy wys my van agter af haar
kwak, maar ek sien net ‘n swart spleet &
terwyl ek wag op die volgende jump cut
begin ek & ‘n makker al geselsend leopard
crawl oor die kwarts met ‘n offisier wat staan
& swets in die bek van sy kanon, vuurfakkel
in die hand & ‘n Land Rover met ‘n pantsersnoet
in kakie huil teen die koppie op en vreet
klippe soos ‘n gemartelde vark…
… in mildelike seë
kon ek my was
en langs wye weë
onthef van my las…
… en daar was geen trane meer.
Tromsolo
Middernagson, Tromso, 2005
In die somer flits ek oor die kranse
van die laaste ys, ‘n tandarts met my spieël
en akkurate lig, grawe ek in die wortels
van nuwe groeisels, vee watervalle op
wat oor berge kwyl, en die sneeuplaak
– ‘n ou mond vol roomys. Ek omsingel
soos syfers aan gewrigte, of ‘n outokraat,
die plein vol dorpsfluite, poleer die horings
gratis en verniet. Ek prik aan ‘n blonde wang,
‘n kind se ballon, om die hoeke van huise
vroetel ek vir los krone in ‘n vensterbank.
Toegewyd is ek aan my loopbaan. As die aand
aanbreek, maak almal alles toe asof die winter
nog daar is. Ek bly agter, soos ‘n wit jas
by die kroegdeur opgehang, uit gewoonte.
Ek dwaal deur leë strate, eindig waar ek was.
‘n Dief in my eie middernagte, op my eie pas.
Maaglandskap
Skielik, soos die kontoere op ‘n kaart:
Die rimpels op jou maag in die trekkings
van jou liefdeskramp. Dit sidder en plat
weer uit onder my handpalm. Windvlae
oor die sand. Are sprei soos modderkrake.
Voorspellings van droogte, maar die dors
in my vingers word steeds geles in jou
oase. Op die punt van my tong talm
woorde om die bakens van jou tepels.
My gedagtes gaan na putte sink
waaruit nuwe waters wel, spore stip
oor jou vel, en as ons ‘n nuwe woestyn
moet bevaar, sal my buie luier oor jou
leegtes, tot hul oor jou duine breek
in oubekende reën.
© Hans Pienaar. Feb. 2010
Die taal van voëls
In die taal van voëls herhaal herhaal veral
die weleer en weë van veel verveer en brose
neurose op vaal verwinterde versplinterde tak
en twyg in ‘n skraal repertoire van gebare gebaar
in verledes nie gespaar nie gespaar piet piet
my vrou hoe vergeet jy my so gou so gou
verledes uit hedes geledig behalwe vir jan
fiskaal wat aan draad en paal en paal en
draad sy taks en swaarverdiende winste span
verledes waarin hedes hul eie sedes beledig
en toekomste gepypkan het soos koekoek
die kloek verneuk-my-nou. Dit wil sneeu, wil
sneeu, skreeu die spreeu, eet spinasie vir die
migrasie, sê die ganse sneeuganse nasie, hul
hink en hul pink in ‘n sporesproei half dom
en half doof geknoei, ‘n ander jan is pierewiet,
soos sneeu soos sneeu is sy papiere wit, maar
waar’s die ring aan die duif se klou?
die verbasende arende bespied puur verniet
hul spergebied en bekiek vergeefs elke piek
en kriek en suid van spruit en oos van kroos
en noord van moord kokkewiet kokkewiet
wil ok weet wil ok weet: Jy kan die kwartel
martel tot hy spartel, maar waar is die vele
vervalle vere wat die voël sal maak? Vervlieg
vervlug oor see en oor lug, net ‘n pluim bly
oor vir die kok wat so met die oorskiet toor
Hoender is ‘n tronkvoël in ‘n stronkhool
dag in en dag uit en nag in en nag uit en
mik en pik en druk en week op week en
maand na maand en druk en sluk en mik
en pik en druk en skrik en gereed wil sy
wees vir die volksmoord. En wie is vryer die
reier of die eier en wat kom eerste die sout
of die boud en wat is genade: Geboorte
of al die soorte ommesientjie ommelette?
Vir dink verdink die visvanger, hoe swanger
is gedagtes nie … hoe langer hy wag hoe
banger raak die woorde wat nie wil kom
nie wil kom. Pruil die vuil uil in sy misterie
van ‘n ministerie: Ornitologies en ontologies
is dit onwenslik om voëls te veel te vermenslik,
te veel oumas met traumas, elke taal en tyding
het sy belydenis van lyding en oor die waarde
van woorde is veels te veel ongehoorde akkoorde
Net die papegaai sê windlawaai windlawaai
die stres van huisarres maak my bles maar
ek het die deurbraak gevind in alleenspraak:
Die mens raak diep gekwes en vreeslik gepes
deur die skrou van die groublou pou en die krys
van die smartswart kraai, geen taal van voëls
geen verhaal wat faal sal help: Net luister wat
hy in sy spieël kom fluister, en hom in ‘n fraai
kabaai in ‘n ougou kou van sy eie woorde paai
© Hans Pienaar